Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 7

2 Januarie

Оглавление

Beloftes van guns en genade

Maléagi 4:2 – Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan … (1953/1933-vertaling)

Ons gesin vier Nuwejaars by die see op ’n verlate stranddorpie in die Oos-Kaap, met net ’n paar vakansiehuise, sonder winkel of selfs kafee. Ver van alles blink en raserig. Dis hoe ons daarvan hou. Hoe minder mense en lawaai om ons om die nuwe jaar te begroet, hoe beter.

Laatmiddag op die laaste dag van die ou jaar, gaan stap ons oudergewoonte ’n lang ent langs die see. Hierdie tyd van die jaar sak die son laat; dit is dikwels mistig aan die soom van die branders. Ons maak ons teen sonsondergang aan die bopunt van een van die verste en hoogste duine tuis om saam-saam die son vir oulaas oor die ou jaar te sien sak. So sit ons in gewyde stilte terwyl die son soos ’n bal vuur op die horison die landskap om ons verkleur en die oseaan in die mooiste goud baai … ’n asemrowende teken van God se guns en genade.

Ons sit totdat die son vir oulaas stadig agter die hoë duine wegsak en ons die wonder van God se almag en glorie tasbaar vergestalt in skakerings van goud en sagte silwer aanskou. In heilige oomblikke soos dié voel God so ontsettend groot en ongelooflik naby.

Ons kan Hom vir alles wat voorlê, vertrou. Hy is hier, met ons. En ek bid saggies vir die welstand van my maat en kinders, dra hulle aan Hom op in die wete dat Hy daar is. Maak nie saak wat vir ons wag nie.

Maak tyd om God se almag in jul lewe raak te sien en Hom saam as huweliksmaats te bedank.

Here, ek bring my man en gesin voor U. Beskerm ons asseblief in die jaar wat voorlê. Amen

Duet

Подняться наверх