Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 17

11 Stellenbosch

Оглавление

MEER AS ’N JAAR IS VERBY sedert Stefaans se besoek en Katrien glo sy het hom heeltemal uit haar gedagtes geban. Sy wag ook nie meer vir iets om te gebeur nie. Maar terwyl Stellenbosch sy herfskleed aantrek, kan sy nie wegkom van ’n vreemde onrus in haar nie: As dit reën, is sy mismoedig en as die wind waai, word sy iesegrimmig. Mooi sonskyndae laat haar weer voel asof sy niks daarmee kan doen nie. Sy verlang na Gerrit op ’n vae, weemoedige manier omdat sy nie presies kan onthou hoe hy gelyk het nie.

Fransie noem ’n paar keer dat Oom Stefaans dit of dat gesê het, maar omdat sy nie daarop reageer nie, laat hy dit later vaar.

Sondagoggend sit sy in die kerk met Fransie langs haar omdat hy nog jonk genoeg is om aan die vroue se kant te sit. Lig wat deur die gekleurde vensters val, maak sagte kleurpatrone op die rye hoede en skouers. Dit voel vir haar asof almal hier, sy inkluis, ’n skildery kan wees.

Ou Dominee het moeite om sy stem tot agter hoorbaar te maak en toe Fransie begin rondskuif op die houtbank, maak Katrien vir hom grootoë.

“Die tante speel so stadig,” fluister hy toe hulle opstaan om te sing.

“Sjt.” Maar sy moet Fransie gelyk gee; die orrel het nog nooit weer gejubel soos toe Gerrit gespeel het nie. Lank gelede, ’n leeftyd.

Halfpad deur die gesang beduie Fransie agtertoe en sy frons kwaai vir hom. Maar wat sou dit hier skuins agter wees wat hom pla?

Hulle het klaar gesing en voor hulle gaan sit, kyk sy om. Swaai terug.

Stefaans is in die kerk!

Sy sak op die harde houtbank neer en klem die gesangboek in haar hand vas, haar kop in ’n warboel. Die res van die diens gaan haar verby.

Hy is getroud, stoei sy met haar emosies en ook met haar gewete.

En wat soek hy in elk geval nou hier? Sy is kwaad vir hom. Ook vir haarself, want haar hartklop wil nie tot bedaring kom nie.

Stefaans staan buite in die herfsson en wag. Sy sal nie ongesiens kan wegkom nie.

“D-dag, Katrien.”

“Dag.” Haar oë vlug by hom verby, soek uitkomkans. Tog ook nie.

“Dag, Fransie.”

“Dag, Oom.”

“Kan ek saam met julle stap?” vra die stem waarna sy so gehunker het.

Hy val langs hulle in sonder om vir ’n antwoord te wag.

Hoe vermetel. Hy dink seker sy gaan spring elke keer as hy hier kom; ’n brakkie wat agter ’n groot hond aan kef. Nou is Fransie ook so opgewonde. Kan hy hom nie gedra nie? Of miskien is dit goed. Hy kan Stefaans besig hou, dan bly sy op ’n afstand. Sy weet immers wat reg en wat verkeerd is.

Voor die huis talm Stefaans en Katrien byt op haar tande, kyk doelbewus nie in sy gesig nie. Sy sal hom nie binnenooi nie.

“Dag,” sê sy deur stywe lippe.

“Katrien, e … ek het gehoop om iets met jou te b-bespreek.”

“Ek glo nie ons het iets om te bespreek nie.” Sy wens sy het beter beheer oor haar stem, en ook die moed om alles te sê wat sy vir maande gedink het om te sê.

“K-katrien.” Sy vermy nog steeds die donker oë. “A-asseblief.”

Sy kyk op; kwesbaarheid lê in sy oë. “Kom in.”

Sy gaan voor hom by die deur in. “Fransie, vra vir Dina om water te kook, asseblief. Sal jy koffie of tee drink?” Sy weet baie goed hy drink g’n tee nie.

“Koffie, dankie.”

In die koue voorhuis bly sy staan.

Wat hy gaan sê, sal belangriker wees as hoe sy tong sukkel om die woorde te vorm.

Stefaans wag tot Fransie uit is voor hy na haar draai. “Ek weet dis onverwags, maar ek het nie weke om jou voor te berei nie, Katrien.” Hy hakkel erg, vat haar een hand en vou dit in sy sterk vingers toe. Dan kyk hy in haar oë. “Jy weet tog hoe ek oor jou voel?”

Voel en doen is twee verskillende dinge. En daar is heelwat wat sy kan byvoeg, maar sy weet nie hoe of waar om te begin nie.

“Ek is lief vir jou, Katrien.”

Sy trek haar hand vinnig terug uit syne. Vreugde en afsku stoei ewe hard in haar en sy kyk by hom verby na die venster waar sy hom die laaste keer gesien het.

Hy vat weer haar hand. “Sien jy kans om met my te trou, Katrien?”

Sy kan skaars ’n geluid uitkry. “Trou?”

“Ja, ek vra dat jy my vrou word.”

