Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 69
2 Maart
ОглавлениеMoenie jou laste saamsleep nie
Matteus 11:30 – “My juk is sag en my las is lig.”
Die restaurantjie aan die oewer van die Visrivier is bekend vir sy lekker seekos. Die plek is onopgesmuk en met blou-en-wit geruite tafeldoeke versier. Twee jong vriende van Johannesburg kuier by ons.
Ná die ete is dit tyd om op die strand te gaan stap. Dis bewolk, maar nou en dan skyn die son flouerig deur die wolke. Ons loop ver, verby waterpoele en oor die wit duine. Lizl wil graag van die groot wit skulpe wat hier so volop rondlê, optel. Ons stap tot by ’n laagtetjie waar die skulpe wit en blink tussen die klippe teen die sand lê.
Met ’n sak vol skulpe draai ons om huis toe vir koffie en iets soets. Aan die voet van een van die duine lê ’n pragtige stuk dryfhout. Grys gebleik deur die son en skoongewas deur die gety. Ons predikervriend tel die stuk hout sommer net daar en dan op toe hy sien hoe ek dit bewonder. Hy gaan dit vir ons saamdra huis toe.
Die stuk hout is swaar, maar hy kla nie en dra dit heelpad oor sy skouer huis toe. Elke nou en dan kyk ek om om te sien of hy nog oukei is. “Jy kan dit regtig maar neersit!” sê ek later. “Nee, wat,” antwoord hy, “die stuk hout herinner my aan al dié laste wat ons met moeite saamdra en nie voor sy voete wil neersit nie.”
Vir die laaste deel van die pad stap ons in stilte huis toe.
Skryf ’n lys van al jul bekommernisse neer op ’n stuk papier.Lê dit aan die voet van die kruis neer en onthou Jesus se woorde.
Here, laat ons ons laste aan u voete neerlê en nie self ons probleme probeer oplos nie. Amen