Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 14
8
ОглавлениеDIS OGGEND EN DIE SON SKYN al by Katrien se venster in. Geen wonder sy het verslaap nie, sy het gisteraand laat nog wakker gelê. Die twee mans het bly sit toe die vroue bed toe is en sy kon nie help om te wonder waaroor Johannes en Stefaans tot so laat in die nag praat nie.
Waarom is alles nou so stil? Waar is almal?
Sy leun teen die kussing terug en glimlag. Stefaans sal sekerlik nie ver wees nie. Daardie aand met hulle heel eerste ontmoeting het hy reeds iets vir haar gevoel, was daar ’n soort verbintenis. En sy het hom daarvoor kwalik geneem, want dit het haar bang gemaak. Nou weet sy hulle is twee helftes wat van mekaar losgebreek is en herstel moet word. En sy hoop Stefaans wag nie te lank nie.
Sy kom vinnig regop en skud haar kop.
Nugter bly, Katrien. Die man bly ver en jy moet aan Fransie ook dink.
Sy lê weer terug teen die kussing. Fransie kom goed met hom oor die weg, sien selfs op na hom. Ook Ma was gister baie danig met Stefaans. En sy self kan aan niks anders as dié man dink nie. Haar hele wese reik uit na hom.
Half verleë vlieg sy op uit die bed en gaan na die wastafel, gooi water uit die lampetbeker in die skottel en begin was.
Sy kies sorgvuldig haar klere vir vandag. ’n Ligblou rok met opnaaisels oor die bors en ’n romp wat tot op haar voete hang. Terwyl sy voor die spieël staan en hare borsel, kyk sy met ander oë na haarself. Die vrou met die skraal lyf en fynbesnede gesig is beslis ouer, nie meer die meisie wat op Gerrit verlief geraak het nie. Nogtans lyk sy heelwat jonger as twee dae gelede.
Sy skud haar kop. Die hare val vorentoe, kartel oor haar wange. Nou lyk sy nog jonger.
’n Paar slierte kleef aan haar lippe en sy giggel saggies.
Haar ma kry beroerte as sy nou só hier uitstap.
Sy vat die hare saam en draai dit in ’n bolla agter in haar nek, begin dit met haarnaalde vassteek. Nee wat, so styf is ook nie nodig nie. Sy gee ’n bietjie skiet en trek ook ’n repie los dat dit langs haar wang afkrul.
Dit lyk goed, bevestig die grys oë uit die spieël voor sy uitgaan en ligvoets in die gang af stap.
By die eetkamertafel is nog een plek gedek. Die ander het seker almal al ontbyt gehad en koers gekry. Haar ma het haar laat bly lê om self wakker te word? Dit het nooit gebeur toe sy nog in die huis was nie.
Sy is nie honger nie en gaan uit, gewaar die mans by die skaapkamp en loop gretig nader. Hulle knik slegs goeiemôre in haar rigting voor Stefaans weer aandagtig luister hoe broer Johannes uitwei oor die goeie wol wat van merinoskape verkry word. Fransie loop daar naby met ’n stok en speel, kyk nie eens in haar rigting nie.
Afgehaal dwaal sy verder in die rigting van die rivier. Sy gaan staan op die wal langs die bamboesriet en kyk terug, maar nou beweeg die mans weg in die rigting van die landerye. Teleurstelling brand agter haar ooglede en sy loop met swaar voete huis toe.
Die res van die oggend gaan verby sonder dat sy en Stefaans vir ’n oomblik alleen is. Met middagete sit hy weer oorkant haar, nes gister, maar hy vermy haar oë. ’n Onsigbare muur is gedurende die nag tussen hulle opgerig.
“Ons moet in die pad val,” sê hy toe hulle van die tafel af opstaan.
Sy is verlig om weg te kom, maar haar ma se woordelose omhelsing, die styf vashou terwyl Stefaans hulle bagasie inlaai, bevestig iets is nie pluis nie.
