Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 12

6 Land van amaZulu

Оглавление

DIE WINTER WAS STRAF en nou word die dae weer langer en die son warmer. Die rivier loop suinig en die mense kyk dikwels in die rigting waar die wolke vandaan moet kom. Dit bly weg en Thabisa se oupa gaan in die beeskraal tussen die diere staan om vir die voorvaders te vertel hoe bekommerd hulle is. Hoe kan hulle plant en saai as dit nie reën nie? Waar sal hulle genoeg kos vir almal kry?

Twee dae later steek ’n lastige wind vroegmiddag op en jaag stof en blare kruis en dwars oor die kraal. Donker wolke pak op die horison saam en skuif voor die son in. Die wêreld kry ’n geel skynsel en die voëls in die bome raak stil. Beeswagters fluit dringend om die vee in die kraal te kry.

Die wind word sterker en waai die stemme van ouers wat na hulle kinders roep saam met die bulk van beeste deurmekaar.

Thabisa help die ma’s om die kleintjies in die hutte te kry en sy waarsku hulle om doodstil daar te bly sit. Gelukkig onthou sy betyds om ’n bokvel oor die pot suurmelk te gooi sodat die weerligvoël nie deur die wit aangetrek kan word nie. Om deur weerlig gedood te word beteken totale vernietiging, asof jy in ’n vuur verkool en nooit bestaan het nie.

Die wolke dreun hard en toe is dit weer stil.

Meteens tref een verskriklike donderslag die kliprant daar naby.

Die grond onder hulle voete skud en dompel almal in vrees.

Twee vroue wat nog besig was om die kookpotte buite om te keer en die losgoed bymekaar te maak duik gillend by die naaste hut in en kruip ook onder die velle in. Die mans se hande klem hulle stokke stywer vas, maar niemand kan iets doen teen die woede van die Heerser daar Bo nie.

Waar is die weerligvoël nou? Gaan hy weer duik?

Terwyl hulle wag, sak die reën uit. Water stort op die hutte neer asof reusepotte oor hulle leeggemaak word. Die kinders soek nog angstig in die skemer na hulle ouers se oë, toe trek die storm al weer verby.

Thabisa kruip saam met die ander vroue buitentoe en kyk rond. Die wêreld is deurweek. Doringtakke buig laag en water drup, drup daaruit aarde toe. Maar die wind het gaan lê en die wolke begin oopmaak. Flou sonstrale blink orals op poele water.

Die mans loop ’n draai deur die beeskraal om te kyk of daar skade is terwyl die wagters mooi met die koeie praat om hulle rustig te kry, anders gee hulle nie genoeg melk nie. Gelukkig was al die beeste betyds in die kraal, want niemand wil tot laat nog in die donker na hulle loop soek nie.

Thabisa voel ’n koue aan haar lyf en dis nie die nattigheid alleen wat so maak nie. Iets het vandag hier gebeur waaroor die grootmense onrustig is. Dit wys in haar ma en die ouer vroue se oë terwyl hulle met stokke voortjies tussen die hutte krap vir die water om weg te vloei.

Sy help gereedskap optel wat deur die wind rondgepluk is. Almal werk in stilte. Niemand kyk in die lug op of praat oor die storm wat met soveel geweld op hulle uitgesak het nie. Elkeen doen net wat nodig is voor die donker hulle inhaal.

Die volgende oggend, toe die son nog net aan die boomtoppe raak, is Thabisa buite. Dis ’n mooi dag. In die rigting van die rivier lê mis soos ’n spierwit bokvel in die laagte. Sy trek haar longe vol, draai om en kyk in die rigting van die rant waar die weerlig geslaan het.

Haar oupa en twee van haar pa’s loop teen die hoogte uit. Naby die groot rotse gaan hulle staan. Hulle beduie, maar sy kan nie hoor wat hulle sê nie. Hulle lyk nes meerkatte wat daar spartel, want die rotsblokke hou hulle vas.

Sy draai vervaard om en haar hart hamer teen haar ribbes. Waar kom sy aan dié snaakse gedagtes? Mense is meerkatte? Wie sit sulke lelike dinge in haar kop?

Benoud vou sy haar arms oor haar bors, hou haarself vas terwyl sy wag vir haar hart om te bedaar.

