Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 11
5
ОглавлениеKATRIEN HOU FRANSIE DEUR DIE KOMBUISVENSTER DOP. Hy speel in die agterplaas met ’n houtwaentjie wat sy oupa vir hom gemaak het, laai dit vol klippies en stoot dit oor die grondpad wat hy met sy hand skraap.
Sy gaan uit, loop nader met haar groot, swanger lyf en gaan op die houtbank langs hom sit. Dis heerlik hier buite onder die peerboom. Sy sal in die rukkie voor die baba kom, vir oulaas rustig en sommer net lui wees, want sy weet nou wat vir haar voorlê.
Gerrit is vanoggend met ’n geleende perd oor Helshoogte om een van sy leerlinge se ouers te gaan besoek. Hulle boer teen die agterste hang van Simonsberg en die pa wil hê sy seun moet die skool los om met die boerdery te kom help. Gerrit gaan hom probeer oorreed om die elfjarige kind nog ’n jaar of twee kans te gee, want die seun is skrander en gretig om in die skool te bly.
“Kyk, Mamma,” sê Fransie, “ek het my wa volgelaai.”
“Ek sien so. En wat is dit wat jy daar in jou wa het?”
Hy kyk ernstig na haar. “Ek sal anderdag sê.”
“Pampoene, miskien? Of druiwe, soos wat Oupa—”
“Katrien!” Dina is in die agterdeur, haar oë vol skrik.
Katrien vlieg orent, struikel oor haar rok se soom, maar behou genadiglik haar balans en drafstap nader. Die dokter en sy vrou, Elaine, verskyn agter Dina. Hulle gesigte wys duidelik hulle is nie op besoek nie.
Elaine vou Katrien in haar uitgestrekte arms toe. “My kind.”
Dis slegte nuus. Ma? Broer Johannes? Of …? Katrien snak na asem. “Gerrit?”
“Kom.” Dokter O’Flinn vat haar arm en lei haar na die rusbank in die voorhuis. “Sit eers hier.”
Sy kyk na die twee gesigte langs haar. “Is dit Gerrit? Sê vir my!”
Elaine hou haar hand vas. “Ja, my kind. Gerrit het teenspoed gehad.”
Katrien se kop duisel en sy gly van die bank af, maar die dokter gryp haar voor sy op die vloer beland.
“Bring water.” Hy tel haar op, dra haar kamer toe en lê haar op die bed neer. Toe haal hy ’n flessie uit sy drasak, voeg ’n paar druppels by die water wat Dina bring en hou die beker by haar mond. “Drink, Katrien.”
Sy sluk werktuiglik.
Ook toe Elaine en Dina haar klere uittrek en ’n nagrok vir haar aantrek, is sy nie betrokke nie. Dis iemand anders se nagmerrie waarop sy van baie hoog af neerkyk.
Sy lê terug op haar en Gerrit se dubbelbed.
Waarom skop die kind nou so erg? Dit laat haar onthou van haar ander kind. “Fransie. Waar is hy?”
“Nog buite,” antwoord Dina.
“Gaan kyk wat hy doen,” sê die dokter.
Katrien voel haar lyf effens skietgee. Die druppels begin seker werk.
“En Gerrit?” wil sy weet.
Die dokter vat haar hand. “Sjt, Katrien, rustig nou. Ons sorg eers vir jou baba.”
Sy beur regop. “Maar Gerrit, wie is by Gerrit?”
Hy vermy haar oë en sy kyk verby hom na Elaine.
“Dit was ’n ongeluk, Katrien,” sê Elaine. “Die perd het geskrik daar op Helshoogte en onder Gerrit padgegee. Hy het met sy kop teen ’n rots geval.”
“Nee!” bars dit uit haar keel en haar lyf trek inmekaar.
Pyn verswelg haar en sy weet nie of dit uit haar hart of uit haar buik kom nie. Dit spoel in ’n vloedgolf dwarsdeur haar. Met rukke verloor sy haar bewussyn, dan is sy weer terug in die kamer, binne-in die nagmerrie.
Sy is besig om in kraam te gaan, veels te vroeg.
Sy gaan die kind verloor.
Vir ure stoei sy met haar angs en met die pyn. Die dokter en sy vrou probeer haar kalmeer, haar troos. Maar daar is nie vioolmusiek wat haar bystaan nie.
Gerrit is nie meer hier nie.
Swart kraaie, afgeëts teen die kerkmuur. Dis hoe die mense lyk met die son wat verblindend van die afgekalkte muur terugkaats. Katrien druk ’n sakdoek teen haar oë. Klou met haar ander hand aan Fransie se handjie vas.
Haar kop ’n lugleegte, is sy net van die louwarm straaltjie bloed langs haar binnebeen bewus. Sy kan dit net so min keer as wat sy eergister die klein lewe in haar liggaam kon vashou.
