Читать книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira - Страница 5

Оглавление

Inleiding tot die Afrikaanse poësie

Die Afrikaanse uitdrukking “iemand is vuur en vlam” verwys na iemand wat baie opgewonde en entoesiasties is. Hier­die bundel se titel is aan dié uitdrukking ontleen. Dit maak gebruik van woordspeling deur ’n deel van die bekende uitdrukking te behou en ’n ander deel te vervang. Dink aan ’n gedig soos aan ’n vlam. Wanneer ’n vlam aangesteek word, verdryf dit die koue en donker, daar is lig en waarde wat veel verder as die vlammetjie strek.

Wat bied Vers en vlam?

Vers en vlam stel jou in staat om te beleef hoe Afrikaanse gedigte kreatief, intelligent en vindingryk met die taal omgaan. Jy sal die geleentheid kry om die taal te hoor, te lees en te skryf en só te leer hoe taal gemanipuleer kan word om iets te beklemtoon en bykomende betekenis daaraan te gee. Die studie van elke gedig is verdeel in pre-lees, lees en post-lees om die verskillende fases van begrip te vergemaklik. Die doel is nie dat jy die “regte antwoord” sal vind nie, maar dat jy sal leer hoe om te verduidelik waarom ’n woord, frase of gedig ’n bepaalde betekenis vir jou skep. Ook sal jy leer dat gedigte mens kan ontroer, vermaak en jou verbeelding gaande maak. Jy sal ook die geleentheid kry om oor die tema of sentrale gedagte in verse na te dink en te sê of jy daarmee saamstem, daarvan verskil of heeltemal ’n ander mening huldig.

Wat is poësie?

Skeppende skryfwerk word ook fiksie genoem. Dit verskil van niefiksie in die sin dat dit nie net met feite werk nie, maar in die besonder met verbeelding. Fiksie kan verdeel word in prosa, drama en verse. Laasgenoemde is die afdeling wat in Vers en vlam verken word. Daar word ook na verse as poësie of gedigte verwys en al drie hierdie benamings kan gebruik word.

In verse word taal só gebruik dat dit meer betekenis skep as wat die woord of frase in niefiksie kan. Die geheim is om met so min as moontlik woorde soveel as moontlik betekenis te skep. Poësie is so ’n gekonsentreerde vorm van taal dat dit as ’t ware taal onder die mikroskoop is; selfs ’n lettergreep kan meewerk tot ’n nuwe of breër betekenis. Elke spasie, leesteken, beklemtoonde woord, weglating van ’n woord, stylfiguur, ritme, rymwoord en herhaling dra betekenis.

Ook die vorm van ’n gedig skep betekenis. Deur die eeue heen het vaste vorme ontstaan, waaronder koeplette, tersines, kwatryne, sonnette, haikoes, limerieke en ballades. In hierdie versvorme kan die leser ’n vasgestelde rympatroon verwag, asook ’n vasgestelde aantal versreëls en strofes. Wanneer daar van hierdie vorm afgewyk word, skep ook die afwyking nuwe betekenis, omdat dit indirek kommentaar lewer op die vasgestelde vorm. Vorm en inhoud kan egter net kunsmatig geskei word: Die wending – die versreël waarin die leser van iets nuuts of onverwags lees – verskyn gewoonlik in ’n vasgestelde strofe of versreël. Gewoonlik gaan hierdie inhoudelike wending ook saam met die een of ander wending in die aantal versreëls of rympatroon. Later het die vrye vers ontstaan, wat nie gebonde is aan rym of ’n vasgestelde aantal versreëls nie. Hoewel die vrye vers nader aan prosa of drama is, is dit steeds opsigtelik korter en gebruik dit steeds een of meer van die ander verstegnieke.

Literêre begrippe

In die studie van poësie het daar deur die eeue heen terminologie ontstaan wat dig­vorme en tegnieke beskryf: kwatryn, assonansie, ensovoorts. ’n Lys van hierdie begrippe en verduideliking daarvan verskyn agter in die boek onder die opskrif Glossarium. Dit is net prakties om hierdie terminologie onder die knie te kry, want só word daar met een woord ’n begrip beskryf wat andersins elke keer op omslagtige wyse beskryf moet word. Die maklikste manier om dit te doen, is om dadelik die glos­sarium te raadpleeg wanneer jy op ’n begrip afkom wat jy nie verstaan nie. Saam met die verduideliking daarvan kan jy dan in die gedig ’n voorbeeld daarvan sien. Voorbeeld en verduideliking is die beste manier om nuwe begrippe te leer ken.

