Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 28

23 Januarie

Оглавление

Wie jaag … kry niks

Galasiërs 6:9 – Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes. (NLV)

“Net stadig, Seun,” hoor ek my ma vandag nog. Groot, vinnige planne, onhaalbare tydlyne en uitdagings groter as die aardbol lyk nog altyd vir my doenbaar. Hierin lê natuurlik ook van my seerkry en teleurstellings. Dankie tog vir die middeljare wat jou pas verstadig!

Hoe wonderlik om te ontdek sekere kosbaarhede is slegs bereikbaar deur stilstaan en wag, sit en peins. Die verskil in natuurlike lewenspoed sorg natuurlik vir behoorlike vassit en baklei in die huwelik. Sommige mense sit van nature makliker as ander. Die spul wat so woel deur die lewe sien maklik hierdie rustiger siele as stadig, lui of nie ambisieus nie. Albei persoonlikheidstipes kan by mekaar leer.

Ek, Christine, ons huishoudster en tuinman is van die woel-variasie. Nou kan jy dink hoeveel gesprekke daar al met ons seuns was. En toe lees ek ’n joernaalartikel uit een van my vaktydskrifte. Die skrywer reken ouers met dieselfde temperament moet waak om nie as span teen hul kind (of kinders) op te tree nie.

So begin ’n lang en geduldige proses van leer by ons kinders. Hulle maak ’n reël: by ons seehuisie mag ons nie woel nie. Ma kan een maal per dag vee, as sy moet. Pa kan heeldag in die tuin spit, maar hy spit alleen. Ons eet wanneer ons honger is en staan op wanneer ons wil. Ná vyf jaar van so vakansie hou, glip ek en Christine alleen weg see toe. Ons lag lekker toe ons daadloos en sonder toesig net kan sit.

Neem ek my maat en my gesin se persoonlikhede in ag?

Vader God, laat my u skepsels met groot respek aanvaar en koester. Amen

Duet

Подняться наверх