Читать книгу Duet - Johan Ferreira - Страница 56

19 Februarie

Оглавление

Ons wag op ’n baba

Genesis 33:5 – Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”

“Die baba is gisteraand halftien gebore!” laat weet ’n vriendin oor die koms van ’n gesamentlike vriendin se kleinding. Ek kan net dink hoe hoog die vreugdevure vanoggend daar in die hospitaal brand. Dis reeds twee weke ná die berekende datum van geboorte. Vir dié baba is daar lank gewag en báie gebid.

Ons pragtige vriendin, met die sagte hart vir afvlerkvoëls en mense wat swaarkry, is ’n paar jaar gelede met die liefde van haar lewe getroud. Die plan was om nie te lank te wag voor hulle met ’n gesin sou begin nie, aangesien albei van hulle reeds in hul middeldertigerjare was. Sonder dat ons daarvan geweet het, het die paartjie die een baba ná die ander sommer vroeg in die swangerskap verloor. Die gedagte van aanneming het selfs ter sprake begin kom.

Einde verlede jaar neem ons talentvolle vriendin die besluit om haar werk te bedank om te kyk of ’n rustiger leefstyl nie dalk sou bydra tot ’n suksesvolle swangerskap nie. Soos die Here wil, was sy kort daarna weer swanger. Dié keer het sy swanger gebly.

En nou, ná alles wat hulle deurgemaak het, is die kleinding, ’n dogtertjie uit God se hand, gisteraand gebore. My hart sing vir my vriendin. Ek eer haar diep geloof en hoe sy blý vashou het aan God te belofte, ten spyte van die seer.

Voel dit of julle tevergeefs vir die koms van ’n baba wag? Lees weer die verhaal van Abraham en Sarah, en van Jakob. Hou goeie moed. God is getrou.

Here, dankie vir die wonder van nuwe lewe en beloftes wat tot vervulling kom. Amen

Duet

Подняться наверх