Ou Dominee se stem raak stil en oorkant die graf skuifel ’n groepie kinders nader aan mekaar. Die seun wie se pa hom uit die skool wil neem, staan voor met kisklere aan en hare plat agtertoe gekam. Hy lyk onseker, gee nietemin die noot en al agt monde gaan oop. Hulle sing die “Aandgesang” wat Gerrit vir hulle geleer het. Sonder begeleiding, nes Katrien dit die afgelope maande gehoor en haar daarin verlustig het.
Die klanke kerf haar stukkend van binne en sy verstewig haar greep op Fransie om regop te bly, kyk af in die kind se blou Gerrit-oë. Dit staar vraend, byna verwytend na haar terug.
Haar ma en Dina haak weerskante by haar in en lei haar weg. Fransie bly by sy oupa en ouma agter.
“Dokter het gesê sy moenie opstaan nie,” verwyt Katrien se ma.
Dina sê niks, hou net vir Katrien vas tot by die huis en help haar terug in die bed.
Voor uitputting haar oorval, probeer sy weer losbreek van die werklikheid, vlug van Ou Dominee wat met woorde die holtes in haar kop probeer volmaak, weg van die mense in rouklere wat onder die son verskroei om hulle geliefde orrelis te begrawe, onderwyser vir agt kinders.
Gerrit is hier, sy hande op die orrel se klawers en son op sy hare. Sy oë kyk na haar met deernis, met lag, met liefde en passie. Sy kreun en klou aan dié beeld vas, veg teen die twee kiste langs mekaar op die bar aarde – een groot, die ander bitter klein.
God, hoe kan dit wees? Nie net Gerrit nie, ook ons kind.
In die kombuis raak Dina onrustig. Hoekom is dit so stil?
Sy loop op haar tone kamer toe en lig die gordyn voor die venster om seker te maak Katrien haal nog asem. Langs die bed bly sy staan en kyk af na die geelbruin hare wat uit die bolla losgekom het en oor die kussing oopgesprei lê. Hartseer klou aan Katrien se wange en druk haar sagte mond saam tot ’n bondel wanhoop.
Die kind wat altyd die voortou geneem het, die vrou na wie Dina die afgelope jare opsien, lê platgeslaan hier op die bed. Niks het nog ooit vir Katrien so swaar getref nie. Ten spyte van haar tingerige lyf het sy soveel weerstand gehad. Haar wonderlike verbeelding het haar laat uitreik na die lewe, na ander. Sy het Dina ’n trappie hoër gelig om hier in haar en Gerrit se huis soos ’n suster te word. En nou?
Gerrit is begrawe sonder ’n enkele noot uit die orrel. Erger nog, daar kan nie meer ’n skool wees nie. Nooit weer sal Dina die skoolgoed uit die laai haal en dit saam met Meester se boeke op die voorhuistafel uitpak nie. Sy sal nie weer saam met die handvol kinders aansit om te sing, te leer reken en van al die ver plekke op die aarde te hoor nie. Holland, met sy sneeu en gragte, sal nooit weer deel van haar lewe wees nie. Gerrit is dood.
Benoudheid pak haar beet en sy vlug uit die halfdonker kamer met die toegetrekte luike terug kombuis toe. Kyk by die venster uit op die agterplaas waar laventelbosse die beddings wortels, bone en uie van mekaar skei.
Waarom het die perd juis daar by die groot rotse geskrik en op loop gegaan? En waarom moes Katrien meer as ’n maand voor haar tyd kraam? ’n Meisiekind was dit en die miaau-geluidjie in die kamer was gou stil. Doodstil.
Dina stoot haar gedagtes saam met haar gevoelens eenkant en haal die voorskoot van die haak af, vee vlugtig daarmee oor haar gesig en bind dit om haar lyf. Sy moet planmaak met die eetgoed wat mense al van vroegoggend af aandra. Soutvleis, bonesop, al dié “troos” pak sy agter die gaasdeure van die koskas weg dat die vlieë dit nie kan bykom nie. Toe pak sy fynhout op die kole in die oop vuurherd en buk om die vlammetjies aan te blaas.
Die water moet aan die kook kom. Netnou is die begrafnisgangers hier en hulle sal uitsien na iets om te drink.
“Ek ry Sondag ná kerk saam met Johannes-hulle terug plaas toe,” sê Katrien se ma twee weke later. “Johannes sê die vrugte word ryp en Maria en Aurora sal nie kan bybly met inlê en konfyt kook nie.”
“Dis goed, Moeder.” Sy sien die twyfel op haar ma se gesig en voeg gou by: “Ons sal regkom hier.”
“Julle kan mos maar saamkom. Daar is baie plek en jou kamer staan leeg.”
