Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 74

7 Maart

Оглавление

Waarom wegkruip vir uitdagings?

Romeine 8:37 – Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. (NLV)

Balans het sekerlik iets met deursettingsvermoë te doen. Ek het onlangs maar eers die uitdagings begin aanneem waarmee ek nie van nature goed is nie. Van leer, swem en tuinmaak weet ek iets, skynbaar so gebore in die plan van God. Van kleins af druk ek takkies in die grond en raak opgewonde oor die eerste nuwe blaartjies. ’n Boek is nog altyd my vriend en water pas my lyf goed.

Een middag dwaal ons in die strate van Jerusalem se ou stad en ek sien ’n plakkaat vir die Jerusalem-marathon. Daar en dan besluit ek om die halfmarathon volgende jaar te kom hardloop. “Is jy ’n drawwer?” vra ’n reisgenoot. Glad nie, maar ek gaan begin. Die Vader het seker breed geglimlag!

En daar begin die grootste uitdaging van my lewe. Ek is skynbaar toe nie ’n natuurlike drawwer nie, want ek sukkel maande lank. Dit word stadig minder sleg, maar van lekker is daar nie sprake nie. Baie soos die lewe, spot ’n ernstige vriend. Maar ek byt vas, want hierdie aktiwiteit wil ek wen.

Met die Jerusalem-verbintenis voltooi, gaan draf ek een oggend deur die strate van my eie woonbuurt. En op ’n stil en gewone Dinsdag terwyl mense koffie drink en kinders aantrek vir skool gebeur dit: Ek ontdek die vreugde van hardloop, want hardloop wen jy nooit. Jy hou net aan hardloop. Baie soos die lewe, hoor ek die vriend se stem eggo.

Watter uitdaging in my lewe vermy ek?

Vader God, maak my oë oop vir daardie uitdagings wat my nader aan U bring. Amen

Duet

Подняться наверх