Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 22

17 Januarie

Оглавление

’n Oop hart vir jou skoonmense

Deuteronomium 30:19 – Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

Ouers en skoonouers kan ligjare verskil – en dit gaan soms met aardige uitdagings (slaggate?) en aanpassings gepaard. Maar dan hoor jy ook weer van die voorreg van skoonouers wat ’n hele skatkis vol nuwe en ryk ervarings na die prentjie bring.

Dikwels besef ’n man of vrou dit eers nadat die verhouding al ’n paar jaar gevestig is, en onbekend nie meer onbemind is nie. Natuurlik is die aanpassing vir die paartjie groter as die twee stelle ouers baie van mekaar verskil. Waardes word tog maar meestal in die gesin aangeleer en dan later weer uitgeleef binne ’n nuwe konteks.

As albei kante daarop ingestel is om by mekaar te leer en aan te pas, kan sulke soms netelige uitdagings wonderlike nuwe wêrelde oopsluit.

Van die mees positiewe verhale waarvan ek al getuie was, het begin waar die ouers vanuit ’n meer volwasse en geduldige hoek na die uitdagings kyk en besluit om hul horisonne te verbreed en ’n skoonseun of -dogter onvoorwaardelik te aanvaar, met vreemde kleredrag, gewoontes, selfs taal of kultuur en al. As die jonger party ook na die twee stelle ouers kan kyk as mentors is die kanse ook al beter dat almal lank en gelukkig sal saamleef.

Knoop gerus hierdie juweel van wysheid aan jou oor: Luister – oop en onbevange, met jou hart en jou hele wese.

Hoe luister ek na my skoonouers of -skoonkinders? Berei ek solank my toesprakie terug voor? Nee, dis die verkeerde manier!

Vader, help my om die verhouding met my skoonfamilie te eer en te respekteer. Amen

Duet

Подняться наверх