Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 17

12 Januarie

Оглавление

Andersheid is dubbel lekker

Genesis 2:23 – Daarom sal sy “vrou” genoem word; sy is uit die man geneem.

Die getyboek is ’n belangrike deel van die manne se lewe. Elke oggend word dit oor ’n bakkie graanvlokkies en melk bestudeer om die dag se aktiwiteite te beplan. Laagwatertyd is veral belangrik, want dan kan daar op die strand aan die soom van die branders gedraf of fietsgery word. Vakansietye by die see word die ganse dag soms rondom die gang van die getye beplan.

Vandag was dit weer dieselfde storie. “Ons kan maar afgaan strand toe,” kondig Johan aan, terwyl hy sy drafskoene aantrek. “Dis laaggety.” Soms draf of stap ek saam met hom en die seuns; ander kere verkies ek, soos vandag, om tussen die duine rond te dwaal op soek na spoelklippe, skulpe of stukke mooi dryfhout.

Hier tussen die hoë duine en die blou branders verloor ek tred met tyd en slenter doelloos met my oë op die sand gerig. Ek buk nou en dan af om iets moois op te tel en gaan staan elke paar minute stil om oor die branders te tuur. Ek volg die fyn spoortjies van strandlopervoëltjies oor die duine en bewonder die wit wolkpatrone. Te gou is ’n uur of wat daarmee heen. Dis gewoonlik ons bruin labrador, Tinder, wat eerste aangedraf kom en dan weet ek dat die manne se missie voltooi is.

“Dit was nou lekker!” sê Johan toe hy uitasem en natgesweet by my aankom. “Ja, lekker inderdaad,” antwoord ek, terwyl ek die sak met skulpe vir hom aangee om motor toe te dra.

Vier jou uniekheid as mens. Doen iets vir jouself wat jou maat nie noodwendig sal geniet nie.

Dankie, Here, vir die vreugde wat my maat se andersheid my bring, en die eiesoortige manier waarop U ons elkeen geskep het. Amen

Duet

Подняться наверх