Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 82

15 Maart

Оглавление

Klein tye van groot geluk

Matteus 6:27 – Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? (NLV)

Uitdagings is deel van die lewe. So glo ek as sielkundige ná baie jare in my stoel. Ek sien daagliks die skaduwee van planne wat nie uitwerk nie, gebeure wat die rigting van mense se lewe verander.

Ons jongste kuier uit Stellenbosch vir tien dae. Ek geniet die bederf van al die kuikens op hok. Aan die einde van die lekkerte is Christine weg Namibië toe, Ouboet lei kinderkerk by sy eie plek van aanbidding en ek en kleintjie wil die diens in ons eie hawe bywoon. Maar vanoggend haak die motor van die voorhek vas.

Ons kom darem daar uit, skuifel halfpad vorentoe in en bedaar soos die prediker uit Kaapstad sy keel skoonmaak. Hy lees van die dissipels op die skuit. Hy vertel van Jesus op die klipperige strand van die see van Galilea en die uitnodiging om anders te vis. Geen nodigheid vir ’n ander boot of see nie, net ’n perspektiefskuif na die ander kant.

Ná die diens drink ons koffie. Al die tannies druk my mooi kind. Hy verduur dit en glimlag oor die liefde vir iemand wat hulle lanklaas gesien het. Ons ontmoet sy broer vir manne-middagete. In die motor gesels ons altyd maklik, min oogkontak en verpligte betrokkenheid, soos toe hulle as klein seuntjies vuil en moeg saamgery het huis toe ná sport.

“Dink jy dis hoe dit is?” vra hy op ons min-woorde-manier. “Ja,” sê ek, “ek dink so.” “Is jou lewe ook so?” vra hy. “Dit is, Seun, meestal is die lewe moeilik, maar daar kom beslis tye van groot geluk.” “Soos nou,” sê hy. Ek antwoord nie, want my keel is dik.

Hoeveel tyd staan ek af aan bekommernis?

Vader, laat ek my bekommernisse by U laat sodat ek voluit kan leef. Amen

Duet

Подняться наверх