Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 38

1 Februarie

Оглавление

Leef by God se liefdesvlam

Efesiërs 3:17 – Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. (NLV)

Een van my kosbaarste boeke is die bundeltjie met oggend- en aandgebede, ’n onverwagte geskenk van ’n Amerikaanse kollega. Haar wens voor in die boekie bly my daagliks by: Mag die vlam van Christus se liefde vir jou die bron wees van jou liefde vir die mense wat jy help.

Hierdie vrou weet natuurlik iets van die liefde van ons Skepper: Sonder sy liefde vir ons, het ons doodeenvoudig nie werklik liefde vir ander nie. Selfs in die huwelik verloor ons soms ons vermoë om liefde vir ons maat te beleef. Ek weet mense erken dit nou nie so openlik nie, maar dit gebeur wel. Dan onthou ek gewoonlik die wens voor in my boek, en laat toe dat God se liefde vir my weer die bron diep binne my volmaak.

Geen mens kan in eie krag die liefde volhou wat die huwelik verg nie. Aan die begin van die verhouding is dit natuurlik maklik, want verliefdheid dryf die proses. Namate tyd verbygaan en verliefdheid vervang word met liefde, word die behoefte aan God se liefde al groter. Die liefde binne die huwelik kan slegs volgehou word indien daardie liefde lyk, en later is, soos God se liefde vir ons.

Die druk is dan ook sommer baie minder op jou emosies om die liefde te probeer volhou. As God jou liefdesbron is, rig sy gedagtes mos die uitlewing daarvan. Jou maat hoef nou nie meer aan al jou eise vir liefde te voldoen nie, want God is jou primêre put van liefde.

Is God se liefde vir my die voorbeeld van my liefde vir my maat?

Vader, help my om u liefde bo alles na te jaag. Amen

Duet

Подняться наверх