Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 41

4 Februarie

Оглавление

Hy vergewe, keer op keer

2 Timoteus 2:13 – Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie ontken nie. (NLV)

Sedert ek in die sielkunde begin studeer het, het ek al vele gesprekke gehad oor die pyn en teleurstelling van verhoudingsbreuk. En dit onderskei nie tussen man en vrou of oud en jonk nie.

Die jong man op my bank kan een van my seuns wees. Sy hart is gebreek. Sy meisie het hom gelos vir ’n ander ou. Sy was sy eerste groot liefde en hy glo vas dis die einde van sy verhoudingslewe. Die grootste pyn is dat sy die ander jong man begin sien het terwyl hulle nog in ’n verhouding was.

Dikwels is ons middeljare breek ons harte ook. Die man in my spreekkamer het grys hare om die slape, maar nog fiks en volstoom met die lewe besig. Sukses laat sy oë blink en hy wil nog baie bereik. Dan sak sy kop. Hy was ontrou aan sy vrou en het sy hart vir iemand anders oopgemaak. Nou leef hy in diep seerkry en oorweldigende berou.

As ouer mense in my spreekkamer kom sit, worstel ek altyd met my opvoeding en stry teen die oom of tannie. Dan byt ek op my tande en noem hulle op die voornaam, soos ’n grootmens maak. Hierdie oom is in sy diep sewentigerjare en sy glimlag laat my aan my pa dink. Hy wil vrykom van die pyn van sy huweliksontrou van veertig jaar gelede.

As Christen leef ek met die diepe dankbaarheid dat God se karakter konstant bly. Hy kan gewoon nie anders wees as wie Hy is nie. God se getrouheid oor vergifnis vir ons is konstant en deurlopend beskikbaar. Onthou om weer en weer te vra.

Onthou ek daagliks wie God is?

Liefdevolle Vader, hou my in verbintenis met U. Amen

Duet

Подняться наверх