“ ’n Groot rots daar bo is heeltemal oopgekraak. Julle moet wegbly daar,” kom sê haar pa. “Laat die beeste anderkant wei,” beduie hy vir die seuns.

En die kinders weet hulle moet ook nie daar naby speel nie.

Die ongemaklike gevoel wat die storm by die mense wakker gemaak het, groei, want niemand verstaan dit mooi nie. Het die Groot Een na hulle geslaan? Maar waarom sou Hy? Hy steur Hom tog nie aan mense nie.

Die aand loop Thabisa ’n draai en sien haar oupa weereens in die beeskraal. Hy streel oor die rug van hulle voorvaderbees, vertel seker van hulle bekommernis.

Met melktyd die volgende oggend kom een van die seuns sê daar lê ’n bobbejaanwyfie met haar halfgebore kleintjie dood in die veld en die vroue kyk verslae na mekaar. Die mans vergader dadelik onder die groot boom om daaroor te praat en skud hulle koppe. Wat beteken al hierdie dinge?

“Dis vir ons duister; ons kan dit nie verklaar nie,” sê Thabisa se pa later die middag aan sy vroue, “ons kan ook nie net ons oë toemaak nie. Die koeie moet een van die dae kalf en ons moet begin plant en saai. Môre vroeg sal ons loop en by isangoma gaan luister wat verkeerd is.”

Die vroue knik, stom van bekommernis. Dit mag wees dat ’n heks of ander bose mag in die umuzi losgelaat is. En waar sal hulle kos vandaan kom as ’n misoes hulle tref of siekte onder die beeste uitbreek? Hoe sal hulle oorleef?

Die senior manne kom die volgende agtermiddag terug met die boodskap dat isangoma hulle as familie roep. Al die vroue wat reeds bloed van die voorvaders ontvang, maar nog nie kinders in die wêreld gebring het nie, móét daar wees. Hulle moet ook heeltemal skoon wees. Dit bring ’n beroering in die familie en ’n hand gryp Thabisa se ingewande vas. Sy is een, ook Jabu se vrou, Lungile. Verder is daar twee dogters van haar ander pa, sowel as die oudste dogter van haar jongste ma. Dis vir hulle vyf wat die isangoma wil sien.

Hulle moet eenkant in ’n hut gaan bly, weg van die kraal se mense, asof die familie hulle reeds afsny van die tragedie wat kom. Thabisa kan nie slaap nie. Vir die eerste keer besef sy hoe gevaarlik abathakathi is, hoe maklik ’n vrou deur bose magte in ’n heks verander kan word.

Sy kyk na die vier vroue saam met haar in die skemer hut. Hulle behoort aan een hand en watter vinger gaan afgesny word? Hoe kan die res van die hand nie pyn voel nie as hy weer moet vat en aangaan met werk? Maar die ergste van alles, sê nou sý is die een? Of dalk is daar meer as een. Dalk al vyf?

“Hier is julle kos.” Mama stoot ’n houtbak met kos by die hut in, maar waag dit nie nader nie. Net vir ’n oomblik kyk sy in Thabisa se oë voor sy wegdraai en weer verdwyn.

Dis ’n klein bietjie troos. Tog kry Thabisa nie die kos afgesluk nie, dit sit in haar keel vas – saam met haar gedagtes. As sy net met iemand kon praat, haar vrees in woorde kon vasmaak. Maar al vyf vroue is in dieselfde wanhoop gevang en hulle vertrou mekaar ook nie.

Sal dit ek wees? wonder Thabisa vir die soveelste keer toe sy in die middel van die nag wakker word en haar eie liggaam probeer peil, hoe haar hart in haar bors klop, haar kop aan haar lyf vas is. Is hierdie liggaam onder bose beheer?

Sy kyk terug, soek langs die pad na waar iets kon skeefgeloop het. Het sy haar bloed goed begrawe? Die keer toe sy alleen rivier toe was en die slang se sleepsel bo-oor haar spore gesien het, was dit miskien nie ’n slang nie? En al die kere in die bos, toe sy hout gesoek en bobbejane gesien het, was een van hulle meer as net ’n bobbejaan?

Skielik spring haar hart in haar keel. Sy het anderdag gedink die mans op die klipkop lyk soos meerkatte. Het bose kragte toe al haar oë gevang? Hoeveel meer het hulle dalk nou al van haar gevat?

