Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 9

3 Stellenbosch

Оглавление

KATRIEN SIT MET NAALD EN GARE by die kombuistafel. Piepklein babaklere vorm onder haar hande terwyl sy na Gerrit se rustige stem uit die voorhuis luister. Dit word ’n waterstroom waarop sy dryf, wat soms oor klippe druis, vir ’n oomblik verdwyn en dan weer voortborrel. Hier en daar herken sy die rympies en ander lesse uit Trap der jeugd waarmee sy ook skoolgegaan het. Wanneer die kinders agter Gerrit aansê, praat haar lippe geluidloos saam.

Vir die afgelope vyf jaar is dit Gerrit se stem wat haar vir rukkies bo daaglikse sloerwerk uitlig en wanneer hy sing, vlieg sy steeds hoër. Sal hierdie kind wat in haar groei ook ’n seuntjie wees of dalk ’n dogtertjie? En sal dié mensie Gerrit se helderblou oë hê? Belangriker nog, sal die kind welgeskape wees?

Soveel vrae en net die tyd kan dit beantwoord.

Dina hang wasgoed buite op die draad. Sy sien uit na Katrien se nuwe baba. Maar sal die geboorte so goed afloop soos met Fransie? Sy onthou daardie nag asof dit gister is, hoe benoud sy was. Hoe sy in die kombuis water aan die kook gehou het tot die mure nat was van die stoom. Tussendeur het sy vir Gerrit koffie aangedra na die voorhuis waar hy op sy viool gespeel het.

Die ganse nag het hy gespeel, net vir kort rukkies opgehou wanneer hy die koffie drink en sy vingers ’n bietjie strek. So gevoelvol en rustig het sy hom nog nooit hoor speel nie, vir Katrien, omdat dit die enigste manier was waarop hy haar kon bystaan.

Syself het vir rukkies daar op die bank gaan sit om te luister en te kyk hoe die lang vingers van sy linkerhand gly en druk oor die viool se nek. Hy was in homself gekeer, skynbaar heeltemal onbewus van haar.

Katrien is gelukkig, sy het ’n baie goeie man. En nou is daar ook ’n tweede kind vir hulle op pad.

Diep spoor

Подняться наверх