Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 79

12 Maart

Оглавление

God kom eerste, geld tweede

Psalm 39:7-8 – Die mens is net ’n bewegende skaduwee. Al sy gejaagdheid is tevergeefs: Hy versamel rykdom, maar weet nie wie dit gaan gebruik nie. Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop. (NLV)

Ons leef in ’n kapitalistiese samelewing. Die kerk of staat regeer lankal nie meer die wêreld nie, want geld is die grootbaas. Dit help ook nie dat ons in ontkenning daarvan leef nie, want binne hierdie sisteem moet ons die balans vind wat God van ons verwag. Ons moet egter ook betekenis vind in hierdie tyd van die wêreldgeskiedenis wat God gekies het dat ons sou leef.

Êrens in die dolle gejaag moet ons daarna streef om in ons verhouding met God opreg te bly – ook, en veral, in ons huwelik. Dis binne die huwelik dat ons waargeneem word soos nêrens anders in ons lewe nie. Daardie persoon is meestal daar en sien die beste en die slegste van ons lewe. As hierdie verhouding veilig is, kan dit daartoe lei dat groot en betekenisvolle groei in die individu plaasvind. As die verhouding primêr onveilig is, word die stres van verhoudingskonflik onuithoudbaar groot.

Een van die doeltreffendste maniere om jou finansiële doelwitte gegrond te hou in Christus, is om gereeld hierdie gesprekke met jou lewensmaat te hê. Dis hier waar ons toets of ons nog op die regte spoor is. Hou kritiek liefs buite hierdie gesprekke. Fokus op ondersteunende en positiewe opmerkings wat jou maat se gedrag opbou, eerder as afkraak. Bid as paar saam oor jul doelwitte en uitdagings oor geld – dit verander die inhoud van jul gesprek onmiddellik na ’n belewenis saam met God.

Is God die hoof van my (en ons) geldsake?

My God wat alles in my lewe voorsien, ek staan in dankbaarheid vir die voorsiening in my lewe. Amen

Duet

Подняться наверх