“Dag, Stefaans. Bring hulle veilig tuis, hoor,” sê haar ma met nadruk.
“Moenie bekommer nie, Tante. Oor ’n uur is ons op die dorp.”
Die perde beur vorentoe. By die hek kyk sy terug om weer vir haar familie te waai. Hulle staan voor die huis en lyk na meer as een van Lot se vrou.
“Mis jy jou familie?” wil Stefaans weet toe hulle ’n ent weg is. “So alleen op die dorp?”
Sy skrik. Hoekom vra hy? Toets hy haar vir die een of ander rede? Sy kyk na die sonbruin hande wat die leisels vashou en haar hart gaan so op loop dat sy haarself moet kortvat: Kyk in die pad en dink liewer wat om te antwoord.
“Soms.” Sy hou haar oë voor haar. “Maar ek sal nie weer op die plaas kom bly nie.” Hy sê niks en sy voel verplig om te verduidelik. “Ek is gelukkig op die dorp. My eie huis, en Fransie wat kan skoolgaan.”
“Tja, dis belangrik.” Verwys hy na die skool, die huis, of haar geluk? En hoe is dit moontlik dat sy skaars nog hoor hy hakkel?
“Ons lewe goed genoeg. Ou Dominee en sy vrou beteken vir my baie. Tant Aletta se oë is nie meer goed nie en soggens as Fransie in die skool is, help ek haar met naaldwerk en lees ook vir haar. Sy betaal my iets en gee gereeld groente uit hulle tuin daar by La Gratitude.”
“Dit sal sekerlik help, ja.”
Sy sê nie vir hom van die waterverf, hoe lanklaas sy daarmee kon werk en hoe ’n leemte dit in haar laat nie. Sedert Gerrit se dood het sy selfs haar lus daarvoor ook verloor. Sy hou liewer by die praktiese, die alledaagse. “Moeder help ook met ’n geldjie hier en daar. Ons lewe baie spaarsaam.”
“Ek sien. Kyk, Fransie!” Hy wys na ’n skilpad wat ’n ent voor hulle deur die stof sukkel.
Fransie babbel vir ’n rukkie opgewonde en toe hy stil raak, vertel Stefaans hoe moeilik die pad Kaap toe is deur die dik sand, maar darem kinderspeletjies in vergelyking met die berge en riviere wanneer hy môre terugkeer huis toe.
Hy praat oor alles behalwe homself.
“Hoe ver is dit, Oom?” wil Fransie weet. “Tot daar by—”
“Uitenhage?” Hy sug en kyk na die seun, vermy Katrien se oë. “Baie ver. Tien of twaalf dae te perd. Met wa en osse ’n hele paar weke.”
“Sjoe!” Fransie dink vir ’n rukkie. “Dan kom Oom seker nie baie hier nie?”
“Nee. Dit kan jare wees voor ek weer kom.”
Terug op Stellenbosch dra Stefaans hulle bagasie tot in die voorhuis, sit die eetgoed wat saamgekom het op die tafel neer en draai na Katrien. “Ek moet groet. Môre val ek vroeg in die pad.”
Sommer net so? Haar hart val in haar skoene. Gaan hy hier weg sonder om enigiets verder te sê, sonder enige aanduiding hoe hy voel?
“Jy’t gesê dis ver,” stamel sy.
“Ek moet iets vir jou sê, K-Katrien. Ek w-wou eintlik gister al.”
Hy stotter meer wanneer hy gespanne is.
“Ek is so jammer.” Hy vat albei haar hande. “Vergewe my …”
Sy kyk verward na hom, maar sy oë bly aan die beweeg deur die vertrek.
“Ek is getroud, Katrien,” kry hy dit eindelik uit en lig haar hande, druk sy lippe dringend daarop en laat weer los. “Totsiens.”
Hy draai weg sonder om weer na haar te kyk.
