Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 7

1 Stellenbosch, 1826

Оглавление

KATRIEN STAAN IN DIE KOMBUIS. Agter haar is die vuurherd uitgebrand en afgekoel. Voor haar is ’n papier op die klein houttafel oopgesprei en sy kyk met vars oë na die prent wat sy destyds by haar peetma geskilder het. Dis mooi; die blomme lyk werklik, asof dit pas in die tuin gepluk en in die vaas gerangskik is.

Tant Aletta het haar goed touwys gemaak met die verwery. Die tante skilder self ook baie goed. “Jy het oorgenoeg talent, kind. Jy moet aanhou met jou kuns, want jy het dit ook nodig.”

Katrien begin nou verstaan wat tant Aletta bedoel het, want sedert haar troue met Gerrit vyf jaar gelede was daar nie meer sprake van skilderlesse nie en dit het ’n leemte gelaat; daar is eenvoudig nie meer tyd nie. Gerrit het ’n huisskooltjie begin om sy karige salaris as orrelis aan te vul en sy was gou swanger met Fransie. Die knapie was van die begin af woelig en hy hou haar besig. Noudat hy bietjie groter is, word dit makliker. Gerrit neem hom soms saam wanneer hy op die orrel gaan oefen. Ook nie te dikwels nie, want die kind raak verveeld.

Dina is wel hier, maar sy kan ook net soveel doen en niks meer nie.

Katrien kyk weer af na die prent, onthou duidelik die dag toe sy dit geskilder het – die gevoel van die kwas in haar hand, die intense genoegdoening om die waterverf op skoon wit papier aan te stryk. Sy mis dit so verskriklik. Selfs die aanmaak van verf was deel van die afwagting. Wanneer sy die kleurblokkies in perlemoendoppe skuur en die poeier met ’n lekseltjie water meng, was dit asof bloed gevorm word – die lewensbloed van haar prente.

“O, hier’s jy,” sê Gerrit agter haar.

Sy lag. “Waar anders?”

Hy kom nader, sit sy arm om haar skouers en kyk na die prent op die tafel. “Dis goed gedoen, Katrien. My mooi vrou het ’n wonderlike talent.”

“Dis die laaste een wat ek by tant Aletta geskilder het,” skram sy weg van haar verleentheid. Gerrit is die talentvolle een. Hy speel die orrel en ook die viool dat ’n mens jou siel daarin kan verlustig. As jong man het hy in Holland vir dokter gaan studeer, maar sy gesondheid het in die koue gekwyn en hy moes terug na die warm sonskyn hier. Dis net ’n geluk dat hy ook die musiekopleiding daar gekry het.

“Tant Aletta het nogal gesê ek moet dit laat raam,” onthou sy.

“Goeie plan, die voorhuis het iets nodig daar teen die kaal muur.”

“Maar ’n raam sal seker heelwat kos.”

“Ek sal navraag doen. Anders kan Dina se pa miskien help. Herklaas is baie handig.”

“Dis ’n beter plan, ja.” Sy voel opgewonde. “As my ma-hulle weer dorp toe kom, kan hulle die afmetings kry en vir hom terugvat plaas toe.”

“O ja.” Dit lyk asof iets hom byval. “Ek het netnou vir dokter O’Flinn raakgeloop. Hy het ons vir aandete genooi. Ou Dominee en tant Aletta sal ook daar wees.”

“O, heerlik! Ek sien deesdae so min van my peetouers. Dina kan vanaand vir Fransie in die bed sit, hy’s gek na haar.”

By die dokter se huis is ook ’n vierde man, ’n lang, bruingebrande boer uit die Oos-Kaap. Hy moet in sy vroeë dertigs wees, skat Katrien toe Stefaans du Toit aan haar voorgestel word.

“B-bly te kenne.” Sy stem is diep en hy stotter effens.

Sy skud die grofgewerkte hand, bewus van sy oë op haar gesig. Hopelik wys die hitte in haar wange nie.

Al sewe mense pas met gemak om die eetkamertafel. Die dokter en die predikant sit aan die twee koppenente. Katrien sit tussen Gerrit en Elaine O’Flinn aan die een sykant en oorkant haar is Ou Dominee se vrou, Aletta, met Stefaans langs haar.

Katrien kan die man beswaarlik miskyk.

“En wanneer kom jy weer verf?” vra Aletta. “Ons mis jou kuiertjies.”

“Ek ook.”

