Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 57

20 Februarie

Оглавление

Koester jou kinders

Psalm 37:3 – Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.

Francois, ons oudste, moet klas draf en kan dus nie saam met Ma en Pa tussen die twee langnaweke wegbreek see toe nie. Hy studeer vanuit die huis en geniet dit wanneer ons so nou en dan die pad vat en hy die huis vir homself kan hê. Dan word daar gekook en gekuier en wéét ek sommer die twee honde wat gewoonlik by die huis agterbly, lê permanent by hom op die bed.

Vir die tweede deel van ons kort vakansie bederf ons hom met ’n goedkoop vliegkaartjie Oos-Londen toe. Dis winderig en koud toe ons hom op die lughawe oplaai. Almal is ewe bly om mekaar te sien. Tinder, die bruin Labrador, kan nie glo haar basie is ook nou hier nie. Ons ry al geselsend met die kronkelende kuspad tot by ons blyplek. Soos ’n opgewonde kind, lys Francois alles wat hy graag die naweek by die see wil doen. Die lysie is lank. So min tyd, so baie dinge om te doen! Die weervooruitsigte vir die naweek word in detail bespreek. Môre gaan die son skyn!

Toe ons by die huis kom, is dit al stikdonker. Net die maan verlig die klipperige paadjie na die agterdeur. Terwyl ek aandete maak, gaan lê ons kind met ’n boek op die rusbank teen die venster soos sy gewoonte hier is by die strandhuis. Ek glimlag en bekyk die prentjie van rustigheid vanuit die oop kombuis. Dis lekker om tussen jou mense te wees.

Jou gesin is jou skans teen die wêreld daarbuite. Moet nooit die koestering hiervan as vanselfsprekend aanvaar nie. Gee mekaar jul liefde en ondersteuning.

Here, dankie vir die koestering wat my gesin my bied. Amen

Duet

Подняться наверх