Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 64

27 Februarie

Оглавление

Die huwelik is heilige grond

Jesaja 54:17 – “Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here. Aan hulle laat Ek reg geskied,” verklaar die Here. (NLV)

Die huwelik is vir God heilige grond. Die bose probeer ongelukkig ook daar diep vernielspore trap.

Die band van vertroue en sekerheid tussen ons en ons huweliksmaat word dikwels deur konflik en vrees uitgerafel. Onsekerheid is gewis ’n magtige wapen teen enige verbintenis.

Jesaja praat hier oor God se houding teenoor sy kinders in tye van blootstelling. Ook binne die huwelik beleef ons soms sulke aanvalle. Gelddruk, verslawing en siekte is maar van die knelpunte wat ’n verhouding diep kan toets.

Verskuif jou fokus vanaf die bedreiging na God se karakter. Dikwels is die uitdaging nie iets wat vinnig sal weggaan of verdwyn nie. Dis dalk nie iets waaroor julle onmiddellik beheer het nie. Hou in sulke tye jul oë op Hom gerig, terwyl die krisis of uitdaging homself uitspeel.

Uithouvermoë speel ’n deurslaggewende rol. Ons verloor maklik hoop wanneer ons nie die einddoel kan sien nie. Hier gee God dit reeds duidelik uitgespel: “Aan hulle laat Ek reg geskied.” Die oplossing sal dalk nie uitspeel soos jy gedink het nie, maar die uitslag in die groter prentjie sal in jou guns wees.

Dit bly ’n geweldige uitdaging om nie God se wil met ons eie persoonlike tydlyn te verwar nie. En in sommige situasies is daar gewoon net nie nou ’n antwoord op die vraag wat ons vra nie. Fokus net op wie God is en rig jou emosies volgens sy Woord.

Fokus ek genoeg op die karakter van God?

God van vandag, laat my sien wie U is en rig my hoop op u karakter. Amen

Duet

Подняться наверх