“Jou vrou?” Haar gedagtes spring bont. “Jy ís mos getroud.”

“Ons … my huwelik is ontbind,” sê hy sag.

Sy snak na haar asem. Geskei! Dís wat dit is; ’n vloekwoord wat in ordentlike huise nie eens genoem word nie.

Ag, Here, roep haar binneste, hoekom nie liewer dood nie?

“Sy is vir jare al … asof dood,” eggo hy haar gedagtes. “Haar ouers het met my gepraat nadat ek laas hier weg is. Hulle het gedink dit sal beter wees,” sê hy dringend. “Vir haar ook,” voeg hy sagter by.

Sy bly doodstil staan. Hoe kan hy so sê? Dit kan tog nie vir die vrou beter wees nie? Haar oë gaan na die boekrak met boeke, soek na antwoorde daar. Kan die twee helftes miskien, eindelik …? As Ma en die res van haar familie by haar sal staan, begin haar weerstand wegkalwe.

“Ons kan nou oorry. Met jou ma-hulle gaan praat.” En toe sy steeds huiwer. “As jy wil.”

Hy gee ’n tree nader en sy hou haar oë op die weefdraad van sy baadjie, weg van die intense oë. Maar die geur van die man kan sy nie ontsnap nie.

“Dalk … Dalk kan ons so maak, ja.”

Stefaans trek sy asem skerp in en spanning vul die klein ruimte tussen hulle. Sy kyk op in die donker oë wat oor haar gesig beweeg, haar indrink. Sy weet hy moet hom bedwing om haar nie in sy arms te neem nie.

Die sifdeur klap en Fransie praat in die kombuis.

Stefaans tree terug. “Dis al amper drie jaar van ons ontmoet het.” Sy stem is hees. “Die aand by O’Flinn. Ou Dominee was ook daar, onthou jy?”

Dit voel asof sy deur dik newels agtertoe kyk. “So lank?”

Hy sê niks en sy wag ook nie op ’n antwoord nie.


Dina staan met haar hande in die skottelgoedwater. Só lyk haar lewe: was en skrop en poets. Medisyne smeer op Fransie se stukkende knieë en salf op Katrien se stukkende hart. Geen feëprinsesrokke vir hierdie slavin met die skurwe hande en kroeserige haartjies nie. Net toe haar held uit die vreemde ’n gesig gekry het met donker oë en ’n reguit neus, toe kom Stefaans weer hier aan en vra Katrien om te trou.

Dit gaan die afgelope week al hoe doller. Niemand kom agter dat die slavin se hart ook salf nodig het nie. Sy hoor gedurig, “Dina, help gou hier, Dina, maak asseblief so. Kyk tog na Fransie,” terwyl Katrien saam met die man rondrits. As dit nie is om gebooie op te gee nie, dan is daar iets anders wat haar aandag verg.

Dis wel waar dat Katrien baie besluite moet neem. Ná wik en weeg het sy haar huis, met die meeste van die meubels, aan die nuwe bakker op die dorp verhuur. Hy het pas uit Holland aangekom en is in sy skik met die blyplek.

Maar nogtans.

Johannes was aanvanklik ernstig teen die huwelik gekant en eers ná ’n lang besoek aan Ou Dominee het hy daarmee vrede gemaak dat Stefaans geskei is. Dis immers buitengewone omstandighede en hoewel Katrien se ma aan die begin ook nie gelukkig was nie, het Dina gehoor hoe sy vir Ou Dominee se vrou sê: “Ek ken vir Katrien. Sy sal nie trou net om getroud te wees nie. En sy kan tog ook nie vir die res van haar lewe alleen aansukkel nie.”

“Ja, sy is ’n sagte mens,” het Ou Dominee se vrou geantwoord. “’n Besonderse mens wat dinge ter harte neem.” Ná ’n rukkie het sy bygevoeg: “Stefaans is ’n sterk man. Mens hoop net dit gaan goed met hulle twee vorentoe.”

’n Sterk man, ja, maar nie klip nie. Nee, beslis nie klip nie.

Hy is vanoggend vroeg weg om sy ooms en tantes in die Wagenmakersvallei te gaan besoek. Sy het gehoor hy vertel vir Katrien hy was vyftien toe hulle getrek het en sy ouers daar in die Oos-Kaap sal wil weet hoe dit met almal gaan en wat die nuus is. Maar hy gaan ook ’n wa haal wat hy met sy besoek verlede jaar by die wamaker bestel het.

Het Stefaans tóé al geweet hy sou sy nuwe vrou terugneem huis toe?

En sê nou Katrien het intussen met iemand anders getrou?

Dina sug en vat die stoflap om binne te gaan netjies maak. Langs die boekrak bly sy staan en kyk na die dik boeke, haal ná ’n rukkie een uit die rak. Sy het haar lanklaas tyd gegun. Op ’n stoel voor die venster gaan sy sit en vee oor die goue letters op die omslag. Vreemde woorde wat haar herinner aan Gerrit se vertellings van skepe uit ver lande wat op hulle handelsroetes hier by die Kaap aandoen.

