Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 31

26 Januarie

Оглавление

Sy seën sal weer reën

Psalm 37:7 – Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. (NLV)

Vir ’n maand lank wag ons vir die reën, voel ons stukkie aarde dit het sy guns by die Reënmaker verloor. Maar vandag, van donkervroeg af, val daar dik, silwer water.

So dikwels beleef ek die frustrasie van die tydlyn. My tydlyn en God se skepping en voorsiening val dikwels nie in dieselfde tydsone nie.

Moedeloos gewag, kom ek elke keer weer by dieselfde vraag uit: Wie is God werklik? Sy karakter is onveranderbaar. Hy kan nie iets of iemand anders word omdat my lewensomstandighede uitdagend of moeilik is nie. Dit verander nie aan my vertwyfeling wanneer die uitdagings van die lewe groot is nie.

Heel dikwels word ons uithouvermoë en geloof gelyktydig die uitdaging. ’n Moeilike konteks kan lank aanhou. Ons voel God hoor nie ons stem nie, of vergeet van ons. Die klem hier is dat dit so voel. God se karakter laat Hom nooit toe om van ons te vergeet nie.

In hierdie tye is die teenvoeter vir negatiewe emosies om te lees wie God is. Oorspoel jou denke en emosies met die feite van wat jy glo oor jou hemelse Vader. Uiteindelik gaan alle seisoene verby, sommiges te lank, ander te kort.

Die spruit agter ons huis raas met diep, lewegewende water. Die geute beur en bruis, die swembad loop oor en die grasperke blink van damme water. Vandag gee God baie. Ons drink sy seën in terwyl die honde al ure by my voete lê en ek in my slaap glimlag.

Sien ek God se seën in my lewe raak?

Vader, ek wil u wil in my lewe soek en met geduld vir u tydsberekening wag. Amen

Duet

Подняться наверх