Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 44

7 Februarie

Оглавление

Die beloofde land is so naby

Deuteronomium 1:6 – Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: “Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.”

God beplan vir elkeen van ons ’n goeie lewe volgens sy wil. Hy gee aan elkeen talle beloftes van voorspoed. Vir die Israeliete was die Beloofde Land soveel nader en bereikbaarder as wat hulle ooit kon besef, maar vir veertig jaar het hulle in die woestyn bly swerf.

Ons wil bitter graag ons beloofde land binnegaan. Baie het reeds die bestemming gehaal, maar nog meer glo dit lê buite bereik. Juis omdat ons nie risiko’s wil waag of die bekende agterlaat nie.

Hoe ver is jy van die beloofde land? Dwaal jy dors en futloos deur die woestyn? Of is die berg ná al die jare van swerf en swoeg net te hoog om oor te steek? God nooi ons om die plek waar ons vassteek, te verlaat en die beloofde land binne te gaan. Ook in ons huwelik.

Dalk stry en bots julle al jare oor dieselfde kwessies. Of aanvaar bloot dit wat sleg is as “dit is nou maar so”. Dalk is jul verbintenis sonder vonk en vuur. Onthou, God het vir ons net die beste in gedagte. Maar om dié beloofde land te bereik, verg opstaan, loop en saamtrek. Dit vra ’n visie vir ’n nuwe toekoms en ’n bereidheid om hard te werk.

God sal ons nooit verlaat nie – veral nie op die pad na die lewe vol belofte en voorspoed wat Hy vir ons in gedagte het nie.

Wees eerlik oor sake tussen julle. Spreek dit wat verkeerd is aan om so die mooi wat God vir julle beplan te ontvang.

Here, ons is dwalend deur die woestyn. Ons roep na U. Help ons om by u beloofde land uit te kom. Amen

Duet

Подняться наверх