Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 32

27 Januarie

Оглавление

God, ons heel eerste liefde

Johannes 6:27 – Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem. (NLV)

God se liefde kan nooit vergaan of opraak nie. Die huwelik moet dit nastreef, maar mag nooit die liefde en fokus van God af wegneem nie.

Hoe wonderlik om verlief te wees! Die brein skei chemikalieë af wat ons in die sfeer van beneweling plaas. Niks kan die gevoel oortref nie. Wanneer daar genoeg tyd verloop het en die stortvloed van chemie afgeneem het, is die gevoel inderdaad baie anders. Nou kan die verhouding binne die normale grense van verbintenis begin.

Hierdie emosies geld nie in ons verhouding met God nie. Die konstantheid van God se liefde oorskry alle grense van kwantiteit. Dit kan nooit opraak of verflou nie. Daarom is die liefde vir, en vanaf God, onvervangbaar in jou lewe. Dit rig die huweliksliefde en hou dit in stand. Ons liefde vir God vorm die buffer vir pyn tussen huweliksmaats.

As ons liefde vir God die hooffokus van ons lewe is, het ons ’n baie beter kans om in ’n meer gebalanseerde en realistiese verhouding met ons lewensmaat te wees. My maat word dan nie opgesaal met die onmenslike taak om my liefdesnood te vervul nie. Ons kan mekaar dan binne die konteks van God se vervullende liefde liefhê.

Die uitdaging is om die balans te vind tussen liefde vir God en liefde vir my maat. Begin met die liefde vir God en gebruik daardie verhouding as basis vir alles in jou lewe.

Kom my verhouding met God eerste in my lewe?

Vader God, ek plaas U eerste in my lewe en ons plaas U eerste in ons huwelik. Amen

Duet

Подняться наверх