Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 34

29 Januarie

Оглавление

Loof Hom in alle seisoene

Genesis 1:14 – God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal.” (NLV)

Vandag is dit 22 °C in Johannesburg, 23 °C in Stellenbosch, in New York 28 °C en 21 °C in Jerusalem. Die weer-toep op my foon speel ’n sleutelrol in my lewe. Ek pes dit om warm te kry. Soggens, voor ek besluit wat om aan te trek, raadpleeg ek eers die weervoorspelling op my foon.

Nou met my jongste ver van die huis af, laat die wete dat ek weet hoe die weer in sy geweste lyk my sommer rustiger voel. Die lys van plekke op my foon-toep is lank en strek van Parys in Frankryk tot Hennopsrivier by die Hartbeespoortdam. Almal plekke wat ek al besoek het. Met een oogopslag kan ek sien waar die son skyn, dit reën of selfs sneeu.

Met ons besoek aan die Oos-Kaap het dié toep, tot groot plesier van ons gesin, die weer tot in die laaste detail vir ons straat aangedui. Alles te danke aan die wonder van tegnologie.

Saans as ons egter op die houtdek sit en na die sterre in die melkweg tuur, dink ek aan die Skepper van die son en die maan, die wind en die weer. Die Een wat hemel en aarde geskep het, die gang van die seisoene bepaal. Hy wat die lig en die donker van mekaar geskei het en gesien het dit was goed.

Seisoene is deel van ons lewe. Ook van ons huwelik. Soms dreig die onweer en breek storms los. Onthou, die son skyn altyd ná die ergste reënbui weer.

Here, ek loof die wonder van u skepping. Dankie vir tye van sonskyn én van reën. Amen

Duet

Подняться наверх