Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 75

8 Maart

Оглавление

Laat God jul tuiste afrond

Spreuke 24:3-4 – Met wysheid word ’n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou. Kennis is nodig om sy kamers te meubileer met allerhande kosbare en waardevolle artikels. (NLV)

Vandat die seuns klein is, ry ons fiets. Ons al vier kan dit baasraak tussen die lae spiertonus wat ons gene kniehalter. Soos die tienerjare ons seuns oorval met testosteroon en slegte buie, woed hulle dit uit in ’n kragmeting met hul pa. Fietsry is nie meer op en af ry teen die spruitwalle in ons buurt nie, want daar is nou tegnologie wat ons in tyd en krag teen mekaar meet.

Sulke tye raak Christine verlore tussen die stof, modder en bloed. Sy doen haar bes om deel te bly, maar die adrenalienstryd en wildheid raak te veel vir haar ma-hart en -senuwees. Dis teen die wal van ’n stofbank waar ons drie manne een middag sit en wonde lek dat ons die gesprek oor groter seuns en hul ma’s moet hê.

So tussen die ratte, wiele en geskaafde elmboë leer hulle van manwees teenoor vrouwees, van tee drink en gesels oor kuns. God het ons so gemaak, so anders, so ver van bekend, maar onlosmaakbaar deel van mekaar. En net soos Mamma vir jare saam al die manne-goed gedoen het, moet ons nou die vrou in ons lewe eer.

Ek kyk terug na ons emosionele huis en sien God se hand in die afronding daarvan. Die fynopgevoede vrou wat bestof die pad op fiets agter drie manne aan volg, versamel kosbaarhede vir haar hart. En dan drie doodgewone manne wat nou kan kook, tafel dek en ’n fantastiese koppie tee maak.

In watter dele van my lewe kan ek verder groei?

Vader, gee my die insig om my maat as individu te eer en die lewe te vier wat ons deel. Amen

Duet

Подняться наверх