Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 8
2 Land van amaZulu
ОглавлениеTHABISA NEURIE TERWYL SY AANSTAP met ’n leë kleipot op haar kop en arms wat los langs haar sye hang. Stof warrel onder haar voete uit, sif weer agter haar neer.
Sy kan die voetpad toe-oë loop, maar sal dit nie waag nie. Van kleintyd af is sy geleer haar oë moet kyk waar haar voete loop. Sy moet weet van die kleinste ritseling in die gras, elke reukie op die wind, asook die roep van ’n dier of voël in die bos. Veral nou terwyl sy alleen rivier toe loop. Maar sy is nooit heeltemal alleen nie, want al loop niemand saam met jou nie, hou die voorvaders jou nog altyd dop.
Naby die rivier gaan sy staan en lig die waterpot van haar kop af terwyl haar oë al langs die oewer soek. Geen bokke wat suip, geen seekoei of uitgestote buffel wat tussen die riete wei nie. Net stilte en die sagte tjeep-tjeep van ’n voël uit die bosse op die oorkantste oewer.
Sy tree tot op die skepklip, buk en stoot die rand van die kleipot onder die water in. Terwyl dit volloop, soek sy oor die stil vloeiende rivier vir rimpelings, dalk die knobbelrige oog van ’n krokodil wat op die water dryf.
Die pot is vol. Sy tree terug en tel ’n klippie op, vryf dit tussen haar vingers skoon en gooi dit in die pot water, ’n stukkie aarde om te help dat sy nie struikel en die ukhamba stukkend val nie.
Sy kniel en lig die swaar las op haar kop. Haar bene knak terwyl sy regop beur, maar die pot sit stewig en sy loop so vinnig sy kan teen die skuins wal uit. Terug op die gelykte, neurie sy terwyl sy met ’n stywe rug en los heupe in die voetpad aanstap.
Soos wat die son elke dag bokant die kliprante uitkom en saans agter die bosse daar ver voor haar wegsink, so volg haar lewe ook ’n vaste baan. Die seisoene slaan takkraaltjies om haar dagtake, bepaal wanneer sy sal help plant en saai, dan weer skoffel en eindelik die oes aandra huis toe. Maar die res van haar dae loop sy vry rivier toe vir water, soek fynhout en speel met die ander kinders. Soms verlang sy na iets anders, maar sy weet self nie na wat nie.
Sy steek in haar spore vas en haar hande vlieg na die pot om dit bo te hou. Voor haar in die voetpad lê ’n sleepsel oor haar eie spore!
’n Slang het hier verbygegaan terwyl sy by die water was.
Sy onthou weer haar droom van ’n ruk gelede, die yslike slang wat hulle kraal met haar hele familie ingesluk het. Sou dit wel iets beteken het?
Sy draai haar kop versigtig een en toe weer ander kant toe. Nêrens sien sy ’n slang nie. Dis net gras, hier en daar ’n oop kol grond met spore of mis van diere, tekens van alles wat hier lewe. Nes sy en haar familie maak dit deel uit van ’n dubbele werklikheid – die lewe van hier, en dié van emathunzini, waar mense gaan woon wanneer hulle na die skadukant toe oorgaan. Alles daar is presies omgekeerd van hier, maar die twee wêrelde is een, die bo- en onderkant van ’n mens se hand. Hier het mense ’n donker vel, sodat hulle mekaar helder oordag kan sien, maar daar is hulle velle lig omdat hulle in donker leef. Selfs al sien jy nie jou skaduwee nie, is dit altyd by jou, net soos die voorvaders ook altyd daar is.
Is dit die sleepsel van ’n mamba dié? ’n Voorvaderslang miskien? Of is ’n bose gees hier verby? Was haar droom dalk ’n waarskuwing?
Haar oë soek verder aan in die voetpad, kom weer terug na die streep voor haar in die sand. Nee, wat sal die voorvaders met haar, ’n kind, te doen hê? Sy skep asem, versit haar voete en tree bo-oor die sleepspoor. Net ingeval, want om onverskillig te lewe is so goed as om ’n leeu aan sy stert te gaan pluk.
’n Paar druppels water stort uit die kleipot en val op haar skouer, gly in ’n koel streep af oor haar een bors wat nog net begin opstaan.