Poësiegeskiedenis

Binne die groter raamwerk van ’n land se geskiedenis het die tale in die land ook ’n literatuurgeskiedenis. En binne die raamwerk van ’n literatuurgeskiedenis het die Afrikaanse poësie ook ’n geskiedenis. Dié poësiegeskiedenis is interessant, omdat dit ’n gedig en die digter vir ons in ’n periode plaas. Party digters het egter die periode waarin hulle begin publiseer het, “oorleef” deurdat hulle nog vir dekades daarna gepubliseer het. Om jou ’n digter in sy leeftyd te help plaas, word digters se geboor­te­datum aangedui met ’n * by die biografie geplaas en, indien van toepassing, die sterfdatum ná die simbool aangedui met ’n †.

By elke digter word die literêre pryse wat deur hom of haar verower is, vermeld, omdat dit deel van die literatuurgeskiedenis is. Dit beteken egter nie dat digters wat geen pryse verower het se werk minderwaardig is nie. Toekennings dui konsensus onder letterkundiges oor ’n skrywer se werk aan, maar binne ’n bepaalde jaar kan daar byna net sulke goeie werk gepubliseer word wat nie bekroon kan word nie, omdat daar binne ’n afgebakende periode (soos die prys se reglemente bepaal) net een prys toegeken kan word en net in sekere gevalle kan die prys gedeel word. Die eenvou­digste vers kan vreugde verskaf of mens laat nadink. Ook die digter se akademiese kwalifikasies en ervaring wat by die biografie vermeld word, moet nie as ’n maatstaf vir die digter se bekwaamheid gesien word nie. Dit is bloot interessante en wetens­waardige besonderhede oor die mens agter die gedig.

Dit is wel waardevol om tydperke binne ’n poësiegeskiedenis te onderskei, omdat mens daaruit kan aflei watter temas in so ’n tydperk vir die eerste keer aangeroer is en watter invloed dit op die digter se taalgenote en mededigters gehad het.

Net een voorbeeld hiervan: Enoch Sontonga het in 1897 “Nkosi sikelel’ i-Afrika” in Xhosa geskryf. In 1946 verskyn dit in die Afrikaanse poësie toe H.A. Fagan dit in ’n gedig verwerk. Dié pleitgedig vir eenheid in Suid-Afrika was die voorloper van Afrikaanse digterstemme teen apartheid wat sedert die 1960’s in die poësie sou opklink: onder andere Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en Adam Small. In die 1980’s het strugglepoësie daarby aangesluit met gedigte van onder andere Peter Snyders, Patrick Petersen en Antjie Krog.

Van die vroegste Afrikaans is sedert 1870 in versvorm gepubliseer. Hierdie gedigte is nie in Vers en vlam opgeneem nie, omdat dit in ’n baie ou vorm van Afrikaans verskyn wat kennis van Nederlands vereis om dit te verstaan. Dit is voldoende om te weet watter gedigte en digters uit hierdie tydperk kom: F.W. Reitz, Pulvermacher, Arnoldus Pannevis, C.P. Hoogenhout, S.J. du Toit en J. Lion Cachet. In Die Genootskap vir Regte Afrikaners, wat in 1875 gestig is, se koerant Di Afrikaanse Patriot het daar sedert 1876 ook verse verskyn oor politieke, sosiale en historiese sake.

Sedert die begin van die jare 1900 was Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, Jan F.E. Celliers en Totius in die Afrikaanse verskuns aan die woord. Die natuur, Afrika-­folklore, Oosterse kultuur, die Anglo-Boereoorlog, patriotisme en godsdienstige besinning is van die belangrikste temas in hierdie tyd.

Die Afrikaanse digters wie se werk sedert 1930 verskyn het, het as die Dertigers bekend gestaan. Van die bekendstes was N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers, C.M. van den Heever en I.D. du Plessis. Die benaming Dertigers kan egter misleidend wees, omdat hierdie digters nog vir dekades daarna gepubliseer het. Ander stemme het gaandeweg by hulle aangesluit en die Afrikaanse poësie verruim, onder wie D.J. Opperman, Adam Small, Peter Blum, Sheila Cussons, Wilma Stockenström, Antjie Krog, Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach.

Tydens die jare 1960 is daar van die Sestigers gepraat, van wie Jonker en Breytenbach die bekendste was. Hulle het veral van die vrye vers gebruik gemaak en politieke verset was sentraal in hulle werk. Maar Breytenbach, Stockenström en Krog publiseer tydens die verskyning van hierdie bloemlesing steeds en hulle jongste werk kan nie as deel van die Sestigerbeweging beskou word nie.

Dit is dan ook nie realisties om een of meer temas te koppel aan verse wat sedert 1930 tot vandag verskyn het nie. Daar kan wel breedweg gesê word verse sedert hierdie tydperk werk met ingewikkelder tegnieke en diepsinnige vraagstukke oor die mens se plek in die wêreld, godsdiens, asook vrae oor apartheid. Laasgenoemde het sedert 1960 al hoe sterker op die voorgrond getree. In die 1980’s het struggleverse – wat oor die noodsaak van politieke bevryding en die ongeregtigheid van apartheid handel – ’n belangrike plek in die Afrikaanse verskuns begin beklee.

