Читать книгу Diep spoor - Jeanette Stals - Страница 13

7 Stellenbosch

Оглавление

’NPAAR MAANDE NÁ GERRIT SE DOOD skryf Katrien vir Fransie by die goewermentskool in. “Jy is baie jonk,” sê sy. “Maar dis wat jou pa sou wou hê. Dat jy net so slim word soos hy was.”

’n Week later kom hy dikmond by die huis. “Ek hou nie van skool nie.”

“Hoekom dan nou?” wil Katrien weet.

“Meester Brown maak nie reg nie.”

“Jy bedoel hy is nie Pappa nie?”

“Nee, hy is nie.”

Fransie was nog klein toe hy al op die bank in die voorhuis gesit en dophou het waar Gerrit die kinders leer. Soms het hy aan die slaap geraak, maar meestal het hy grootoog na Gerrit se lesse geluister.

“Wat doen hy wat anders is?” probeer Katrien agter die kap van die byl kom.

“Hy praat net Engels en hy slaan ons as ons nie verstaan nie.”

“Vir jou ook?”

“Nee. Maar hy sal nog.”

“Sekerlik net as jy stout is, Fransie. Is die anders kinders baie stout?”

Hy lag. “Party seuns trek gesigte as Meester nie kyk nie.”

“Nou ja, dan kan jy mos verstaan dat hy die lat moet swaai.”

Fransie raak weer ernstig. “Maar Pappa het altyd vertel van Holland. Al die plekke op die kaart gewys. Die kinders het nie gesigte getrek of geraas nie.”

“Jou pa was ’n besonderse mens, Fransie. Daar is nie nog so ’n onderwyser soos hy nie.” Sy vryf oor haar seun se kop. “So, jy sal maar skool toe moet gaan en mooi vir meester Brown moet luister.”

“Maar die ander seuns—”

“Wat van hulle?”

“Hulle is baie groter as ek.”

“Dis omdat hulle plaaskinders is, eers skool toe kom as hulle al sewe of agt is. Maar Benjamin wat soggens saam met jou loop, is net ’n rapsie ouer as jy.”

“Dis nie regverdig nie,” hou Fransie vol. “Ons is die enigste twee wat nie kan perdry nie, al die ander kan al.”

“Oom Johannes leer jou tog.”

“Maar hoe kan ek ordentlik leer as ons nooit meer plaas toe gaan nie?”

Katrien sug. “Ons sal ’n plan maak. Intussen moet jy maar net hard leer in die skool. Miskien kan jy ook eendag in Holland gaan studeer, soos Pappa.”

Meimaand staan Dina voor die venster, kyk na die hope blare wat deur die noordwestewind in die agterste hoek van die tuin opgestapel is. Die reën is vroeg vanjaar en dit val met mening. Eergister het sy die wasgoed in die kombuis opgehang om dit droog te kry. Nou kan sy eindelik begin stryk.

Terwyl sy besig is, kom Fransie ook kombuis toe met Gerrit se vioolkas in sy hand. Hy maak hom op ’n stoel tuis, knip die kas oop en haal die viool uit. Bekyk dit van alle kante en pluk effens aan die snare. Toe laat hy die strykstok liggies daaroor gly. Hy weet waar die musiek vandaan moet kom.

“Ek wens ek kan speel.”

“Hulle sê dis baie moeilik. Jy sal eers les moet kry.”

Hy trek ’n suur gesig. “Dan los ek dit liewer,” brom hy en plaas die instrument versigtig terug in die vioolkas. “ ’n Onderwyser sal net nog ’n mister Brown wees.”

“Uiteindelik klaar met die wasgoed.” Dina kyk in die skemer vertrek rond. “Dis darem te spokerig om vieruur agtermiddag al in die donker te sit. Olie is duur, maar ek gaan nou die lamp aansteek. Gaan kyk jy waar’s jou ma dat ons lewe in die huis kry.”