Sy bly verbysterd staan. Het sy reg gehoor? Wat bedoel jy? wil sy nog vra, maar hy loop reeds weg van haar.
Haar oë gryp na die breë rug, die nek en kop. Klou daaraan vas om hom te probeer terughou. Hy moet omdraai en verduidelik, ontken wat hy hier gesê het. Sy hou asem op, maar hy draai nie terug nie. Toe soek sy naarstiglik na nog iets om te sê of te vra. Hy moet net nog een keer weer omdraai na haar toe.
Hy gaan reeds by die deur uit.
Haar helfte bly staan, luister hoe die ander helfte se voetstappe buite oor die paadjie knars. Tot by die pad. Haar hele wese skree: Nee, kom terug!
Dit help niks.
Sy haas haar tot by die venster en kyk uit. As sy hom net kan sien, draai hy dalk terug.
“Totsiens, Fransie.” Hy vat die leisels by die seun en skud sy hand.
“Kom Oom weer?”
“Nie gou nie.” Sy stem is gedemp, word sterker. “Kyk mooi na jou ma, hoor.”
“Ja, Oom.”
Katrien maak haar oë toe. Dis nie te laat nie, dalk draai hy om … Toe sy weer kyk, kom die kapkar in beweging, skuif verby die ruit en verdwyn.
Dina kom van die kombuis af in. “Wou die man nie eers koffie drink nie?”
“Hy’s haastig,” kry Katrien met moeite uit haar toegetrekte keel. “Hy gaan môre terug.”
“So is dit dan,” sê Dina, asof sy lankal daarby berus.
Dina hou oor die volgende paar dae vir Katrien dop. Sy is oorhoop met haarself. Soggens is sy vroeg uit die bed, soos toe Gerrit nog geleef het, maar sy kom aan niks. Syself sorg nog steeds vir die etes en gaan winkel toe terwyl Katrien hier vat en daar los, in die kaste soek na wie weet wat en alles net deurmekaarkrap. Katrien gaan ook tydig en ontydig op die bed lê en maak asof sy slaap.
“Wat het die man gesê, Katrien? Gaan hy weer kom kuier?” vra sy toe haar geduld opraak en sy ook nie haar nuuskierigheid langer kan bedwing nie.
“Nee, hoe moet ek weet?” Katrien se stemtoon wys dis ’n kneusplek.
“Hy’t mos gesê dis baie ver,” probeer Dina troos.
“Minstens tien dae te perd. Nog baie langer met wa en osse.”
Katrien is duidelik uitgehonger om oor hom te praat en Dina wil self ook weet wat aangaan. “Dan is hy nou seker al daar,” vis sy.
“Eergister al, as niks voorgeval het nie. Maar dit het niks met my te doen nie!” bars Katrien onverwags uit en trane blink in haar oë. “Hy is getroud.”
“Getroud?” Dina kan dit nie glo nie “Is jy seker?”
Katrien reageer nie.
“Maar hoe kan dit wees?”
“Dis wat hy gesê het.” Katrien hoes, of miskien stik sy in haar woorde.
“Snaaks.” Dina probeer op Katrien se gesig lees of sy meer durf sê. “Ek het … Dit het vir my gelyk of hy baie erg is oor jou.”
Katrien kyk vol verwagting op. “Dink jy so?”
Dina soen die vingerpunte van haar regterhand en plaas dit oor haar hart. Dis hoe hulle as kinders hulle beloftes aan mekaar verseël het.
“Ek’t ook so gedink.” Katrien steek vas. “Maar dit maak tog nie meer saak nie.” Sy lig haar hand voor haar mond om nog ’n hoesie weg te steek.
“Jy moet by die dokter uitkom, Katrien. Jy hoes al weer te veel. Laat die dokter liewer na jou kyk.”
Dokter O’Flinn se studeerkamer, waar hy ook sy pasiënte ontvang, is ’n gesellige vertrek. Die groot lessenaar is oorlaai met papiere en boeke, sommige met boekmerke wat uithang en ander in hopies gestapel. ’n Vel papier lê byderhand, asof hy besig was om aantekeninge te maak toe Katrien kom aanklop het.
