Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 66

29 Februarie

Оглавление

God ken sy planne

Jeremia 29:11 – “Ek weet wat ek vir julle beplan het,” sê die Here. (NLV)

Ons vier nie net Francois se 22ste verjaardag nie, maar ook ’n geseënde lewe, veilig in die holte van die hand van die Vader. Hoe gou het die tyd nie verbygegaan nie. Hy was anderdag nog ’n klein kannetjie met krulhare en dimpels. Nou is hy ’n groot man besig om vir dokter te leer.

Oor ontbyt dank ons die Here vir sy lewe, vir die jong man wat hy is, vir die seën wat hy ons bring. Ons standvastige, liefdevolle kind. Maar ek kan nie help om vandag, op die viering van sy geboortedag, te dink aan die tyd, nie so lank gelede nie, wat ons hom amper verloor het nie.

Hy was in die middel van graad 11, dié skooljaar waarin kinders groot besluite oor hul toekoms moet neem, toe hy in die hospitaal opgeneem is met ’n gebarste blindederm. Vir meer as tien dae het ons kind in die intensiewesorgeenheid geveg om sy lewe.

Ek en Johan het ons dae langs sy bed en in die wagkamer voor die eenheid deurgebring. Biddend, smekend dat God hom vir ons moet spaar. Toe hy uiteindelik ontslaan is, het ons kind nie net maer en bleek huis toe gekom nie, maar ook met ’n nuwe wete en diep vasberadenheid wat hy met die res van sy gespaarde lewe wil doen. Dié tyd in die hospitaal het aan hom gewys hy wil ’n dokter word.

Gee jul toekoms in die hand van die Vader oor. Bid saam oor dit wat God vir julle as gesin en huweliksmaats in gedagte het. Onthou, God is goed en getrou.

Here, u Woord sê dat U vir ons ’n toekoms beplan, voorspoed en nie teenspoed nie. Laat ons veilig in dié wete rus. Amen

Duet

Подняться наверх