Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 8

3 Januarie

Оглавление

’n Feestradisie vir jou familie

Spreuke 15:15 – Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees. (NLV)

Die afgelope paar jaar hou ons vroeg in die nuwe jaar familiefees. Dié fees het nou tradisie geword. Reeds voor Kersfees word die dag se tema en spyskaart beplan. Ons is ’n klomp smulpape wat hou van kosmaak. Die detail van die dag word fyn beplan. Elkeen kry ’n opdrag en natuurlik ’n dis of twee om te berei.

Vanjaar hou ons een groot dankbaarheidsfees met ’n tradisionele Amerikaanse piekniek as inspirasie. Ons dek die lang wit tafel op die stoep in blou, rooi en wit – en span stringe vlaggies feestelik oor die lengte van die stoep. Die mans braai tuisgemaakte burgers oor die oop vuur en vir nagereg is daar suurlemoen-meringue en soet, donkerbruin brownies.

Die dag begin vroeg en hou tot lank ná donker aan. Daar word gekuier en geswem en teen sononder weer aangesit vir ’n tweede rondte van dit wat uit die oordaad van middagete oorgebly het. Dis asof die fees ons vuurmaakhout vir die res van die jaar gee.

Soos ek deur my foto-album blaai, sien ek weer die foto’s van vorige feeste. Die fees van groen en wit, die Kubaanse kuier en die jaar wat ons jongste agttien geword het en ’n Meksikaanse fees wou hê. Ek kyk na die foto’s van die tafel en die lekker kos, al die mooigoed wat ons gebruik het om die tafel volgens tema mee te tooi. Maar dis eintlik die deurgaanse prentjie van vrolikheid en liefde wat my bybly en inspireer.

’n Lewe van vreugde is ’n gawe uit God se hand. Beplan ’n familiefees om dit te vier – en maak dit ’n tradisie!

Here, salf ons met u vreugde. Laat ons die lewe elke oomblik met blymoedigheid aanpak. Amen

Duet

Подняться наверх