Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 30

25 Januarie

Оглавление

Hande vol onverdiende genade

Johannes 1:16 – Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.

’n Halfuur by die St John-kerkie op Bathurst gister laat my gees geskuur voel vanoggend. Ons wou Bill Charmers se stasies van die kruis gaan beleef.

’n Helderoog man ontmoet ons binne, fyn vel strek glad oor die kaal kop en laat die gesig ouer lyk as wat die oë sê. Sy sagte stem nooi ons na die belewenis van die terrein en die gebou. Sy knieë pla en hy sal nie saamstap in die kerkhof nie. Hy wag geduldig by die voordeur op ons terugkeer.

Terug in die kerk gesels hy soos ’n ingeligte toergids. Ek sien die gat in sy baadjie se rug en wonder oor die modderstewels en kaal bene. Hy praat orrels en kuns, kansels en klokke.

En êrens praat hy sy eie storie. Sy pa wat die Anglikaanse priester was, sy eie pad met sy God, sy woonwa en sy belewenis van die koue van die Oos-Kaap.

Te gou staan ons by ons motor, en hy by die hekkie. Ek voel hy hou ons nog net een oomblik saggies vas. Die laaste sien is sy rugkant soos hy deur die oop deur van die kerk loop.

Op pad terug na ons eie strand gesels ons oor die ervaring. Die eenheid van die huwelik blyk duidelik in die ooreenkoms van ons belewenis; die man se helder gees ons blywendste indruk.

Ek wonder oor sy lewe, hoe hy daar beland het en of hy snags koud kry. Waar is sy mense en hoekom is daar vir my soveel genade dat my baadjie nie ’n gat op die rug het nie?

Is ek bewus van God se genade in my lewe?

Vader, gee dat ek die volheid van U genade in my lewe beleef. Amen

Duet

Подняться наверх