Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 58

21 Februarie

Оглавление

’n Paradys van kennis!

Spreuke 13:16 – Alles wat ’n verstandige mens doen, word met kennis gedoen.

Die kennisgewing van die uitverkoping kom per e-pos. Ek word deur ’n bekende boekwinkel na hul jaarlikse pakhuis-uitverkoping genooi. Die tydsberekening is perfek, die uitverkoping begin dieselfde dag as wat die skole vir die lang wintervakansie sluit. Ek laai summier die seuns by die skool op om saam te kom. Albei is ontsettend lief vir lees en sonder ’n boek in die hand betrap jy hulle nie sommer nie. Veral nie in die vakansie nie!

Die pakhuis waar die boeke uitgestal word, is massief. Daar is rak op rak en ry op ry boeke. Stapels boeke staan oral in die gangetjies tussen die rakke rond. Nie een van ons het al ooit soveel boeke op een slag te koop gesien nie. En die prys! Ons kan koop teen R50 per kilo. Voornemende kopers kry elk ’n groot leë kartonboks wat op ’n plat trollie gelaai word wat maklik tussen die rakke rondgestoot kan word.

Dis ’n boekeparadys. Ons kuier sommer ’n hele paar uur tussen die rakke. Daar is boeke te kies en te keur, van fiksie tot niefiksie, romans tot resepteboeke. En ons laai in!

Die volgende oggend keer ons terug na die pakhuis vir ’n volgende rondte kopies, dié keer kom Johan ook saam. Nog nooit kon ons soveel boeke op een slag koop of bekostig nie.

By die huis aangekom, is die boeke eers ’n paar dae lank op die eetkamertafel uitgestal om te bewonder voor ons dit op die boekrak wegpak.

Ons leef in ’n elektroniese era. Moenie toelaat dat videospeletjies en selfone jul en jul kinders se lewe beheer nie.

Here, dankie vir die wysheid en kennis waarmee U ons ook deur u Woord seën en lei. Amen

Duet

Подняться наверх