’n Kreun kom naby haar uit die donker, gevolg deur sagte snikke.

Dis Lungile. Die jong vrou sal sekerlik nog bekommerder wees, want die liefde en toewyding waarmee sy hiernatoe gekom het, was nie genoeg nie. Sy het Jabu se hart en die familie se goedkeuring gewen, maar kan nie vir hom ’n kind gee nie. En dit is onaanvaarbaar.

Lungile het troos nodig, maar Thabisa durf nie aan haar raak nie, want sê nou dit is sý? ’n Vrou weet nie as ’n heks haar beheer nie en nog minder kan sy iets daaromtrent doen. Soos rook kan ’n heks oor die beeskraal versprei en skade aanrig. Of oor die veld jaag, agterstevoor op die rug van ’n groot bobbejaan of ander helper. En die heks het net een doel: om ’n kraal te vernietig. Bedags lewe sy gewoonweg, maar snags neem die bose mag oor.

Thabisa draai op haar sy, trek haar bene op tot teen haar maag en hou dit só vas. Sluimer eindelik weer in.


Baie vroeg, toe die beeste se horings net-net sigbaar word teen die hemel, gaan die vyf vroue af na die rivier om te bad. Hulle sit halflyf in die water en Thabisa vryf hande vol umPhisu-blare oor haar kop, lyf en arms om van die laaste dae se sweet ontslae te raak. Die water is koud, maar sy voel dit skaars. Sy dink ook nie aan krokodille nie, want nes die ander vier vrees sy die dag wat voorlê.

Kan sy deur haar silwerskoon te was die verskriklike lot wat op ’n heks wag, vryspring? Hulle sal ’n skerp paal van onder af in haar liggaam inforseer sodat sy haar van binne doodbloei.

Die familie vertrek toe die son skaars op is. Een ma bly saam met die kinders agter by Ugogo, wat nie meer so ver kan loop nie. Die mans loop heel voor met die harde, droë vel van ’n voorvaderbees wat die isangoma gesê het hulle moet saambring. Twee beeste word ook aangejaag en die diere se koppe wieg heen en weer terwyl die groot, sagte oë voor hulle uitkyk.

’n Hele paar treë agter hulle loop Thabisa en die ander vier.

Die res van die vroue volg nog verder terug.

Die seuns wat met die beeste op pad na die weiplek toe is, bly op ’n hoogte staan en kyk hoe die familie aanstap. Die jong stemme wat altyd na mekaar roep of met die beeste praat, is stil. Hierdie dag kan die familie ernstig verwond, soos wanneer wildehonde ’n hap uit ’n vlugtende bok skeur.

Alles lyk somber by die kraal waar isangoma woon. Eenkant staan die mans en groet slegs met ’n handgebaar voor ’n ouer man vorentoe kom en die familie vergesel na waar sy by die hek van die beeskraal op ’n sebravel sit. Die twee repe wit bokvel wat oor haar skouers lê en op haar bors en rug kruis, wys sy het gehoor gegee aan die voorvaders se roep, die opleiding voltooi om ingelyf te word sodat sy nou op gelyke voet met mans is. Vroeg vanoggend sou sy aangetrek, die kruiebossie se aftreksel gedrink en alles bymekaar gekry het. Sy is gereed.

“Julle het gekom,” sê sy.

“Ons het gekom. Saam met die vroue,” bevestig Thabisa se oupa.

Die gesig van die figuur op die sebravel is agter ’n gordyn van repe vel versluier. Dit lyk asof sy in vervoering is, net gedeeltelik bewus van die mense voor haar.

Met ’n handgebaar wys sy waar hulle moet sit. Die mans gaan af op hulle hurke en plaas die harde beesvel wat hulle gebring het versigtig voor hulle op die grond, die stertkant op die kopkant oorgevou.

Almal wag.

Die vrou lig haar kop. Haar oë brand van agter die sluier op Thabisa en sy is seker die ander vier voel dit ook waar hulle langs haar saambondel. Die hand met die wildebees se stert daarin lig en beduie.

Hulle skuif onmiddellik uitmekaar na waar sy wys en gaan op hulle hurke. Nou is Thabisa nog banger, ver verwyder van haar ma en familie wat net ’n paar treë agter haar staan.