Sy beduie na die lessenaar. “Ek hoop nie ek steur nie.”
“Glad nie. My pasiënte kom altyd eerste. Of kom jy sommer net kuier?”
“Nee. Ek bedoel, dis eintlik oor die hoes wat weer begin het.”
Hy kom met sy stetoskoop nader. “Maak die knopies los dat ek kan luister.”
Terwyl hy die lang houtpyp teen haar bors druk en die ander punt by sy oor hou, word Katrien bewus van die effense rookreuk in die vertrek. Die geur van Stefaans se klere. Het iets van hom hier agtergebly? Hy en O’Flinn het sekerlik baie ure hier deurgebring.
“Asem diep in, Katrien.”
Sy doen dit, word vir ’n oomblik een met die geur. Toe draai haar oë na die boekrak wat een hele muur beslaan en sy bekyk die boeke wat daarop uitgepak is. Dik versamelings, nes Gerrit s’n. Hartseer spoel in ’n golf oor haar, sy kan daarin verdrink.
O’Flinn sit die stetoskoop op die lessenaar agter hom neer en draai terug.
Versigtig trek hy haar onderste ooglid met sy duim af. “H’m. Nes ek gedink het. Jy’s weer bloedarmoedig. Maar jou longe klink nie sleg nie. Ek gaan vir jou van die versterkdruppels gee wat jy laas gebruik het, dan kyk ons weer oor ’n week hoe dit gaan.”
O’Flinn maak die voordeur agter haar toe en Katrien stap in die rigting van die huis, maar dis nie meer haar tuiste nie. Haar hart swerf in ’n woestyn en haar honger kan nie meer met herinneringe versadig word nie. Alles om haar is wasig en uit fokus en sy weet nie presies vir wie haar trane is nie.
Ná ’n rukkie gaan sy staan. By haar voete kabbel die stroom water in die leivoor. Gelukkig is hier niemand naby om haar te sien nie en sy vee met haar sakdoek oor haar oë voor sy verder onder die kaal eikebome deur stap. Skaduvingers gryp na haar kop en lyf, bly verwronge op die grond en oor die witgekalkte mure agter haar lê.
Naby die huis skrik sy – ’n perdekar staan voor die deur.
Dis Johannes wat by die voordeur uitkom en sy loop nader, struikel effens.
“Dag, Sus!” Hy gee haar ’n klapsoen. “Hoekom so verdwaas? Ken jy nie meer jou familie nie?”
Haar ma kom op die stoep uitgestap. “Dina maak solank koffie,” sê sy en soen ook vir Katrien. “Sy sê jy het gou vir dokter iets gevat. Hoe gaan dit daar? Ek het hulle lanklaas gesien. Johannes is ook so haastig as hy dorp toe kom, mens kry skaars ’n draai by die winkel gemaak.”
“Dit gaan goed.” Katrien is verlig dat Dina nie die rede vir haar besoek verklap het nie.
“Maar jy lyk bleek, Katrien. Jy’s nie siek nie? Hoe gesond eet julle?” En sonder om op ’n antwoord te wag: “Ons het ’n ietsie vir julle saamgebring.”
“Dankie, Moeder.”
Johannes sit sy hoed op. “Ek gaan eers kyk hoe ver Lang Koos met my wawiel is.”
“Moenie draai nie, die kos is amper reg,” waarsku hulle ma en stap voor Katrien uit kombuis toe. “Wanneer kom Fransie?”
“Eers later, Moeder. Ons kan sy kos uithou.” As sy dink dat sy dalk weer eendag by haar ma in die huis moet bly, sidder sy. Sy het aan haar onafhanklike lewe gewoond geraak, danksy Gerrit. Haar hart trek inmekaar toe sy aan hom dink.