Sy glimlag. Sy gaan een van die dae die oorgang van kind na jong vrou maak, het haar mama gesê. Die neurie in haar keel kry woorde. “Nie meer lank nie, nie meer so lank nie …”
Thabisa neem die pot water na waar Mama besig is om bier te maak vir haar broer Jabu se troue. Bier is die kos van die voorvaders en moet baie versigtig berei word. ’n Vrou wat swanger is of die vorige nag by haar man geslaap het, dra te veel hitte en mag nie daarmee werk nie.
Mama kyk skaars op toe Thabisa die pot water neersit. Haar mama is gespanne. Fyn sweetdruppels pêrel op haar voorkop toe sy ’n kalbas vol water skep en by die slap mengsel voeg wat oor die vuur verhit. Hoe mooi ’n mens ook al werk, iets kan nog altyd skeefloop met die bier. En sonder bier kan daar geen fees wees nie, terwyl bier van swak gehalte ’n skande is.
Toe al die stappe van meng, verhit en meel byvoeg voltooi is, maak haar twee mamas die houers onder ’n skaduboom staan om af te koel. Nou kan hulle net wag vir borrels om daarop te vorm, dan is die bier goed gemaak.
Elke dag word veldkosse versamel en in die kookhut links van die hoofhut gestoor. Die vroue se plek is links en hulle sit en slaap ook in die hut aan die linkerkant terwyl die regterkant vir mans bedoel is. Net met sekere seremonies word dit andersom gedoen.
Thabisa se pa’s het reeds met haar oupa ooreengekom watter beeste nog vir ilobolo uitgekeer en watter tydens die fees geslag sal word. Die ma’s het houers bymekaargesit en die pa’s gevra om nog ’n mandjie vir dikmelk te vleg, asook ’n nuwe mat om vleis op te bedien. Op die plek waar die mense moet dans, skarrel Thabisa saam met die anders kinders om klippe op te tel en eenkant op ’n hoop te gooi. Hulle loop ook ver die veld in om dikker stompe te soek waarmee groot vuur gemaak kan word en dra dit in spanne na die umuzi toe terug.
Dié aand sit Thabisa saam met die res van die familie om die vuur. Hulle het klaar geëet en kleineres wat sukkel om hulle oë oop te hou begin teen ouer susters skuins lê.
Thabisa staar in die vuur. ’n Heerlike feestyd wag op hulle. Sy is veral bly vir haar broer se onthalwe, want die koning het baie jare vir Jabu as ’n soldaat vasgehou. Shaka was altyd honger vir oorlog en Jabu het dié harde lewe leer ken.
Hy was nog ’n jong man toe hulle amabutho teen die Ndwandwe gaan baklei het. Jabu het eers onlangs vir hulle vertel dat vyf van Zwide se seuns in die gevegte gedood is. Die rivier se water het in bloed verander voordat Zwide se mense voor die leeus van Shaka begin vlug het. En dit was net die begin.
Shaka het al hoe meer krale aangeval en onder hom ingetrek. Sy gebied het groter geword en hy moes meer familiehoofde se stertvere pluk, hulle soms heeltemal stilmaak. Party van die soldate was later so volgeëet van die bloedkos dat hulle wou kots.
Nou kan Jabu trou en met sy lewe aangaan, met ’n gesin begin.
Die vuur is feitlik uitgebrand, maar almal bly sit, onversteurd ten spyte van ’n jakkals se getjank in die skemer bosse agter hulle.
“Ek sal ’n storie vertel,” verbreek Ugogo die stilte en soos mes is die kleinspan regop, skuif hulle nader aan hulle ouma.
Die kinders se ogies wys wit terwyl hulle in haar verkreukelde gesig opkyk. Haar gedagtes loop ver om die storie te soek en toe sy begin vertel, skuif hulle nog vorentoe sodat nie ’n enkele woord op die grond kan val nie.
“Eendag was daar ’n pa wat ’n baie mooi dogter gehad het,” begin Ugogo. “So mooi dat ’n belangrike hoofman se seun met haar wou trou.”
Thabisa dink aan Longile, Jabu se geliefde. Sy is ook baie mooi.
“Vir drie dae is groot feesgevier.”
Thabisa luister skaars, want sy ken die storie van die monster wat die ongehoorsame bruid en haar vriendinne in voëls verander. Sy stuur liewer haar gedagtes na hulle eie bruilof wat op hande is.
Hoe sal die feesvierings verloop en wie gaan almal hier wees?
