Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 10

5 Januarie

Оглавление

Soek na meer – by God

Johannes 7:38 – Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: “Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.” (NLV)

Ek gesels in die week met ’n begaafde kunstenaar oor ’n projek. Vier van haar kunswerke hang bokant ons bed. Dat haar pad haar al deur groot klowe en diep valleie geneem het, word weerspieël in haar fyn aanvoeling vir die Gees van God.

Sy vertel ’n storie binne ’n storie. Sy kan, volgens eie belydenis, nie by een storie op ’n slag bly nie. Dis nou glo dáárvoor dat sy haar man nodig het; hy bestuur haar so mooitjies deur die draaie van haar vertellings. Een van haar afdraaipaaie vat ons na die volgende stukkie goud wat sy met my deel:

’n Geestelike leier het in ’n preek verduidelik dat God sekere geheime oor ons elkeen bewaar wat slegs die Heilige Gees by God self kan hoor oor ons as individu. Die idee staan my dadelik aan. Ek het al agtergekom dat daar oneindige potensiaal en verrassings opgesluit lê in die psige van die mens.

Dit maak sin dat daar by God kennis oor my menswees sou wees wat nie elders beskikbaar is nie. Ek weet ook dat binne die huwelik die diepste en kosbaarste goud van ons karakter ontgin kan word. Dit is na die Heilige Gees wat Johannes in hierdie skrifgedeelte verwys. Daardie deel van God wat in ons kom leef en ons na die geheime van ons karakter by God kan neem.

Ons kan kies om nie na hierdie dieptes van ons gees te soek nie, maar dan sal ons altyd na iets meer smag. Net in intimiteit met God kan ons versadig raak in ons versugting na meer.

Waar soek ek na meer?

Vader, laat my deur die Heilige Gees nader aan U leef en so meer van myself ontdek. Amen

Duet

Подняться наверх