Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 21

16 Januarie

Оглавление

Man en vrou word één

Genesis 2:24 – Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een word. (NLV)

Ons verhouding met ons eie ouers ontwikkel gewoonlik vanuit die gesin van herkoms. Dis hier waar ons lewenslesse leer en gewoontes vorm. Dis gewoonlik die eerste plek waar ons liefde maar ook verwerping beleef.

God se opdrag oor die huwelik is duidelik in sy Woord. As individu moet jy jou verhouding met jou eie ouers herskryf om ruim plek vir jou lewensmaat in jou lewe te maak. Dit impliseer geensins ’n afsluiting van die verhouding met jou ouers nie, maar wel ’n skuif in die inhoud en fokus daarvan.

Jou lewensmaat neem die eerste plek in jou lewe in wat gehaltetyd betref. Hierdie skuif kan aanvanklik baie moeilik wees. Soos die huweliksverhouding egter groei, word die verandering in prioriteite makliker. Dit moet egter die hartsbegeerte van albei lewensmaats wees.

Nie alle ouers is bereid om uit die nes geskop te word en self te leer vlieg nie. (Hoe word die rolle nie omgeruil nie!) Dit kan die huweliksverhouding van hul “groot” kinders kompliseer. Maar elke getroude paar moet kies om hul verhouding eksklusief te bedryf en primêr op mekaar te fokus. In God se Woord is die boodskap duidelik dat niks tussen man en vrou mag staan nie; nóg ouers nóg kinders of honde of vriende. Dit is in die band tussen man en vrou dat God gestalte vind op aarde en dit maak hierdie ruimte heilig. Man en vrou moet dit suiwer hou vir God.

Wat is in die ruimte tussen my en my lewensmaat wat één-wees bemoeilik?

Vader, gee ons die krag en insig om altyd na mekaar, nie weg van mekaar nie, te kyk en U ons middelpunt te maak. Amen

Duet

Подняться наверх