Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 68

1 Maart

Оглавление

Hy is altyd daar vir jou

1 Petrus 5:7 – Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

Vriendin Truida laat weet haar man is klaarblyklik met ingewandskoors in die hospitaal in Dar es Salaam opgeneem. Hy is die afgelope paar maande reeds werksaam in Tanzanië, waarheen hy vroeër vanjaar deur sy werkgewer, ’n groot bankgroep in Suid-Afrika, verplaas is.

Net ná Nuwejaars vertrek hy om vir hulle ’n woonplek te gaan soek, ’n skool vir die dogters te vind en om daar te begin werk. Truida en hul twee dogters bly vir eers in Suid-Afrika agter totdat hul huis verkoop en alle reëlings vir die groot skuif afgehandel is. Ons deel die afgelope paar maande as vriende op die buitekring van hul gesinslewe die proses van wortels uittrek en verhuis na ’n onbekende bestemming ver van dit wat bekend is.

Om te verhuis na ’n vreemde land is nie maklik nie. Ten einde laaste is die huis en motors verkoop, blyplek vir die honde gevind en Truida en die dogters amper op pad. Op die vooraand van hul vertrek kuier sy en die kinders vir oulaas saam met haar ouers in die berge waar sy die nuus van haar man se siekte hoor. My hart gaan uit na haar (én hom) toe ons die oproep kry. Hoe magteloos moet sy nie voel as sy dink aan haar man in die hospitaal nie! Hoe alleen moet hy nie voel nie.

Maar in my gees hoor ek weer Petrus se woorde aan die gelowiges in Klein-Asië wat sê: “Werp julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” En hieraan troos ek my.

Gee jou bekommernisse oor aan Hom. God is getrou en sorgsaam, veral in tye van nood.

Here, daar is soveel dinge waaroor ek my bekommer. Dankie dat U altyd daar is vir ons. Amen

Duet

Подняться наверх