Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 20

14 Op reis na die Oos-Kaap

Оглавление

DIE EERSTE WEEK gaan vir Katrien soos ’n droom verby. Haar dae is ’n klein avontuur oor kronkelpaaie en, meer nog, ’n reis op onbekende terrein tussen haar en Stefaans. Hulle kry bedags oorgenoeg kans om te gesels en snags slaap hulle styf teen mekaar in die klein ruimte van die wa. Sy leer haar man se fisieke krag ken, maar ook sy deernis en sy is gelukkig. Haar lyf raak in Stefaans se hande ingesmelt en haar asem is nie van syne te skei nie.

Bedags bly hulle so lank moontlik aan die beweeg. Dit is herfs en die weer is goed vir hulle. Stefaans en Abel het die roete al dikwels gery en weet waar om te oornag of waar goeie weiding is om vir ’n paar uur uit te span. Dan stoot hulle weer aan tot sononder.

Hulle ly nie honger nie, want linnesakkies met biltong, droëperskes en rosyntjies hang teen die binnekant van die wa. Saans braai hulle vleis en sny van die brood of eet beskuit wat Katrien se ma ook saamgegee het. Dan steek Stefaans die pitlamp aan en hang dit teen ’n paal langs die wa. In die ligkring wat hulle van die wye, donker nag afskerm, vat hy die Bybel en slaan dit oop. Die lig is dof en met sy vinger moet hy die woorde oor die bladsy volg.

Diep spoor

Подняться наверх