Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 39

2 Februarie

Оглавление

Werk sag met die liggaam

1 Korintiërs 7:4 – Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

Johan is vanaand die gas op die laataand-inbelprogram op RSG. Die tema is die uitwerking van verkragting op die psige. ’n Swaar tema, waarna ek amper nie eens kans sien om te luister nie.

“Jy sal my vergewe as ek vanaand nie na jou oor die radio luister nie?” sê-vra ek toe Johan begin regmaak om te gaan. “Dis reg so, ek verstaan,” sê my man toe hy sy sleutels vat en die voordeur begin oopsluit.

Dis laat ná twaalf toe hy terugkom. “Dit was erg,” sê Johan toe ek hom oor die aard van die program begin uitvra. “Ek wil eintlik nie weer daaroor praat nie.”

Vir dié spesifieke program wat net voor middernag uitgesaai word, kan mense inbel of ’n SMS stuur met vrae aan die kenner of, soos in vanaand se geval, die sielkundige by die omroeper in die ateljees. “Weet jy, een vrou se man verkrag haar al 38 jaar lank binne die huwelik. Mense het só seer.”

Lank nadat Johan aan die slaap geraak het, lê ek steeds wakker. Hoe gebeur so iets? Ek staan op om vir my tee te gaan maak en my siel tot bedaring te bring. By die eetkamertafel langs my rekenaar sien ek my Bybel ooplê by ’n stukkie uit Korintiërs wat ek vroeër die aand nageslaan het.

“Verheerlik God in julle liggame,” lui die opskrif op die bladsy reg langs die blad wat ek aan’t lese was.

Eer jy jou maat met jou liggaam soos God in sy Woord beveel?

Here, dankie dat U Gees in ons woon en dat ook ons elkeen se liggaam aan U behoort. Amen

Duet

Подняться наверх