Sy hou vir Fransie dop terwyl hy in die gang af loop en by Katrien se kamer ingaan. “Hoekom sit Mamma so?” hoor sy hom vra.

Katrien klink lusteloos. “Ag, ek sit sommer. Luister na die reën. En wat doen jy?”

“Dina sê ek moet vir Ma kom roep. Ons kan dambord speel.”

“Nee wat, jy en Dina kan speel. Ek sal net kom kyk, ek’s te oud.”

“Ma is g’n oud nie. Oupa is al grys en hy speel nog.”

Dina gaan vinnig terug om by die kombuistafel te gaan sit. Hulle hoef nie te weet sy het afgeluister nie. Dis nie nuuskierigheid nie, dis bekommernis, want Katrien moet nou weer aan die gang begin kom.

Katrien bly by haar besluit en kyk net hoe hulle speel, want dis asof die koue, triestige reën tot in haar binneste deurgesak het. Sy is ’n plant wat al hoe langer en dunner rek op soek na son en warmte, maar bereik niks anders nie as om tingeriger en meer onvas te raak. Sy verlang na haar man, maar sukkel om Gerrit se beeld in haar gedagtes op te roep. As sy probeer, kom die swart hare en donker oë van ’n man wat sukkel om te praat soms tussenin. En hulle albei is vir altyd weg. Sy sal eenvoudig self moet opsnork, alleen moet sorg vir haar kind en haar huis.

Nee, basta nou met die selfbejammering, betig sy haarself en bring haar aandag terug na die twee weerskante van die dambord.

Dina het dit aan die begin vir Fransie maklik gemaak, maar nou is hy op dreef en sy sukkel om voor te bly. Die seun hou sy oë op die bord, beplan en maak sy skuiwe sonder om te huiwer. Hy lag ingenome toe hy die eerste keer vir Dina wen en pak gou weer die stukke reg vir die volgende rondte.

’n Klop aan die voordeur galm deur die huis.

Die ander twee het net so groot geskrik soos sy. Met die wind en reën het hulle nie perde of voetstappe buite gehoor nie en bly eers sit.

“Maak oop en kyk wie’s dit, Dina, asseblief. Ai, ek hoop nie daar was teëspoed nie.”

Dina gaan binnetoe en die voordeur kraak oop.

“Goeiedag.” ’n Diep stem.

Katrien staan op. “Nooi in die mense, Dina!”

“J-Jammer. Nou laat ek die vloer natdrup.”

Katrien sak terug op haar stoel. Sy ken die stem. En die hakkel.

Die man troon oor Dina uit en hy buk effens by die kombuisdeur om nie sy kop teen die lae kosyn te stamp nie. Net binne die deur bly hy staan, sy hare blinknat. Donker oë kom op haar tot rus en sy mond versag. “G-goeienaand, Mevrou.”

Sy reageer nie.

“Spyt my d-dat ek so onverwags hier kom.” Hy huiwer. “Ek het pas vanoggend by O’Flinn gearriveer en moet môre weer vertrek.”

Sy kan net na hom staar.

“Stefaans du Toit. Ons het d-destyds ontmoet toe julle ook daar by dokter O’Flinn was?”

Hoe sou sy hierdie man wat oorkant haar by die tafel gesit het, wat soms soos ’n skim by haar spook, ooit vergeet?

“Ek het by Dokter gehoor van u man.” Hy is erg van stryk gebring en hakkel nog meer. “Ek was ná daardie besoek nog nie weer hier nie. Ek wil net my simpatie kom betuig.”

Hy gee nog ’n tree vorentoe en steek sy hand uit.

Dit voel asof die man weereens ’n maalkolk maak wat haar kan insuig en sy kyk weg, na Fransie. Daar is ’n frons en ’n vraagteken op sy gesig. Sy tree nou onlogies op en ruk haar reg, neem die uitgestrekte hand en kry haar stem terug. “Dankie. Dis Dina en my seun, Fransie.”

