Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 36

31 Januarie

Оглавление

Geluk het vele gesigte

1 Korintiërs 4:1 – Dit beteken dat julle ons moet beskou as blote diensknegte van Christus. Ja, as mense wat God se diepsinnige planne moet help bestuur. (NLV)

Sowaar, êrens in my lewe het ek werklik geglo geluk sou ’n eindelose somervakansie met luilekker strandsessies wees. God, sekerlik omdat Hy God is, sou natuurlik hierdie knus klein paradys vir my skep, vir en in alle ewigheid.

Tyd het natuurlik hierdie waan getemper. My persoonlike geluk word deesdae nie net gevind in die volmaakte oomblikke nie, maar dikwels ook in die grys, mistige dae sonder sonskyn, wanneer onvervulde drome en teleurstellings my denke bewolk.

Ons kort wegnawekie was gedroom in blou lug en ’n helder see en warm sand. Ek wou ’n mooie boek op my boekrak vind en lees terwyl die son oor die rivier sak. Ek het vergeet dat ek my honde en my kinders vreeslik sou mis, dat die lang ure saam met my vrou nou skielik vreemd sou voel binne hierdie ongelooflike besige seisoen van ons lewe.

Ek vind wel ’n hartsboek oor die diep seerkry van die lewe, skreiend in die pyn van oorlog, beeldskoon in die kuns van woorde. Ek hoor my hond se voetslaan in elke kraak van ons houthuis en soek na die diep stemme van die seuns wat manne word. En ek mis die son.

Dit was ’n grys naweek, koel gehou deur die digte mis en die verlange.

Op pad lughawe toe weet ek geluk het beslis ’n paar gesigte. Dit was ’n ongelooflik goeie naweek, ’n wegglipkans van die alledaagse. En hierin lê die skakering van geluk vir vandag.

Leef ek sowaar met die vermetele verwagting dat ek altyd gelukkig moet wees?

Jesus Christus, hou my hand vas in tye van voorspoed en dra my in die tye van teenspoed. Dankie, Vader. Amen

Duet

Подняться наверх