Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 61

24 Februarie

Оглавление

Elke nuwe seisoen bring seën

Psalm 33:21 – Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons.

Skaars ’n week het verloop sedert ons ons jongste by die koshuis by die universiteit afgelaai het. Ons kon hom vir oulaas die Sondagoggend sien voordat ons vlug terug noordwaarts oor middagete sou vertrek.

Hy het ons ewe braaf, met nuutgevonde selfvertroue en ’n grootmeneer-houding, onbeskaamd om die nek geval en gegroet. My kind is gelukkig en opgewonde oor die nuwe avontuur, dink ek toe ek en Johan straataf ry.

Ek wou nog omkyk, maar weerhou my daarvan. Ek onthou Johan se waarskuwing: “Onthou, dis hoe jý as ma dit hanteer wat dit vir hom maklik of moeilik gaan maak om afskeid te neem.”

Terug by die huis is die eerste paar dae ondraaglik stil en lê die verlange na my kind soos ’n stuk lood in my hart. Ek vermy dit om by die deur van sy kamer in te loer wanneer ek daar verbyloop. Ek mis die lang lyf agter die lessenaar, die hardloopskoene en skooltas wat rondlê waaroor ek so dikwels moes praat. Die kamer is nou stil en netjies. Dis nie net ons wat verlang nie. Polo, ons ou labrador-reun, hardloop dadelik na sy basie se kamer as hy kans kry om in die huis te kom. Teleurgesteld draai hy maar om en gaan soek hom elders …

Is jy en jou maat op ongekende terrein as dit by die kinders kom? Dalk ’n nuwe baba of kleuter wat skool toe gaan? Staan saam, deel jou hart, vertrou op God en dank hom vir dié nuwe seisoen vol uitdagings én seën.

Here, help ons om die nuwe lewensfase in ons gesin te omhels en saam met U die uitdagings van ’n ongekende seisoen aan te pak. Amen

Duet

Подняться наверх