Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Die huwelik is die lakmoestoets vir karakter. Verhoudings begin gewoonlik in ’n romantiese waas van verliefdheid. Maar kort voor lank word daardie borrel geprik en ons ervaar die harde werklikheid van die lewe. Ons kom agter dat ons eintlik veel meer verskil as wat ons gedink het. En dit kan nogal spanning laat opbou.

Die lewe stel hoë eise en moeilike uitdagings aan ons. Ons moet dit saam as ’n sterk span kan aandurf – al vervaag ons gevoelens met tye.

Toe jy jou maat gekies het, het jy gedink jy kies sommer maar net ’n roomys. Moenie glo nie! Mettertyd besef jy dat jy in jou maat ook die skuurpapier gekry het wat jy nodig het om jou karakter te skaaf.

Duet bevat hierdie juweeltjie: “Ek weet ook dat die diepste en kosbaarste goud van ons karakter in die huwelik ontgin kan word.”

Dit is geen grap om in ons eietydse lewe ’n liefdevolle, standvastige verhouding te bou nie. Om die waarheid te sê, dit is ’n groot kuns! Aanmoediging en goeie rigtingwysers is meer as welkom – dit is noodsaaklik.

En dit is net mooi wat hierdie dagboek bied!

Lees gerus elke dag Christine en Johan Ferreira se padwysers vir eenheid in die huwelik en met God. Jy sal keer op keer nuwe vensters oopmaak om God se lig en liefde in die huis van jou lewe te laat skyn.

Die skrywers lei jou na ’n dieper geloof in die oneindige goedheid en guns van God. Hulle weet waar die bron van Liefde lê. Hul toewyding aan mekaar is gebou op rots. Duet is deurweef met aanvaarding van die werklikheid van verhoudings. Prakties. Duidelik. Diep ervaring met huweliksberaad en goeie insig skyn oral deur.

Ons nooi jou om ’n pad saam met die skrywers te stap. God self wil jou deur hul woorde en wysheid vorm en sterk maak vir die eise van die lewe en verhoudings.

Willem en Joke Nicol

Duet

Подняться наверх