“Aangenaam.” Hy knik in Dina se rigting en draai na Fransie. “So. Jou pa het my van jou vertel.”

Die man en seun kyk mekaar vas in die oë.

“Wil u nie sit nie? Koffie?” vra Katrien verbouereerd.

Dina het reeds die ketel oor die vuur gestoot en die water begin saggies kla.

“Dankie.” Hy gaan links van haar by die tafel se lang kant sit met Fransie oorkant hom. Dina staan by die vuurherd en die stilte word vol van die gesuis van reën en die geure uit die vuurherd.

Lamplig hou die vier mense in ’n holte saam. Niemand praat nie, asof hulle nie weet watter woorde veilig is om voor die ander neer te sit nie.

Dina bly langs die vuurherd staan, neem waar hoe die man na Katrien kyk asof hy nie regtig woorde nodig het nie.

En Fransie skuif op sy stoel rond. “Van waar kom Oom?” vra hy huiwerig.

Die man draai na hom en glimlag. “Van die Uitenhage-distrik. Dis baie ver van hier af.”

Beslis ’n ander soort ver as Holland.

Fransie kyk steeds strak na die vreemdeling, asof hy probeer peil wat die man hier kom doen. Dina wonder self daaroor. Ook waarom die vreemdeling haar so boei, vir haar voel soos gevaar wat sy nie kan uitlos nie.

“Hoe oud is jy?” wil Stefaans van Fransie weet.

“Volgende jaar word ek sewe.”

Die man se mond trek weer effens. “H’m. Dis goed jou ma het ’n jong man in die huis.”

Fransie se bors swel, maar toe kom hy agter die man praat eintlik met Katrien en sy oë draai vol onrus en vrae na Dina. Sy kyk weg en begin die koffie versigtig in die goeie koppies skink, skuif ’n bord anysbeskuit nader en gaan aan die onderent van die tafel sit.

Stefaans kyk verras van haar na Katrien en gee ’n verleë kuggie. Dis vir hom seker vreemd dat ’n slavin saam aan tafel kuier. Hy weet natuurlik nie sy is soos familie nie. Dat Gerrit haar as ’n jonger suster beskou en ook so in hulle huis verwelkom het.

“Julle het goeie reën gehad,” praat hy sy ongemak weg.

“Ja. En hoe lyk dit daar in u kontrei?” Katrien lyk meer in beheer van haarself, maar praat nou weer te vinnig. “Dit was droog, verstaan ek van mevrou Smith. Sy’s uit Engeland.”

“Een van die Setlaars?” kom hy haar te hulp.

“Ja. Sy sê dit het swaar gegaan met droogtes en ook vloede. Hulle kon nie kop bo water hou nie.”

“Tja, die klomp Engelse kry swaar. Goeie mense onder hulle, maar veels te sag vir daardie wêreld. Probeer saai en plant, maar dis hopeloos. Nou’s hulle kwaad vir hulle eie regering wat hulle hiernatoe gebring het.” Hy roer ingedagte sy koffie en kyk weer op. “Selfs vir ons met beeste is dit ’n stryd. Een inval en alles is tot niet,” kom ’n bitter nagedagte.

Fransie skuif regopper. Opgekropte frustrasie is nie vir hom vreemd nie; hy sien dit by sy ooms en ander mans as hulle van die regering, die Engelse, praat. Die frons van netnou is weg en hy hang behoorlik aan die vreemde man se lippe.

’n Wurmpie wriemel in Dina. Die bleek weduwee het ook skielik ’n blos op haar wange en haar oë blink. Die man se oë bly op haar en sy is weer die prinses in ’n feëverhaal. Dit gaan beslis nie by een middag se besoek bly nie.

Dis so verskriklik onregverdig.

Hier kry Katrien ’n tweede kans op geluk en sy het nog nie eens een gehad nie.

