Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 73

6 Maart

Оглавление

Wil jy reg of gelukkig wees?

Spreuke 25:28 – Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ’n stad sonder ’n muur wat beskerming bied. (NLV)

Balans kom nie vanself nie – nie vir kindertjies nie, en skynbaar ook nie vir grootmense nie. Soos die kleintjies met onseker treetjies vorder, so lyk die stadige groei na balans dikwels ook in ons lewe.

In die huwelik is verhoudingsbalans kritiek. Die twee mense verskil inderdaad in vele opsigte, en dit is heel dikwels ’n ewige bron van konflik. Vra paartjies maar wanneer hul konflik begin het. Die antwoord is dikwels: Dit was maar so van die begin van die verhouding af.

Die meeste mense is gewoonteslawe. Aangeleerde gedrag kom meestal van ouers af, wat impliseer dat ’n persentasie goed én sleg saamkom na die nuwe verhouding. Gewoonlik word die nuwe lewensmaat dan as die uitdager van hierdie gedrag ervaar, want daardie maat kom met sy of haar eie stel aangeleerde goed en sleg.

God het ’n duidelike plan met die huwelik: Elke individu kan hierdeur groei tot ’n beter weergawe van hom- of haarself. In ’n gesonde huwelik word sulke geleenthede gesien as groeikanse. In die meer uitdagende verhouding is dit bronne van konflik. Die magstryd om jou maat te verander kan die doel van die verhouding word. Die Goddelike doelwit van die huwelik raak dus verlore in die stryd om reg te wil wees.

Vra jou af: Wil ek reg of gelukkig wees? As ons wil reg wees, gaan daar konflik wees. Die stad se muur gaan afwesig wees en die verhouding is kwesbaar. Geluk bring die uitdaging van samewerking, en dikwels ’n kompromis. Maar hierdie stad staan veilig.

Wil ek reg of gelukkig wees in my huwelik?

Heilige Gees, rig my denke en my wil na die diep behoefte aan geluk met my maat. Amen

Duet

Подняться наверх