Ugogo se stem kry ’n onheilspellende kleur en Bibi, haar jongste sussie, skuif styf teen Thabisa aan. Sy vou haar arm oor die klein skouertjies en kyk na die res van die kinders. Byna twee hande se vingers sit hulle hier ingeryg met die oë op hulle ouma. Haar familie. Maar vir hoe lank nog? En waarheen sal haar lewe haar eendag lei?
“Toe hou hulle weer ’n groot fees en almal het lank en gelukkig saamgebly.” Ugogo se vertelling het ’n gelukkige einde. Sy lyk moeg maar tevrede, want sy het haar sedeles ook by die storie ingevleg gekry.
So is dit, dink Thabisa. Stories is deel van hulle lewe, nes die vuur se warmte en die jakkals se roep. ’n Velkombers waaronder die voorvaders hulle kinders toemaak en hulle weghou van die mbulu daar buite.
Sy gaap, kom regop en tel Bibi op. Voor die hut waar hulle slaap, bly sy eers staan en kyk op. Die maan is meer as halfpad vol. Aan haar een kant hou sy vir Bibi op haar heup. Haar ander helfte styg op, ’n uil wat deur die donker sweef, verby die baie sterre.
Bruid in haar eie verhaal, hou sy die velkombers styf oor haar skouers vas.
Alles is gereed vir die fees. Die mamas kon gister die bier deur grasmandjies gooi om growwe stukkies te verwyder en Thabisa en haar susters het pas klaar gebad by een van die rivier se veiliger kuile.
“Die mense kom!” roep ’n stem en Thabisa haas haar saam met die susters terug na die kraal.
’n Ent weg kom die bruid se familie al singende tussen die bosse deur aangestap.
Mans loop voor met kleiner skildvelle, stokke en knopkieries in die hand. ’n Beesvel hang agter af, twee ronde punte tot feitlik op die grond. Voor hang sterte uit gedraaide vel van hulle middel tot onder hulle knieë. Dit kolk en swaai om hulle bene terwyl hulle stap.
Heel voor loop die leier met die seremoniële spies in sy hand. Skuins agter hom kom die ringkoppe en elke tree wat hulle gee, is met waardige gesag. Verder agtertoe is die jonger mans wat vrolik en entoesiasties na die fees toe kom.
Dis al sterk skemer en Thabisa moet mooi kyk om die vroue heel agter te sien. Hulle het velrompe aan en dra matte, mandjies en potte op die kop. Maar van die bruid is daar geen teken nie; sy kruip seker in die groep weg.
Hierdie kraal se umkhulumeli gaan nooi die besoekers nader.
Net voor die ingang gaan hulle weer staan en dit word stil.
Klokhelder klink Lungile se stem op. Die jong bruid sing hulle ingoma.
Thabisa is vasgevang in die suiwer klanke, in die geur van gras en warmgebakte aarde terwyl haar gedagtes terugloop na die hartseer dag toe haar suster, op wie se heup sy grootgeword het, hier weg is. Met meer as haar ore luister sy, want sy en haar familie sal ook eendag só sing wanneer sy weggaan. Dit bring soet en ook suur in haar mond.
Sy kyk om. Haar mama se oë drup hartseer; lank gelede het sy ook só gesing toe sy na hierdie kraal toe gekom het. En daar was nie weer omdraai nie.
Mans en ouer vroue se stemme val by dié van Lungile in, party lig en ander diep. Dit stuur ’n rilling deur Thabisa se lyf en toe die laaste klanke wegsterf, bars ’n gil oor haar en die vroue om haar se lippe.
“Hli! Hli! Hli!” verwelkom hulle die besoekers.
Die volgende dag sit Thabisa saam met haar familie op die gras en wag. Die rook van kosvure draal oor die bosse daar waar Lungile se familie ’n oorblyplek vir hulle gemaak het, maar dit kan nog ’n rukkie wees voor enigiets gebeur. Lungile moet eers versier en gereed gekry word. Buitendien, ’n mens moet geduldig wees, niks word deur haas bereik nie.
Die son brand al op haar kop toe daar uiteindelik ’n roering is en mans van die bruid se familie, gevolg deur vroue, al singend tussen die bosse deur naderkom.
Waar is Lungile?
Daar. Agter tussen die vroue is sy met grasmatte afgeskerm.
Die groep skuif uitmekaar. Dit is die oomblik waarop almal wag.
