Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 6

1 Januarie

Оглавление

Maak ’n Nuwejaarslysie

1 Timoteus 4:8 – … maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.

Die idee van ’n Nuwejaarslysie het ontstaan toe die kinders nog klein was. Ons het dié jaar naby die Vaalrivier gekuier saam met my skoonsus, haar man en hul dogter. Die kinders wou dolgraag tot middernag wakker bly.

Ons het ná ete almal buite om ’n groot vuur wat die mans vir ons in die boma gemaak het, gesit en kuier. Een van die grootmense het met die idee van die lysie vorendag gekom om die tyd om te kry. Elkeen het ’n beurt gekry om wense en planne vir die jaar wat voorlê te deel, terwyl een van ons dit neerskryf. So het ons gesin se Nuwejaarstradisie begin.

Die jaar daarna was ons op ons eie en die lysie is weer opgediep. Elkeen het kans gekry om terugvoer te gee oor die jaar wat verby is en dié dinge op die lysie wat met ’n regmerkie afgetik kon word. Ook dit wat ons nie kon regkry of behaal, word met mekaar gedeel en bespreek – die soet sowel as die suur, ons sukses én daar waar ons gefaal het.

Met die jare het ons geleer om die lysie eenvoudiger, doenbaar en bereikbaar te maak. Oujaarsaand word ’n nuwe lysie in die plek van die oue neergeskryf. Die lekker oefening is ook ’n manier van onthou, rekord hou en verantwoording doen aan mekaar as gesin. Nuwejaars is nie Nuwejaars vir ons sonder ons lysieritueel nie.

Maak gerus jou eie Nuwejaarslysie. Gesels en droom saam oor dit wat julle wil bereik en uitrig.

Here, ons bring vanaand ’n lys van voornemens en drome voor U. Seën ons met voorspoed en genade. Amen

Duet

Подняться наверх