Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 65

28 Februarie

Оглавление

Stilte in die storm

Matteus 8:26 – Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.

Dis vandag besonder winderig. Die turkooisblou water is gespikkel met wit seeperdjies. Die see raak rof en onstuimig. Elke nou en dan ruk die wind verbete aan die houtvensterrame van ons huisie by die see.

Tydens my stiltetyd vanoggend kom ek weer af op die bekende gedeelte waar Jesus die storm stilmaak op die see. Dit laat my gedagtes dwaal na Galilea. Daar waar dit werklik gebeur het.

Deel van ons toer na Israel is om ’n paar dae in Tiberias deur te bring en ’n bootrit op die see van Galilea te onderneem. Ons sorg dat ons bootrit laatmiddag begin, sodat ons teen sonsondergang in die middel van die meer anker gooi. Dit bly vir my van die mees spesiale tye van ons besoek aan die Heilige Land. Sonder uitsondering daal ’n heilige stilte oor die groep neer sodra die enjin se gedreun finaal bedaar.

Nou is slegs die rustige geklots van die water teen die romp van die houtboot hoorbaar. So sit ons woordeloos, meestal diep in gebed en verwondering oor die wonder van ’n storm wat op die plek met die spreek van ’n paar woorde stilgemaak is, daar in die middel van die meer.

Dis ook hier waar ons keer op keer God smekend vra om die storms in ons eie lewe tot stilte te verklaar. Vir lank bly ons so in die vrede van die stilte sit.

Vandag roep my hart na die heiligheid van Galilea.

Glo jy werklik dat God die storms in jou lewe kan stilmaak? Of is jy kleingelowig en bang soos die dissipels op die boot?

Jesus, om en in my storm, kom en bedaar ook dié wind en stormsee. Amen

Duet

Подняться наверх