Lungile en die vriendinne van haar ouderdom, almal met lang velrompe aan, arms en gesigte rooi gesmeer, kom vorentoe. Die meisies het gevlegte enkel- en armbande aan en hou stokke in die hand, maar alle oë is op die bruid.
Ryklik versier en opvallend mooi is haar hare vir die eerste keer hoog op haar kop opgewerk. Die lang stertvere van ’n rooikeelflap is regop agter haar ore ingedruk en die wit sterthare van ’n bees vloei langs haar arms en bene af. Oor haar een skouer hang ’n gevlegte tou en sy hou ’n piepklein skildvelletjie in haar linkerhand en ’n assegaai se punt omhoog in haar regterhand.
’n Oom van die bruid kom vorentoe, lig sy hand om stilte te vra. “Daar is sy! Lungile, die meisie van ons kraal vir wie julle …” hy lig al sy vingers omhoog, “… soveel ilobolo beeste gee. Haar naam sê sy was nog altyd ’n goeie, gehoorsame dogter van ons. Werk mooi met haar. As sy siek word, versorg haar en as julle nie tevrede is nie, stuur haar terug na ons kraal toe.”
Die bruidsgroep begin dans. Grasieus, al singende beweeg hulle kruis en dwars oor die platgetrapte gras. In gelid, die bruid gebukkend in die middel, beweeg hulle vorentoe, sywaarts en agtertoe. Al twee families vergaap hulle daaraan en toe Lungile naby Jabu kom waar hy tussen sy vriende op die gras sit, steek sy die assegaaipunt deur die lug in sy rigting.
’n Kreun klink op van die toeskouers, maar Jabu glimlag net effens toe sy hom só as haar bruidegom uitwys.
Die fees duur twee volle dae. Nog beeste word geslag en vleis sowel as bier word elke keer oornag in die hoofhut gelaat vir die voorvaders wat nie soos mense eet nie, maar net aan die vleis lek en klein slukkies van die bier geniet.
Lungile se mense gaan hulle kos by hulle kampplek gaarmaak, eet en drink ook die bier daar. Jong mense van die twee families kom wel bymekaar om te kuier, maar die ouer mense behou meestal hulle afstand en sodoende ook hulle waardigheid. Lungile bly nog afgesonder in die hut wat vir haar uitgehou is en eet slegs die kos wat van haar ouerhuis af saamgebring is.
Die oggend van die derde dag gaan Thabisa en die ander kinders saam met die vroue wat nog gereeld hulle bloed sien langs die kraalheining staan. Die mans staan binne by die spesiale bees wat, kop omlaag, wag om geslag te word.
Die voorvaders is sekerlik gelukkig met hierdie mooi dier. Beeste behoort aan almal, van die verste voorgeslagte tot by Thabisa, haar broers en hulle kinders. Hulle voorsien die mense van kos, skuiling en klere, maar dis ook die band wat families deur geslagte heen saambind.
Eindelik kan die oudste begin. Hy verduidelik aan die voorvaders dat Lungile deel van hierdie kraal word en vra dat hulle haar hier aanvaar. Toe herinner hy hulle daaraan dat Jabu hitte van hulle nodig het sodat hulle ’n kind in sy water kan skep.
Hy lig sy benerige ou hand. Die lem flits in die oggendson en die bees se voorbene sak met ’n gesmoorde bulk onder hom in.
Bloed borrel by sy bek en neusgate uit.
Jabu se jong vriende wag in spanning terwyl die karkas oopgesny word en toe die oudste die galblaas vir hulle gee, ruk hulle op na die hut waar Longile en haar bruidsmeisies skuil. Die opening is met stokke en matte toegemaak, maar onder toejuiging van omstanders en benoude gille vanuit die hut forseer die mans hulle pad binnetoe.
Die bruid se vriendinne probeer nog keer, maar die mans slaag daarin om die gal oor Lungile te sprinkel: medisyne teen maagdelike malheid. En omdat sy met dié gal by hierdie kraal ingelyf word, sorg hulle dat nie ’n druppel op een van die ander meisies val nie. Die leë galblaas, met lug gevul, word aan Lungile se arm gebind. Vanaand sal sy Jabu se vrou word.
’n Sustertjie sal hier agterbly om vir Lungile met haar werk te help. Hierdie umuzi is nou haar plek en haar kinders sal aan hierdie familie behoort.