Miskien kom ’n handelaar met ’n skip uit Spanje of iewers. Hy sien haar hier in Stellenbosch. Toe hy agterkom sy kan lees en sien hoe pragtig sy kan skryf, smeek hy haar om saam met hom op die skip terug te vaar, vir sy klein kindertjies te gaan skoolhou. Hy is natuurlik ’n wewenaar wat slegs sy eie, vreemde taal kan lees. Nou sit hulle hier op die bank en met oë vol passie vra hy sy moet vir hom uit hierdie boek voorlees.

Sy slaan die dik boek oop op haar skoot en draai haar kop effens skuins. Haar lang, goudbruin hare vorm ’n sagte gordyn langs die kant van haar gesig, nes Katrien s’n. Sy is reg om te begin lees, maar dis sulke lang, moeilike woorde.

“Dina?”

Sy klap die boek toe en laat dit amper val. “Ja?” Hees geskrik.

“Iets verkeerd, Dina?”

“Nee! Ek stof net af.”

Katrien lag. “Ook binne-in die boeke?”

Sy grinnik. “Ek probeer lees, maar kan nie ’n woord uitmaak nie.”

“Sekerlik wil jy dit ook nie lees nie, Dina. Dis doktersboeke.”

“Ek weet, ja.”

Katrien bly voor die boekrak staan en laat gly haar vingers oor die netjiese rye, huiwer kort-kort by een van die titels. “Dit sal hier moet bly,” sê sy ná ’n rukkie. “Niemand sal dit lees nie, behalwe miskien Fransie, eendag wanneer hy groot is.”

“Gaan jy niks boeke saamvat nie?”

“Net skoolboeke vir later. Die alfabet kan ons self vir kinders leer. Maar die Trap der jeugd en Onderhoudend geschenk voor kinderen moet saamgaan; dit het mooi prente vir kinders om te kyk. En natuurlik een of twee boeke vir ons om te lees.” Kwelling kom in haar oë. “En jy? Kom jy saam, Dina?”

“Ek weet nie.” Sy skud haar kop en kyk weg.

“Jy kan bly.” Katrien praat huiwerend. “Dis nou as jy wil.”

As ek wil? Sy kyk om haar rond, na die blinkgepoleerde meubels, die tafel waarby sy ook saam met Katrien en Fransie aansit. Sy dink nou al dae aaneen en weet nog steeds nie wat om te doen nie. Hulle gaan baie ver weg, hierdie suster van haar en hulle seun.

As sy saamgaan, sal haar lewe ander draaie maak. Hoeveel anders? Katrien weet niks en sy nog minder van wat daar vir hulle wag. Maar wat bly hier vir haar oor? Terug plaas toe? Om weer een van die slawe te word?

“Ek sal baie bly wees as jy kans sien om saam te kom,” sê Katrien.

“Ek moet eers met my ma daaroor praat,” probeer Dina tyd wen.

“Dis reg so.”

Sy vlug kamer toe, waar sy haar gesig met koue water afspoel tot haar gedagtes helder is. Toe tel sy die handspieëltjie op wat sy laas Kersfees by Katrien gekry het en kyk daarin. Haar gesig staar strak terug.

Sy vat aan haar wang. Ma sê hierdie mooi ligbruin vel kom van haar ouma wat uit Java gebring is. Die groot, bruin oë ook. Maar hierdie kroeserige hare kom van wie weet waar.

Ongeduldig vee sy die voorste hare wat weerbarstig langs haar ore uitkrul plat. Haar hare is lank genoeg om dit in ’n rol te maak en vas te steek, maar die voorste kort hare spring regop en gaan hulle eie koers.

“So lyk jy,” sê sy vir haar beeld. “Jy kan vergeet van lang, gladde hare.”

Sy sit die spieël neer en gaan op die bed sit, kyk om haar rond. Die klere, die handspieël met die satynblom daarop geplak, dis al wat aan haar behoort. En die man van haar drome? Hy sal haar mos nooit by haar ma op die plaas kry nie.

Daar in die Oos-Kaap? Sy twyfel. Almal sê dis ’n harde wêreld. Die droom sal hier in Stellenbosch moet agterbly, saam met haar kleintyd.

Daar het ’n man van ver gekom, maar hy het nie vir haar kom haal nie.

Later staan sy op en gaan kombuis toe om die wasgoed te was. “Ek dink ek sal saamgaan,” sê sy in die verbygaan en tel die wateremmer op om die balie vol te maak. Sy kyk nie na Katrien nie, want dié mag nie weet hoe sy voel of wat sy dink nie. In hierdie huis het sy die kans op ’n beter lewe gekry en sy mag dit nooit vergeet nie.

“Ek is so bly, Dina!”

Sy sug en kyk om na waar Katrien in die middel van die kombuis staan, haar kop so vol verlief, sy weet nie mooi wat om met haarself aan te vang nie.

Sy gaan my nodig kry daar in die vreemde en dit moet my enigste rede wees om saam te gaan.

Diep spoor

Подняться наверх