Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 70

3 Maart

Оглавление

Hy skep kuns uit splinters

Openbaring 21:5 – Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

’n Vriendin wat mosaïeklesse gee, nooi my en Johan om een van haar Saterdagklasse by te woon. Onder ’n afdak buite is alles wat nodig is om mee te werk reeds uitgepak toe ons opdaag. Van die kleinste teëltjies tot die spesiale sement waarmee ons ons kunswerk moet afrond.

Johan besluit op ’n ontwerp in geel, grys en ander aardse ondertone van ’n akkedis, terwyl ek ’n vrolike blompatroon teen ’n helderblou agtergrond kies. Dit neem ure om ons kunswerkies te voltooi en ons is eers laatmiddag, hoogs ingenome met ons handewerk, huis toe.

Kort voor lank kom Johan een Vrydagmiddag by die huis aan met gereedskap vir mosaïekwerk by die huis. Dié Saterdag dra ons ’n tafel buitentoe waaroor ons ’n groot plastiekseil gooi en al die gereedskap op uitpak.

Die seuns, toe nog klein, kry elkeen ’n vierkant om te versier. Christoff kies ’n maan en sterre, terwyl Francois ’n hondjie aanpak. Hulle werk met groot konsentrasie en lomp seunsvingers om iets uit die gebreekte stukkies teëls te kan skep. Uit die flenters porselein van ’n kosbare blou-en-wit vaas uit Singapoer, wat deur een van die seuns in ’n wilde jaagtog deur die huis omgestamp is, skep ek en Johan ’n voëlbak vir die tuin.

Toe ons jare later na ’n ander blyplek verhuis en die seuns al groot is, kry elk van hul kunswerkies ’n spesiale hangplek teen ’n buitemuur en dartel bruingrys tuinvoëls steeds soggens met die eerste oggendlig in die water van die voëlbad van gebreekte porselein.

Erken jou gebrokenheid. Vra God om jou en jou maat se seerkry en stukkend wees tot sy eer te gebruik.

Here, dankie dat U heelmaak en nuutmaak, en lewende kunswerke uit splinterstukkies skep. Amen

Duet

Подняться наверх