Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 77

10 Maart

Оглавление

Pret werk soos wondergom

Prediker 3:12 – Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.

“Kom ons hou nou op werk en gaan hou piekniek op die strand,” kondig Johan skuins voor middagete aan, terwyl hy die piekniekmandjie uit die kas haal. “Dis nou genoeg vir een dag. Kyk net hoe mooi is dit buite.”

Ons twee kuier by die seehuis om te skryf. Ons spertyd is om die draai en die kalf so te sê in die put. Ek self sou graag eerder nog bietjie wou werk, maar daar is twee partye in hierdie vennootskap. “Ek sit solank die wyn in die vrieskas,” sê Johan, terwyl ek repies groente sny. Ek pak sommer wat voorkom – olywe, kaas en bloedrooi kerstamaties saam met groentestokkies en ’n houertjie gegeurde roomkaas. My man is haastig!

Onder op die strand is dit windstil. Ons stap seelangs tot ver anderkant die windkous waar Johan die hoogste duin as ons piekniekplek uitwys. Hy en Tinder, ons bruin labrador, is reeds draf-draf die duin uit toe ek bo kom. Ons maak ons sit hoog bo die see en kyk uit oor die verste einder van die oseaan waar ’n groot skip geanker lê.

“My gunstelingplek in die hele wêreld,” sug Johan tevrede. Ons skink ’n glasie wyn en sit saam oor die mooi van alles om ons en staar. Vir lank bly ons so sit. “ ’n Mens kan nie werk sonder inspirasie nie,” sê Johan toe dit tyd raak vir omdraai huis toe.

Sorg vir balans tussen werk en rus. Maak tyd vir pret en plesier. Dit is soos wondergom vir die huwelik in tye van druk.

Here, dankie vir stilhouplekke langs die lewenspad wat ons weer inspireer en moed gee. Amen

Duet

Подняться наверх