Sy maak die stem in haar stil en staan op. “Verskoon my,” rig sy haar tot Katrien. “Ek gaan kamer toe.”

“Goed, Dina.”

In haar kamer gaan sy met klere en al op die bed lê, want die dag is nog lank nie verby nie. Sy maak haar oë toe en wag vir haar held uit die vreemde, maar hy kom nie, want haar gedagtes steek moedswillig in die kombuis vas. Die man het al drie van hulle met een kyk vasgevang.

Sy gesig is te sonverbrand en verweer om hom mooi te noem. Maar sy donker oë en reguit neus onder die swart hare het haar dadelik opgeval. Sy mond ook – vol en ferm. Dit wys hy is sterk, maar nie van klip nie.

“Hy gaan ons plaas toe vat met die dokter se kapkar,” is Fransie se eerste woorde toe hy die volgende oggend in die kombuis kom. “Ons gaan by Ouma-hulle kuier.”

Dina los die paplepel in die kastrol en swaai om. “Ek dag … Hy’t dan gesê hy gaan vandag terug.”

“Nee, die weer moet eers opklaar om oor die berge te kan kom.” Hy kyk gretig na haar. “Gaan jy saam?”

Sy vat weer die lepel en skep van die pap in ’n bord, plak dit voor hom neer. “En die skool dan?”

“Aag, twee dae is mos niks. Kom jy saam?”

“Nee.” Haar stem is dik in haar keel en sy draai terug na die vuurherd. “Daar’s nie plek in ’n kapkar nie.” Hulle sal my nie vra of ek wil gaan nie, is wat sy eintlik wil sê. Katrien het gisteraand gelyk asof sy nie daaraan sal dink dat ek ook ’n ma daar op die plaas het nie.

“Wat ’n verrassing!” roep Katrien se ma toe sy op die voorstoep van die plaashuis uitkom en sien wie die besoekers is.

“Dit is Stefaans du Toit, Moeder. Hy’s ’n vriend van dokter O’Flinn. En dis my ma.” Katrien is verlig om goedkeuring op haar ma se gesig te sien toe sy Stefaans se hand skud.

“Bly te kenne, Stefaans. Johannes is iewers buite besig en sal seker netnou hier wees. Maar kom nader, ons kan solank iets drink.”

“Dit sal lekker wees, dankie, Tante.”

“Julle bly seker oor as ek so na die koffers kyk?”

“Vir een nag, as dit reg sal wees met Moeder en met Maria?”

“Natuurlik, hier’s oorgenoeg slaapplek.”

“Ek gaan vir Sultan opsaal,” sê Johannes toe hulle van die etenstafel af opstaan. “Dalk tyd geword dat Fransie ’n ordentlike perd ry.” Hy lag moedswillig toe Katrien ontsteld na hom kyk. “Of sal ek liewer ’n koei opsaal, noudat die mak Bessie gevrek het?”

“Vir Sultan,” sê Fransie vinnig en voeg sagter by: “Ek wil hom leer ry.”

“Gerrit se perd was ook hondmak!” bars Katrien uit.

“Moenie jou so ontstel nie, Katrien,” kom haar ma tussenbeide. “Fransie is nie van porselein gemaak nie.”

Katrien gryp die stapel vuil borde en vlug daarmee kombuis toe, want sy wil nie voor Stefaans aan die huil gaan nie. Sê nou iets gebeur met Fransie? Sultan is ’n beneukte hings, Johannes het self al so gesê. As Dina maar net hier was. Ma en Maria sal nooit verstaan nie.

Sy sit die breekgoed op die kombuistafel neer en gaan staan by die venster, kyk uit. Johannes sit die saal op Sultan se rug en Stefaans staan langs Fransie. Verbeel sy haar of distansieer hy hom van Johannes se dinge?

