Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 6

Februarie 1838

Оглавление

AASVOËLS SIT SOOS UITGROEISELS op die kaal takke van ’n dooie boom. Weerlig het baie somers gelede die boom geslaan en die vroue van uMgungundlovu loop nie daar verby nie, sal nog minder die hout vir hulle vure gebruik. Hierdie ou reusegeraamte het vir die veld se opruimers ’n uitkykpunt naby KwaMatiwane geword.

’n Kop lig bo die geveerde lyf uit en die kaal nek draai eers eenkant toe, dan anderkant toe. Priemende oë bo krom snawels hou die kraal van die Zoeloekoning dop. Dae lank woel en raas dit al daar by amaZulu en ondervinding het geleer ’n karkas of twee kan daar uitbroei.

“Bulalani abathakathi!” Maak dood die towenaars basuin Dingaan se opdrag uit oor die heuwels en die geraas neem toe.

Donker ondertone vlam uit in gille.

Die kraal kan die geroesemoes nie meer binnehou nie. Dit bars by die hek uit, spoel oor die Boere se kamp en oor hulle handlangers wat by die perde wag.

Nou is die aasvoëls wawyd wakker. Kos is op pad.

Kek-kek, tsss, kek-kek, borrel dit uit ’n paar snawels, asof hulle al aan ’n karkas vreet. Een of twee skuifel sywaarts op die tak waarop hulle sit. Hier en daar sprei ’n vlerk en vou weer toe, soos om litte los te maak, terwyl die mense stoeiend en gillend naderkom, krygers by elke slagoffer se kop en arms. Voete sleep agterna. Soos roofdiere wat baklei vir ’n stuk van die vleis, kom hulle na KwaMatiwane aan.

Een van die voëls vlieg verbouereerd op toe die lawaai naby kom, maar die ander bly sit, kyk hoe die oormag krygers die mense nadersleep. Tevergeefs spartel hulle, baklei teen die rieme wat hulle bind. Ander swets in woede en paniek. Die jong seuns smeek en huil, hulle stemme breek, maar niemand hoor mekaar nie. Elkeen worstel met sy eie skok en vrees.

Knopkieries plof.

Tjjiir, raas die sonbesies.

Eindelik verdof die bewussyn, oorspoel dood genadiglik die brein.

Tjiirr.

Die liggame raak stil.

Die leier is vir laaste gehou – hy moes sien wat met sy mense gebeur en ’n duisend beelde vlieg seker deur sy kop. Wie het wat gesê. Waarskuwings. Verwyt, selfverwyt. Die wapens buite gelos.

Wat van sy mense daar aan die voet van die berg?

Nog een finale swaai van ’n knopkierie.

Dan stilte.

Bloed stol in die son. Gebreekte oë kyk op in die eindelose hemel.

Tjirrr, Tjirrr.

Die lomp voëls trap ongeduldig heen en weer op die boomtak, wagtend vir die krygers om pad te gee.

Diep spoor

Подняться наверх