“Dankie, Moeder, maar ek moet met my lewe aangaan.”
“Jy lyk ook vir my nog glad nie sterk nie,” hou haar ma vol. “Daar op die plaas kan julle elke dag vars groente en vleis eet.”
Dis nie kos wat ek nodig het nie! wil sy skree, maar bly stil.
“Gelukkig is Dina hier by jou en sy is Aurora se kind; hande staan vir niks verkeerd nie.”
Katrien knik. Sy is eindeloos moeg en wens haar ma is al weg dat sy kan gaan lê wanneer sy so voel. Haar ma bedoel dit goed, maar dis uitputtend om onder een dak saam met haar te wees.
“Tant Aletta kan ook darem ’n ogie oor jou hou. Die gemeente sal nie weer ’n leraar soos Ou Dominee kry nie, wat nog te sê so ’n pastoriemoeder.”
“Nee, hulle sal nie.” Niemand kan vervang word nie, veral nie Gerrit nie. Ook nie jou baba nie. Hoe kan sy sonder Gerrit voortgaan, die man wat haar lewe met sy liefde en begrip volgemaak het? As hy nooit weer saam met die kinders in die voorhuis is nie, nooit weer viool speel nie, ook nie met Fransie aan die hand straataf stap nie. Hoe kan sy bestaan as hy haar nooit weer vashou, haar kop tussen sy hande neem en haar soen nie? Sy asem met die geur van wind oor die veld is vir altyd weg.
“Ek stuur gou vir Dina om koffie te gaan koop,” dring haar ma se stem tot haar deur. “Elaine sê Dietz se winkel het lekker koffie ingekry. Dan los ek sommer vir julle ook daarvan.”
“Goed, dankie, Moeder.” Dit is duidelik sy is nou haastig om terug te gaan plaas toe. Party vroue aard nie op die dorp nie en ander haat dit om op ’n plaas te bly. Maar sy sal dit nooit vir haar ma sê nie. Tant Aletta is die enigste een teenoor wie sy dit al genoem het.
Dit is ’n windstil dag in die begin van Junie. Dina het afgedek en is besig om die borde in ’n erdeskottel te was. Fransie het by Katrien gaan lê om ’n storie te hoor. Nou slaap hulle seker, want die huis is doodstil. Dina kan behoorlik die mure hoor asemhaal wanneer haar hande nie met die breekgoed in die water werk of dit opmekaar stapel nie.
Deur die venster sien sy die agtertuin kry swaar, want die winterreën was nog baie skraps. Kruie staan verlep en slegs een stoel uie het in die groentebedding oorgebly. Bone en wortels is lankal afgeoes en in flesse ingelê, maar sal dit genoeg wees tot volgende somer? Gelukkig stuur die dorp se mense gereeld iets en Johannes bring ook kos wanneer hy dorp toe kom.
Sy tel ’n stoflap op en gaan voorhuis toe, begin by die boekrak waar Gerrit se boeke twee van die drie rakke vol staan. Noudat hy nie meer hier is nie, werk sy nog versigtiger daarmee, soos met baie siek mense. Daar is donkergroen boeke met goue letters op die rugkant en ook lywige bruin volumes wat sy met moeite kan optel. Almal ou bekendes.
Een vir een stof sy dit af en maak elkeen weer mooi op sy plek staan. Toe sy klaar is, gaan kniel sy voor die muurkas en trek die groot laai oop. Die skoolgoed is alles hier, heel bo die wêreldkaart wat Gerrit nog laas met sy lang vingers opgerol en gebêre het.
Sy haal dit uit en meteens gee iets in haar lyf mee. Sy is plat op die vloer en trane begin oor haar wange loop. Sy gee haar oor aan hartseer.
“Wat makeer, Dina?” Fransie het uit die kamer gekom en vat aan haar skouer. “Hoekom sit jy op die vloer?”
Sy snuif, skud haar kop en probeer glimlag. “Ag, sommer. Dis niks nie.”
Hy begin deur die boeke en ander skoolgoed snuffel wat sy nog wou uitpak, kry die ABC-boekie en maak dit oop. Vir ’n hele ruk beskou hy die prent van ’n haan op die binneblad. Toe kyk hy op na haar. “Kom ons speel skool. Jy kan die meester wees.”
“Ek is dan ’n vrou?”
“Jy kan mos al lees en ek nie.”
Opgewondenheid roer in haar. “Nou goed dan.”
Aan die begin speel hulle, maar algaande word dit meer. Dina begin voel soos ’n regte meester en sy bars uit van die lag toe sy haarself betrap dat sy nes Gerrit praat en beduie.
Fransie lag saam, al weet hy nie waaroor dit gaan nie.
Sy sal haarself moet dophou om nie slimmer as die boeke te wil wees nie.