Johannes is klaar en hou die perd se teuels na Fransie uit. Haar seun lyk klein en weerloos. Moet sy uitgaan en loop keer? Nee, Stefaans het reeds die teuels by Johannes gevat en sit sy hand op Fransie se skouer, praat met hom. Dit lyk asof Fransie meer moed kry. Hy klim op. Stefaans stap eers ’n entjie saam, sy hand op Sultan se halter voor hy laat los en wegstaan.

Dankie, Stefaans. Dankie, dankie.

Met ’n vinnige skietgebed vir haar kind se veiligheid draai sy weg en gaan terug voorkamer toe.

Dit duur nie lank nie voor Stefaans hulle roep. “Kom kyk gou hier buite!”

Hulle gaan staan by hom op die stoep en kyk hoe Fransie met bloedrooi wange aangery kom. Reg oorkant hulle waai hy vinnig met een hand.

“Sien jy nou, Katrien. Jy bekommer jou verniet oor alles,” sê Maria.

Haar ma maak ’n handgebaar om dit te beaam.

Dankie, liewe Vader, dankie dat Stefaans vandag hier was.

“Ons saal vir jou ook ’n perd op, dan wys ek vir jou die plaas,” sê Johannes toe Fransie afklim en Katrien besef dat Stefaans vir die res van die middag deur Johannes in beslag geneem sal word. Sy sal haar teen wil en dank saam met haar ma en Maria met ditjies en datjies moet besig hou.

Die son hang al skuins toe die twee mans weer op die werf aankom en onder die groot boom gaan sit. Katrien skink koffie om vir hulle te neem.

Stefaans staan op toe sy naderkom, vat een beker by haar en bied sy stoel met ’n handgebaar vir haar aan.

“Dankie. Maar waar sit jy dan?”

“Moeg gesit, al die pad vanaf die Oos-Kaap.” Hy gaan leun met sy rug teen die boomstam.

Johannes sluk sy koffie af en staan op. “Nou ja, ek gaan gou kyk waar hulle melk.”

“Ek loop saam,” sê Stefaans.

“Toemaar, ek’s nou weer terug,” keer Johannes. “Ek wil net seker maak Herklaas sit salf op Blommie se spene voor hy melk.”

Stefaans gaan op Johannes se stoel sit. Hy lyk gretig om hier by haar te bly.

’n Voël skel tussen die boomtakke bokant hulle koppe.

“Dis ’n mooi plaas. Jou broer weet wat hy doen.”

“Ja,” lag sy effens, “ek sien dit seker nie meer aldag raak nie. En jy? Hoe lyk dit daar waar jy vandaan kom?”

Stefaans se donker oë bly op haar. “Baie anders,” sê hy versigtig. “Dis mos beeswêreld.”

Sy kyk af, intens bewus van die man hier langs haar. Die geur van sy klere gaan nie net na haar longe toe nie, maar ook na haar kop. Sy kyk na die spore voor hulle op die grond, volg dit tot by Stefaans se stewels en hoër op. Sy hand rus op die stoel se armleuning. ’n Mooi hand. Lang vingers met senings wat styftrek waar hy die hout vasvat. Hy is baie gespanne.

“K-katrien …”

Sy oë staan intens op haar stil en dit voel asof sy in warm water gedompel word. Soos botter begin sy smelt.

“Ek moet met jou praat.” Sy diep stem raak aan die senupunte van haar lyf en haar mond word kurkdroog terwyl sy wag.

“Katrien!” roep haar ma uit die huis. “Kom sny gou vir ons die brood.”

Stefaans maak sy oë toe en sy mond trek skeef, maar dit lyk eerder na pyn as na ’n glimlag. Hy staan op. “Die mens sal van brood alleen nie lewe nie.” Hy stap weg in die rigting wat Johannes ingeslaan het.

Katrien se bene is bewerig toe sy huis toe loop. Kon Ma nie net ’n rukkie langer gewag het nie? Wat wou Stefaans sê wat vir hom so moeilik is?

Diep spoor

Подняться наверх