Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 60

23 Februarie

Оглавление

Sit en staan, is niks gedaan

Spreuke 14:23 – Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.

Ná die lang somervakansie is dit tyd om terug te keer huis toe. Die nuwe jaar het begin en allerlei verpligtinge wag. Ons pak die lang pad Noorde toe aan met ’n sleepwa vol wasgoed. Daar is die beddegoed wat saamgery is, handdoeke, klere, swembroeke en meer. Bondels vol wasgoed!

By die seehuis was ons sommer met die hand. Hier is die eenvoud van alles self doen terapeuties. By die huis is dit ’n ander saak. Nou word die tasse leeggemaak en staan daar hope wasgoed die kombuis vol. Ma sorteer solank die wit, donker en gekleurde bondels. Die klam gebruikte handdoeke word opgestapel teen die oorkantste muur en die beddegoed gebêre vir heel laaste.

Ons liewe huishoudster is self nog met vakansie. Dit neem ’n paar dae om deur die wasgoed te worstel. Ons maak beurte om die masjien te laai en die wasgoed aan die styfgespande lyn in die agtertuin te hang. Dit voel of ons nooit deur die berge wasgoed gaan kom nie. Maar soos met alles wat geduld en deursettingsvermoë verg, wapper die laaste bondel spierwit beddegoed einde ten laaste in die warm Januarieson en gee ons ons aan die plesier van niksdoen en die reuk van skoon wasgoed oor.

“Was Doratjie jou wasgoed by die koshuis, Seun?” vra ek ons jongste nadat hy ’n paar weke vir die eerste keer op universiteit is. “Ag nee wat, Ma, ek doen dit sommer self!” kom sy antwoord.

Maak kinders van jongs af deel van die uitvoer van take in die huis. Moenie daarvan wegskram om hulle te laat saamwerk nie. Stel ’n voorbeeld wat hulle lewenslank sal bybly.

Here, help ons om ons kinders te wys dat hardwerkendheid edel is en deursettingsvermoë altyd beloon word. Amen

Duet

Подняться наверх