Die aandag verskuif na Ou Dominee wat vra dat hulle hul hoofde vir die tafelgebed buig. Hy het skaars “amen” gesê toe ’n vrou met gestyfde voorskoot en skinkbord in die hand van die kombuis se kant af inkom. Sy plaas ’n kommetjie ertjiesop voor elk van die gaste en verdwyn weer sonder ’n woord.

Tussen die etery deur gesels die mans oor nuus van die dorp en oor politiek in die algemeen, maar Stefaans sê niks. Hy luister en knik nou en dan sy kop om te wys wanneer hy saamstem. Sou dit sy spraakgebrek wees wat hom terughou? Met sy donker hare en oë is hy presies die teenoorgestelde van Gerrit. Hy het ook nie die gemaklike openheid teenoor mense nie en gee min van homself weg.

Die vrou kom haal die leë sopkommetjies, neem dit kombuis toe en is gou weer terug met ’n gebraaide skaapboud op ’n plat skottel.

Geurige stoom hang oor die vleis en O’Flinn toets eers die kerfmes op ’n los stukkie vel voor hy skyfies begin sny. “Ja, hier by ons gaan dit darem nog, maar daar in die Oos-Kaap waar ons vriend vandaan kom …” Hy beduie met sy kop in Stefaans se rigting. “Daar gaan dit broekskeur.”

Asof die woorde ’n deur in die vreemdeling oopmaak, begin hy vertel van hulle probleme met die Engelse administrasie en hulle onvermoë om die Xhosa-strooptogte hok te slaan.

Katrien, wat nog met die dokter se vrou oor kinders en hulle kwale gesels het, se aandag raak vasgevang by die sonbruin hande waarmee Stefaans sy frustrasie aan hulle uitlê. “Om alles te k-kroon, val ons versoeke vir ’n skool op d-dowe ore. Ons weet nie meer watter kant toe nie.” Hy kyk reguit na Gerrit. “Het ons maar iemand soos jy daar gehad. Ons is b-boere. Nie een van ons kan ’n skool onderneem nie.”

Gerrit knik en moedig hom aan. “Skool is belangrik, ja.”

“D-daar’s wel ’n skooltjie van ’n jong dame, een van die Setlaars, by die Kaapse Regiment.” Sy blik skuif dringend van een gesig na die volgende om die tafel. “Maar dis weer alles Engels.”

Katrien skram weg voor die donker oë toe dit by haar kom. Dit voel te veel asof hy iets by haar soek, asof hy dink dat hulle mekaar van iewers af ken. Sy bepaal haar aandag eers by tant Aletta wat lustig eet en kyk toe na die res van die vertrek: die blinkbruin buffet met kerfwerk versier, die ander gaste aan tafel.

Hierdie toneel sou geskilder kon word. Elke gesig is so verskillend van die ander. En wat, of moet sy liewer vra wie, sal die fokuspunt wees?

Stefaans stoot sy vingers deur sy donker hare en sy diep stem vul weer, effens sagter, die vertrek. “Dokumente, b-briewe, alles is in Engels en die meeste b-boere kan beswaarlik Hollands lees.”

Hy praat moeiliker wanneer hy onseker is. Is dit hoekom hy so lank gewag het? En Gerrit as onderwyser het begrip vir die probleme waarvan hy praat. Maar daar is iets in die man wat oorkant haar sit; dis asof hy almal se gedagtes vasvang. Hy vertel van groot uitdagings, van onmin en onrus, stel vir haar en Gerrit ook daaraan bloot. Dit kan hulle twee heeltemal van hulle veilige wentelbaan af trek.

Sy verlang skielik na haar kind. Slaap Fransie al?

Sonder om veel te proe, eet sy verder, vermy die man oorkant haar se donker oë en wag gespanne dat die aand tot ’n einde kom. Sy wil terug na die beskutting van hulle eie huis gaan.

Dina lig die punt van die kombers op dat Fransie kan inkruip. “Een storie en dan moet jy mooi slaap, gehoor?”

Sy blou oë is vol afwagting. “Van toe julle op die plaas gespeel het.”

“Die plaas, ja. Dis lank gelede. Jou ma was nog klein, seker omtrent nege en ek so amper ses toe jou oom Johannes die boer op die plaas geword het.”

“Hoekom?”

“Jou oupa was nie gesond nie en het gereken Johannes kan met die boerdery aangaan. En ook maar goed, want net ’n paar jaar later is hy oorlede.”

Die kind se oë rek. “Was hy al groot genoeg?”