Die donker oë agter die sluier skuif stadig van een vrou na die ander en Thabisa veg met al haar krag om regop te bly. Floute is die voorvaders se siekte en dit kan die teken wees dat sy skuldig is.

Wat sien isangoma by my? Sy durf nie wegkyk nie, hoor ook niks wat om haar aangaan nie. Slegs die vrou op die swart-en-wit vel bestaan. Haar oë sien meer as gewone mense. Haar ore hoor alles, tot in emathunzini waar die voorvaders gaan praat. Net sy sal hoor wat hulle sê.

Eindelik draai isangoma haar oë weg van die vyf vroue wie se asem oor hulle droë lippe begin stoot. Armbande uit beentjies ritsel terwyl sy tydsaam die voorwerpe op die vel voor haar rangskik. ’n Houertjie hang om haar nek. Nog ander voorwerpe waarin haar magiese kragte lê, is ’n skild waaragter lewe en dood dit gaan uitbaklei. En die familie wag op die uitslag, vasgevang tussen die instink om te beskerm en vrees vir die bose.

Die vrou tel twee skulpe op en sit dit eenkant neer, vat drie gladde klippe en hou dit vir ’n rukkie tussen haar twee hande.

Thabisa hou asem op, maar die vrou sit die klippe weer neer en doop die wildebeesstert in ’n kleipot. Sy sprinkel vloeistof oor al die voorwerpe voor haar. Lig ’n velletjie op en besprinkel ook ’n bondel stewige, reguit stokke wat met ’n riempie vasgebind daaronder lê. Al die stokke is die lengte van ’n voorarm. Buiten die een stok, dis langer.

Dit sal die vinger wees wat gaan wys.

Lam van onsekerheid wag almal, maar isangoma plaas die vel terug oor die bondel stokke om dit koel en donker te hou. Voorvaders hou nie van son nie.

Sonder om op te kyk, wys sy na die mans met hulle knopkieries. “Emhlabathini!”

Hulle gee dadelik gehoor en slaan die grond.

Stof walm op uit die aarde en die vrou sit doodstil in die rumoer.

Praat die voorvaders nou? Wat sê hulle vir haar? Wie van ons is dit?

Een van die vier wat die gordels van maagde dra, of die een wat getroud is?

“Eboyeni!” kom die bevel weer. Die mans se kieries swaai na die beesvel en hol doodsklanke walm saam met stof daaruit op terwyl hulle dit moker.

Die vrou maak haar oë toe en kyk binnetoe. “Daar is iets in julle umuzi …” sê sy uiteindelik, asof uit ’n droom. “Dis abathakathi.”

Die mans trommel harder op die beesvel om haar woorde te bevestig. Broei die moontlikheid van ’n heks dan nie al vir baie dae by hulle nie?

“Dit het ’n kind binne-in sy ma laat doodbloei.”

Die mans kyk geskok na hulle vroue en dié kyk verbaas na mekaar. Hulle weet nie van so iets nie. Die stokke op die beesvel raak stiller, tril nog net liggies in die mans se hande.

“Die kind was nog baie klein.”

“Siyavuma!” kom dit uit een mond en die kieries werk weer harder. Dis waar. Dit moes klein gewees het, want hulle het nie geweet van hierdie kind wat wakker gemaak was nie.

“Emhlabathini!” beveel die vrou. Hulle moet weer die grond slaan.

Hulle gehoorsaam. Die lug stik van stof en Thabisa kry skaars asem.

“Dit was die vrou se eerste kind.”

“Siyavuma!” Hulle slaan nog harder. Dit móés ’n jong vrou gewees het. Die ouer vroue weet van beter en sou vir mekaar gesê het.

Versigtig lig isangoma die stuk vel op.

Thabisa se oë is vas aan die vingers wat die riempie losknoop en die stokke in haar hande saamvat. Die vrou se oë gaan toe; sy luister hoe die kieries werk en haar lyf begin ruk van die kragte wat in haar skud.

Uiteindelik kom dit tot bedaring.

Sy draai die stokke regop om op hul punte te staan.

Dis grafstil. Thabisa se kop duisel, haar asem sukkel.

Die hand wat die stokke vashou, vervaag, word ’n dier op lang bene.

Toe ruk die hand weg en die stokke kletter oormekaar.

