Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 12

7 Januarie

Оглавление

’n Spieëlbeeld van God se genade

Jesaja 40:18 – Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk? (NLV)

Vir Francois, ons oudste se 21ste verjaardag, nooi die seuns se peetma’s ons na die Okavango. “Kom ons ses gaan vier die groot gebeurtenis in die Afrika-bos!” sê die tweeling maande voor die tyd.

So breek die langnaweek uiteindelik aan. Ons vlieg van Johannesburg na Maun, waarvandaan ons met ’n ses-sitplek-vliegtuigie verder vlieg na die eiland waar ons lodge geleë is. Nadat ons geland het, neem ’n viertrekvoertuig ons na die motorboot by ’n jetty in die veld wat ons na die oord op ’n piepklein eiland in die delta neem.

Wat ’n groot bederf en seën word die naweek nie! Soggens en saans is daar ’n wildrit per motorboot deur die delta. Ons sien seekoeie en olifante, en die mooiste plate waterlelies wat geil in die vlak water blom. Ons beleef Afrika op sy beste!

Maar die hoogtepunt is ’n enkele laatmiddagvaart op die makoro’s, die uitgeholde houtbote eie aan die omgewing. Ons klim twee-twee in ’n boot terwyl die gidse en bootbestuurders hulle elk met ’n lang stuurstok in die hand voor in die boot staanmaak. Saggies gly ons bote deur die water.

Teen sonsondergang seil ons geluidloos tussen die riete en die waterlelies. Die laatmiddagstilte is sonder omvang. Toe ek vorentoe kyk, na waar die seuns se boot voor ons vaar, sien ek voor my die perfekte weerkaatsing in die blink water van ons twee seuns uit hul boot weerkaats. Vir my is dit ’n spieëlbeeld van God se seën en groot genade.

God praat met ons deur prentjies. Is jy ’n toonbeeld van sy liefde? Hoe lyk die fotoverhaal van jul huwelik as ander daarna kyk?

Vader, herinner ons dat ons na u beeld geskape is en u verteenwoordigers op aarde is. Amen

Duet

Подняться наверх