“Natuurlik. Hy en jou tante is baie ouer as jou ma. Sy was die laatlam en lekker bederf ook.” Die seun frons. “Nou nie op ’n lelike manier nie, hoor. Sy het net nie so hard gewerk soos die ander twee nie, maar sy was ook nie baie gesond nie. Ons twee het lekker van die môre tot die aand gespeel.”

“Ja, vertel daarvan.”

“Meestal pop gespeel. Katrien met die regte pop en ek met die lappop.”

“Het jy ook met die regte pop gespeel?”

“Nee, jou ma het geweier, gesê ek sal hom breek.”

“En sou jy?”

“Natuurlik nie. Sy het glasoë gehad en ronde wange met rooi lippe. Die hande was soos regte handjies met al vyf vingertjies, te pragtig.”

“En die lappop?”

“Ai, jy vra darem baie vrae. Maar dis seker ook goed.” Hy wag vir nog beskrywings en sy kan hom nie teleurstel nie. “Ek het mos al vertel hoe dit gelyk het. Heeltemal van lap en die kop was net rond met oë en ’n mond daarop geborduur. Dit het ’n duim gehad en die res van die vingers was sommer net saamgebondel.”

Hy lag. “En deurmekaar wolhare, het jy gesê.”

“Ja, ek kon dit nie kam of vleg nie.” Amper soos haar eie, maar dit sê sy liewer nie. Want destyds het sy juis gedink dis dalk omdat die lappop se ouers ook slawe was, nes haar eie ma en pa.

Dina glimlag. “Elke aand het ek gedink: Môreoggend as ek wakker word, sal die lappop ook ’n regte pop wees, met vingers en blink oë en mooi klere.”

Fransie kyk ingedagte na haar. “En het dit nie?”

“Natuurlik nie. Toe ek groter word, het ek ook geweet dit was nie moontlik nie. Buiten natuurlik as daar in die nag ’n wonderwerk was.”

Hy skud sy kop effens. “Vertel liewer weer hoe Mamma die dokter was.”

“H’m. Dit was net ná jou ouma haar dokter toe gevat het, toe sê Katrien sy is nou ’n dokter en ek moet die lappop bring vir ’n ondersoek. Sy het ’n lepel by die pop se mond gehou en ‘aaaa’ gesê. Toe druk sy die soutpot op die laplyf en hou haar oor daarteen. Dit het kompleet gelyk of sy iets daarbinne hoor wat doodsake is. Ek was sommer baie bekommerd en ek was bly my ma het my nog nooit na ’n dokter toe gevat nie.”

Fransie lag uit sy maag. “Vertel nog.”

Dina sug. Wat is daar nog?

Sy kan nie vir Fransie verduidelik dat die lewe nou eenmaal nie regverdig is nie. Dit het haar eie ma haar kleintyd al geleer. Dat sy ’n slawekind is wat in buitekamers langs die perdestal bly terwyl Katrien in die groot huis woon. Wanneer hulle eiers uithaal of speel, was Katrien ’n ouer suster, maar net tot slaaptyd, of tot Katrien netjies gaan aantrek om iewers heen te gaan.

Fransie kyk steeds met afwagting na haar. Nee, sy sal iets moet vertel wat hom vaak maak, anders kom hy nooit tot rus nie.

“Ons het die hele plaas vol gespeel,” begin sy in ’n egalige stemtoon. “By die spruit het ons huisies gebou tussen die bamboese, ook spoelklippe opgetel. Party het mooi kleure gehad en die mooistes het ons huis toe gebring. Daar was gelerige klippe en wittes, ander weer pienkerig …” rek sy haar beskrywing, “en ons het dit daar onder ’n boom gepak. Ek sal vir jou gaan wys as ons weer daar kom.”

Fransie reageer nie; sy oë begin toegaan.

Sy wag nog vir ’n rukkie, trek die kombers op tot onder sy ken en soen hom op die voorkop. “Lekker slaap,” fluister sy en loop op haar tone uit, maar trek nie enige deure toe nie. Sy wil kan hoor as hy wakker word.

In haar kamer gaan sy met klere en al op haar bed lê om vir Katrien-hulle te wag. Die vertrekkie is klein en was oorspronklik ’n stoorplek langs die kombuis. Katrien het dit vir haar as slaapplek ingerig toe sy ver swanger was en haar ma besluit het haar dogter het hulp nodig. Dina se ma, Aurora, het beswaar aangeteken, maar Dina was maar te bly om dorp toe te kom, want sedert Katrien getrou en op die dorp kom bly het, was die plaaslewe uiters vervelig.