’n Kreun gaan tussen die mense op, maar niemand roer nie. Vrees en ontsag maak hulle klei. Die heks moet nou aangewys word. Hierdie onsekerheid dryf hulle tot waansin.

Die vrou kyk op en beduie almal moet opstaan.

Hulle gehoorsaam.

Voorwerpe skud en ritsel om haar arm terwyl haar hand beduie. “Hierdie lê mooi en maak mekaar sterk. Maar dié vinger, hy wys umthakathi.” Thabisa se hart wil gaan staan. Sy kan nie mooi sien waar die lang stok is nie en sy durf ook nie ’n oog knip nie.

Die sangoma tel die stok op en Thabisa se asem wurg in haar keel.

’n Ewigheid duur dit voor die vrou haar hand met die stok uitskiet. “Daar.”

Sy wys na mý.

Toe sak Lungile met ’n kreun op die grond langs Thabisa neer. Die stok het na háár gewys.

Almal bly eers versteend staan. Dan bars krete van verligting uit meer as een keel. Ook woede.

Die mans dring nader om by die heks te kom, met haar af te reken.

“Nee!”

Jabu tree vorentoe met die knopkierie in sy hand en verbystering sak oor almal se gesigte. Hoe durf hy inmeng? Het sy vrou hom reeds haar handlanger gemaak? Verskriklik.

Die Oudste steek sy hand uit om vir Jabu teë te hou.

“Nee,” herhaal Jabu met sy sterk stem. “Wag eers.”

Voor iemand kan reageer, loop hy na waar Lungile op die grond lê en ruk die knopkierie tot bokant sy kop. Met geweld bring hy dit op sy vrou se skedel af.

Op die laaste oomblik knyp Thabisa haar oë toe.

Die plofgeluid laat haar maag tot in haar keel opruk en sy weet nie of dit ’n vrou se dood is wat sy hoor en of ’n bose mag vermorsel is nie.

Sy hou haar oë toe terwyl die mans Lungile wegsleep en sy hoor ook niks toe hulle die paal in die sagte, jong liggaam opdryf nie.


Alles is afgehandel en isangoma stuur ’n medisyneman saam met die familie terug om sy werk by hulle umuzi te gaan doen. Hy kou die kruiemedisyne wat hy saamgebring het fyn en slurp ’n bietjie water op om dit mee te verdun, loop van een hut na die volgende en sproei van die mengsel daaroor. Wanneer sy mond leeg raak, kou en slurp hy weer en herhaal die proses. Ook by die beeskraal.

Klaar met hierdie behandeling, gaan haal hy houtpenne uit ’n velsak en smeer iets daaraan. Met ’n skerp klip maak hy ’n holte aan die regterkant van elke hut se opening en sit ’n pen in die grond. Ook by die beeskraal se hek, buite-om die umuzi en op al die ander plekke wat vir hom belangrik is, plant hy een van die penne. Toe hy daarmee klaar is, kry hy ’n vet os as vergoeding en vertrek weer.

Die Oudste neem ’n gloeiende stomp uit die vuurmaakplek en druk dit in die hut waarmee Thabisa vir Lungile gehelp het. Blitsig vat die dekgras vlam en die hele hut brand af tot net as oorbly. Die heks se naam sal nooit weer genoem word nie en Oupa slag ’n bees om saam met die voorvaders die noue ontkoming te vier. Toe hy ’n paar druppels uit die galblaas op Thabisa laat val, borrel vreugde in haar op – sy is hier en sy lewe.

Jabu het nie saam met hulle teruggekom nie, net vir hulle oupa gesê dat hy op reis gaan. Die Oudste het nie gevra waarheen nie, want diep in hulle harte was die familie verlig. Dis dalk beter dat Jabu eers ver weg ontslae gaan raak van die heks se invloed.

Thabisa gaan uitgeput op haar slaapmat lê, maar sy kan nie slaap nie. Sy dink aan Jabu. Was dit woede of wou hy Lungile die pyn spaar? Keer op keer hoor sy weer die plofgeluid van die knopkierie en dit vra aanhoudend: Hoe kon dit sy wees? So mooi en sag. Hoe is dit moontlik? Sy wat vir my ’n eie suster geword het.

Trane kom by die hoeke van Thabisa se oë uit en loop teen haar slape af. Sy kan dit nie keer nie. En sy wil ook nie.

Diep spoor

Подняться наверх