Die kombuistafel staan vol van die ietsie van die plaas af: ’n meelsakkie met biltong, flesse vol konfyt en ingelegde appelliefies, twee varsgebakte brode, ’n blik beskuit. Skaapboud is in ’n moeseliendoek toegedraai. “Dié moet Dina dadelik op die agterstoep hang waar dit koel is,” beduie haar ma.
“So baie kos, Moeder.”
“Die flesse moet jy weer vir my laat kry wanneer dit leeg is. En die beskuit pak ons sommer nou uit, dan kan ek Maria se blik saam terugvat.”
Katrien gee ’n leë blik vir haar ma en help om die beskuit oor te pak.
“Stefaans is toe weer terug,” sê haar ma uit die bloute.
Katrien hou haar hande met die beskuit besig. “Ja.”
“Hy boer naby Uitenhage, nie waar nie?”
Haar ma verplig haar om te praat. “Ek verstaan so.”
Die beskuit is klaar oorgepak en sy druk die blik se deksel toe, gaan sit dit op een van die lang houtrakke. “Dankie vir alles, Moeder. Fransie sal dit geniet. Hy eet deesdae omtrent sonder ophou.”
“Johannes het met hom gepraat.”
“Met Fransie?” hou sy haar dom.
“Met Stefaans, Katrien,” sê haar ma geduldig, asof sy ’n kind is. “Hy het ’n vrou, weet jy?”
“Ek weet, ja.”
“Het hy dit vir jou gesê?”
“Ja.” Dank die Vader hy het dit self vir haar gesê.
“Sy is nou wel …” Haar ma trek haar skouers op.
“Nou wel wat?”
“Nie normaal nie. Sy bly glo al vir jare daar by haar ouers naby Caledon.”
Dit neem ’n oomblik voor die woorde insink. “Wat makeer haar?”
“Sy kan nie meer vir haarself sorg nie. Haar verstand is glo aangetas.”
“Sy is geestesiek?”
“So iets, ja.” Haar ma sug swaar. “Dis hartseer, maar getroud bly getroud.”
“En wat het Johannes vir hom te sê gehad?” wil Katrien op haar beurt deur stywe lippe weet.
Haar ma kyk haar skerp aan. “Vir die man gevra wat sy intensies is, Katrien. Jou pa sou dieselfde gedoen het. En dis netsowel, want dis toe dat ons moes hoor hy het ’n vrou.”
“En wat was sy intensies?” Sy kan die byt in haar stem nie beheer nie.
“Katrientjie, my kind, moet jou nie so opruk nie,” paai haar ma. “Ons kan mos nie staan en toekyk … Jy weet hoe maklik ’n weduwee kan seerkry.”
“Ja, Moeder.” Sy lag wrang. “Maar hy het sekerlik nie intensies gehad nie.”
Sê sy dit nou om haar ma gerus te stel? Of om Stefaans te verdedig?
“Ek sal nie weet nie.” Haar ma kyk haar reguit in die oë en vee ’n denkbeeldige haar uit haar gesig. “Maar Johannes het hom so te sê met die dood gedreig as hy jou te na sou kom.”
“Nè?” Die verontwaardiging pers uit haar longe voor sy haar weer onder beheer kry. Sy is in ’n strik vasgevang met geen uitkomkans nie. Hoe meer sy stry teen die ysterdrade, hoe stywer span dit.
Toe sy opkyk, staan haar ma woordeloos na haar en kyk. En sy weet nie of sy meegevoel of verwyt by haar sien nie.
“Johannes het sy sin gekry,” sê sy deur stywe lippe. “Die man kon nie wag om hier weg te kom nie. Ek verwag ook nie om hom ooit weer te sien nie.”
“Dis beter so.” Haar ma is duidelik verlig. “Daar is genoeg hubare mans wat sy hoed agterna sal gooi om met jou te kan trou.” Sy draai weg om haar aandag aan die kospotte te gee.