Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 43

6 Februarie

Оглавление

So wit soos nuut begin

Jesaja 1:18 – Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.

’n Bekende skoonheidshuis stel hul nuwe parfuum bekend. Die kleur wit is die inspirasie vir dié blommegeur in ’n geronde bottel van spierwit glas. As deel van die bekendstelling word ons genooi om na ’n modekenner te luister. Die elegante vrou is van kop tot toon in wit geklee en neem haar plek op ’n groot wit leunstoel in. Die tema van haar praatjie vind groot aanklank, ook by my.

Ons almal strewe na ’n lewe waarvan die pas stadiger is, waar ons weer met mekaar kan praat en al ons sintuie behoorlik inspan, sonder die oorweldigende aanslag van tegnologie.

Sy wy uit oor die behoefte aan aanraking. Die sagte streling van ’n hand kan liggaam en siel kalmeer. Sy brei uit oor hoe ons op soek is na stilte en vrede wat onstuimige harte kan kalmeer. Sy gesels oor wit as modekleur, as simbool van suiwerheid en ’n nuwe begin. Wit is kalmerend en nooi jou uit om iets nuuts te skep.

Ek maak my oë toe, terwyl ek luister. Here, dankie vir u vrede en genade wat elke dag nuut is – ook vir u belofte dat ons sondes, so rooi soos skarlaken, weer wit sal word soos wol. Die woord wit word 75 keer in die Bybel gebruik. Dit is dié kleur wat die meeste na in die Skrif verwys word. Dit is die kleur van regverdigheid, heiligheid en redding.

Wat sou julle doen as God ’n spierwit verfdoek vir jul huwelik voor julle neersit? Bely wat verkeerd is en dank God vir die genade van volmaakte vergifnis.

Here, was my sonde wit soos wol. Dankie vir ’n nuwe begin, ’n skoon doek waarop ons die storie van u liefde kan skilder. Amen

Duet

Подняться наверх