Dekades lank is verset teen apartheid deur gedigte verwoord en dit is nie verbasend dat Afrikaanse digters weer eens deur die skryfkuns kommentaar lewer op eietydse maatskaplike toestande en figure nie. In Marlene van Niekerk se bundel Kaar verskyn verskeie gedigte oor onder meer polisiegeweld en korrupsie en Antjie Krog verwoord in haar gedig by oudpresident Mandela se dood wat ’n slag dié geliefde staatsman se dood vir Suid-Afrika was.

Soorte Afrikaans

Voor die 1950’s het slegs gedigte in Standaardafrikaans verskyn. Kaapse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans was egter nog altyd deel van Afrikaans hoewel dit eers in die tweede helfte van die twintigste eeu in gepubliseerde vorm begin verskyn het. Dit is deel van die Afrikaanse kultuurskat en daar verskyn jaarliks al hoe meer daarvan.

In Kaapse Afrikaans kom heelwat Engelse woorde voor en dit het soms in Kaapse Afrikaans ’n ander of ruimer betekenis as in Engels. Dit kan geensins as “onsuiwer” Afrikaans beskou word soos wanneer iemand Standaardafrikaans praat en Engelse woorde tussenin gebruik nie. Daar kom ook talle woorde uit Oosterse tale in voor. Dit is net so deel van Kaapse Afrikaans soos woorde uit Oosterse tale wat in Standaardafrikaans voorkom. Griekwa-Afrikaans vertoon ouer vorme van Afrikaans en woorde uit die Khoi- en Boesmantale. Hou in gedagte dat Kaapse en Griekwa-­Afrikaans meestal foneties gespel word – dit wil sê soos dit uitgespreek word – en die spelling daarvan wissel.

Kaapse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans word nie meer net in die Kaap en/of Namibië gepraat nie en dit is nie noodwendig die huistaal van digters wat in hierdie vorm van Afrikaans skryf nie. Sedert dit in gepubliseerde vorm verskyn en tans ook in media soos Facebook gebruik word, het die seggingskrag daarvan na alle Afrikaans­sprekendes versprei.

Die kanon

Die kanon (spreek uit “kaanon”) hou verband met literatuurgeskiedenis. Dit is daar­die gedigte wat sedert die ontstaan van Afrikaans so bekend geword het dat dit sinoniem met Afrikaanse poësie is. Hierdie gedigte word jaar ná jaar in versamelbundels opgeneem, telkens vir bestudering uitgesonder en telkens aangehaal en die digters se ander werk is so bekend dat hulle nuwe werk dadelik belangstelling uitlok. Sommige van hierdie gedigte het bekendheid verwerf omdat dit oorwegend die verstegniek daarin is wat so treffend is, ander omdat die inhoud daarvan tot soveel mense spreek. Die grootste verse is uiteraard dié waarin tegniek sowel as inhoud daartoe bygedra het dat dit onder poësieliefhebbers se gunstelinge tel.

Maar ’n kanon is iets lewends, want daar verskyn voortdurend nuwe gedigte en lesers se opvatting van wat goed en minder goed is, wissel en brei uit. In hierdie bloemlesing is daar dus ook verse opgeneem van digters wat nog nie so bekend is nie, maar wie se werk knap is en oor dinge handel wat in ons tyd belangrik is.

Sedert die tagtigerjare verskyn ook die Afrikaanse liedteks op die toneel. Alle lirieke wat deur moderne sangers gesing word, is egter nie sonder meer geslaagde verse nie. Rym en ritme wat nie bykomende betekenis aan woorde gee nie, is nog nie ’n vers nie. Van hierdie sangers se werk wat groot byval gevind het en wel ook as verse bestudeer kan word, is die bekendste name Koos du Plessis, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en David Kramer.

Keuse van gedigte

In Vers en vlam is gedigte uit al die soorte Afrikaans opgeneem wat die belangrikste versvorme, literêre tydperke en temas in die Afrikaanse digkuns verteenwoordig. Só word daar ’n vlam aangesteek wat lig werp op die geskiedenis, op die heden­daagse samelewing en verhoudings, asook op ontwikkeling en verstegnieke in die Afrikaanse poësie.

Verse lees en skryf

Digter sowel as leser het ’n aandeel aan die gedig. ’n Vers op skrif bestaan net gedeeltelik. Dit is eers ’n volledige vers wanneer iemand dit gelees het, verstaan watter betekenis dit oordra en die tegniek waarmee hierdie betekenis geskep is, begryp. Die digter steek ’n vlam aan, die leser sien en voel dit. Dan eers is dit ’n ware vlam van ’n vers. Kom deel in die fees van lig en hitte.

DIE SAMESTELLERS

Vers en Vlam

Подняться наверх