Dina sug en bring haar aandag terug na die kamer en die bed waarop sy lê.

Katrien het moeite gedoen vir haar, die bed oorgetrek met ’n vrolike bont deken en ’n bontebokvel vir die afklim neergesit. “Dan is die sementvloer nie so koud nie.”

Van daardie dag af het Dina se lewe handomkeer verander. Dit was duidelik dat Gerrit nie in die slawebesigheid glo nie en hy het sommer daardie eerste oggend al vir haar gesê sy moet ’n stoel uit die kombuis gaan haal en saam met sy agt leerlinge by die eetkamertafel kom sit. Sy kon dit nie glo nie; gedink sy hoor verkeerd.

“ ’n Bietjie boekekennis voor jy met die huiswerk begin, kan nie skade doen nie,” het Gerrit gelag toe hy haar gesig sien.

Katrien het haar verder aangemoedig. “Toe, Dina, die huiswerk kan eers wag.”

Dié herinnering stoot weer trane in Dina se oë. Sy het nog altyd vir Katrien beny en dit was nie soseer oor die pop of Katrien se musiek- en skilderlesse nie. Dit ook, ja, maar veral om te kon lees en skryf.

Daardie dag het sy gedoen wat ma Aurora haar aangeraai het toe sy van die plaas af weg is. “Gryp jou geleenthede met al twee hande, my kind, en maak die beste daarvan.” Vandag kan sy mooier skryf as enige van die leerlinge wat in Gerrit se skooltjie sit.

Wie sou ooit kon dink sy sou op sewentien haar eie kamer hê en boonop saam met die huismense aan tafel eet. Geen ander slawekind was nog ooit so gelukkig nie.

En wat die toekoms betref …

’n Jong vryburger uit ’n ver land kom hier op Stellenbosch aan, droom sy met oop oë. Hy sien haar die eerste keer in Dietz se winkel waar sy geld uit die beurs haal om te betaal en hy wonder wie sy is terwyl hy diep in haar oë kyk. Sy loop vinnig weg, voor hy ’n woord kan sê. Maar hy kom agter haar aan, tot op die rivierwal waar sy gaan staan het. Sy lig haar kop en hy kyk na haar nes Gerrit na Katrien kyk as hulle dink niemand sien nie.

Haar hart gaan aan die klop. Die vryburger vra om haar weer te sien, want hy kan nie sonder haar lewe nie. Sy sê niks en toe gaan hy sommer net daar af op sy een knie en vra of sy met hom sal trou. Nes Gerrit destyds.

In haar ma se woorde verduidelik sy vir hom dit is onmoontlik, sy is ’n slaaf. Maar hy is jonk en vurig, hy daag die hele dorp uit. Ook sommer die man van die winkel wat partykeer so onbeskof kan wees. Miskien kan dit ’n tweegeveg afgee. Ja, met swaarde, soos Gerrit eenkeer vertel het dit daar in ver lande gebeur.

Al wat leef en beef, is op die Braak bymekaar, die oop gedeelte in die middel van die dorp waar die soldate hulle driloefening hou. Haar ma en pa is ook daar. Dalk kan broer Daniël uit die Kaap kom. Dis vroegoggend en sy staan eenkant, haar gesig agter die sluier wat van haar hoed se rand afhang. Mense wonder wie die geheimsinnige vrou in swart kan wees, maar niemand waag dit om nader te kom of met haar te praat nie.

Die twee mans tree aan. Swaarde kap en flits in die son. Dié kant toe en daai kant toe. Eindelik kry hý die oorhand en lig sy swaard vir die doodsteek.

Nee, hy laat dit met ’n klein glimlag weer sak en spaar die skarminkel se lewe. Die mense juig oorverdowend. Almal dring vorentoe om sy hand te skud, maar hy draai sy rug op hulle en kom na haar toe.

Doodse stilte daal neer. Die verloorder se mense laat hulle koppe in skaamte sak. Ou Dominee kan dalk iets sê, hoe mooi dit is om te vergewe of dat ’n mens nie ’n ander moet minag nie of … Nee wat, hy moet self besluit, want haar held kniel nou voor haar. Terwyl almal toekyk, vat hy haar hand en soen dit. Toe kyk hy op en vra hard, sodat almal kan hoor: “Sal jy asseblief met my trou?”

“Ja,” fluister sy in die halfdonker kamer waar sy op haar bed lê.

Diep spoor

Подняться наверх