Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 78

11 Maart

Оглавление

Meer stilte, minder stres

Psalm 37:5 – Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. (NLV)

Stres ontstaan wanneer die tyd te min is vir die taak wat voltooi moet word, so sê ’n suksesvolle sakeman in my spreekkamer. En hy verduidelik hoe hy allerlei planne beraam om meer tyd te hê om sy doelwitte te bereik. Wat hy nie in gedagte hou nie, is dat die mens nog nie die vermoë ontwikkel het om meer tyd te skep nie. Daar is gewoon net soveel uur in een dag en dis die bestuur van daardie tyd waarin die antwoord lê.

In hierdie psalm gee God ’n duidelike leidraad tot minder stres. Êrens in jou dag moet jy genoeg tyd inruim (dus, tyd wegneem van ’n ander aktiwiteit) om tyd deur te bring in sy heilige teenwoordigheid. Dit is wanneer jou gees vernuwe en die fokus vir jou dag herskryf word.

Verlede jaar ontmoet ek in Nashville ’n Amerikaanse psigiater wat sy liefde vir God wetenskaplik uitleef. Sy navorsing bevind dat ’n groep ouer toetslinge se breinkapasiteit verhoog het nadat hulle vir twee weke elke dag 12 minute lank gefokus het op die karaktereienskap van God as liefdevolle Vader. Hul geheue is blywend verbeter, hul fokus is skerper en hul gemoed meer positief.

Deur tyd aan God-stilte af te staan kan jy dus jou stresvlakke verminder. Vir die meeste werkende, aktiewe mense is selfs net die blote gedagte aan ritualistiese stilte stresvol! Sluit ’n ooreenkoms met jou maat en begin met 5 minute elke dag van stilte, geen lees, geen musiek, geen praat. Net jy en jou Skepper. Fokus op God as liefdevolle Voorsiener. Daar is weinig om te verloor.

Wat keer my om stil te raak? Aanvaar die uitdaging!

Liefdevolle Vader, openbaar Uself aan my in my stilte. Amen

Duet

Подняться наверх