Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 81

14 Maart

Оглавление

Kommer is ’n doodloopstraat

Deuteronomium 31:6 – Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie. (NLV)

Die slagtande van bekommernis het eers werklik aan my begin knaag toe ek in ernstige verhoudings betrokke geraak het. So met die huwelik, ouer- en grootouerskap oortrek ’n kommervlaag soms my gees.

Dis ’n groot uitdaging om met ouers te werk wie se kinders geen goeie prognose op herstel het nie. Dis asof ek hul skaduwee deel en dit dan oorskuif na my eie bekommernisse oor my kinders se toekoms. ’n Ouerhart skakel mos nie af nie. Daar kom ’n tyd waarin die lewe hulle sal moet leer, so beraad iemand my vanuit die bank in my spreekkamer.

Ek bedink hierdie insig en besluit dit is aanneembaar. Want of jy nou oor jou kinders, ouers of honde sit en tob, geen vooruitgang sal gebeur deur negatiewe afwagting nie. ’n Wyse vriendin reken bekommernis is soos om vir die slegste gebeure te bid. Sy is inderdaad reg. Ouers behoort saam te bid vir positiewe uitkoms in hul kinders se lewe, eerder as om in vrees te sit en bewe. Ons kan natuurlik nie ander se keuses vir hulle maak nie. Die liefde sal hier maar moet oorwin, soms selfs reghelp en rig.

Verhoudings bly die grootste groeigeleenthede in mense se lewe. Dit is die kosbaarste hoeke van God se hart omdat Hy so graag ’n verhouding met ons soek. Hy is ons voorbeeld van hoe om verhoudings te bestuur, geduldig en in liefde, vas in die wete dat Hy in beheer is en bly.

Hoe kan ek my verhoudings bestuur sodat God verheerlik word?

Jesus Christus, wees en bly my rolmodel vir verhoudings in my lewe. Amen

Duet

Подняться наверх